Hans Küng: Sy reis met die kerk en stryd om vernuwing

Die vermaarde Duitse teoloog Hans Küng het onlangs op die ouderdom van 93 gesterf. Leopold Scholtz kyk na wat sy bydrae so besonders maak.

Hans Küng was ’n aartsvoorbeeld van iemand wat weens ’n diep lojaliteit aan ’n instelling – in sy geval die Katolieke Kerk – gerebelleer het. Sy strewe om die Kerk te moderniseer het hom behoorlik na aan die gematigde Protestantisme gebring.

Küng is in 1928 in die Switserse Luzern gebore, maar het die grootste deel van sy professionele loopbaan as hoogleraar in die ekumeniese teologie aan die Universiteit van Tübingen deurgebring. Hy was maar 32 jaar oud toe hy dié aanstelling gekry het.

Een van die grootste invloede op hom was die groot gereformeerde teo­loog Karl Barth, oor wie hy sy doktorale proefskrif geskryf het. Dit was ’n krag­tige dryfkrag in sy latere ekumeniese oortuigings, dat geen enkele kerk op die volle waarheid aanspraak kan maak nie. En uiteindelik het hy ook waarheidsmomente in ander godsdienste ontdek.

LEES OOK: Kyk: Paasfees dui op ’nuwe lewe in oorvloed’

Een van die boeke wat hy daaroor geskryf het, Christ sein (“Christenwees”), het ’n groot invloed op my gehad. Hy maak dit op ’n baie nugter en gematigde wyse aanneemlik dat die Jesus Christus van die Evangelies nie só ver van die historiese Jesus van Nasaret staan nie, al erken hy dat die vier Evangelieskrywers “betrokke en betrekken­de” (engagiert und engagierende) skry­wers was wat primêr ’n heilsboodskap wou verkondig.

Hy maak ook die punt dat ons eintlik baie meer weet van Christus se lewe as van mense soos Mohammed of Boeddha.
Die boodskap het hy herhaal in sy boek Existiert Gott? Antwort auf die Gottesfrage der Neuzeit (“Bestaan God? Antwoord op die Godsvraag van die huidige tyd”), waarin hy skerp kritiek op die Kerk uitgespreek het. Hy het sy pyle gerig op die streng hiërargiese Roomse kerkstruktuur, waar die Pous en kardinaals ’n byna militêre dissipline handhaaf, onder meer deur die “valse” leer dat die Pous se dogmaties-teologiese uitsprake “onfeilbaar” is.

Hy het ook beswaar gemaak teen die selibaat en die verbod op die vrou as priester.

Dit het daartoe gelei dat die uiters konserwatiewe pous Johannes Paulus II Küng se onderwysbevoegdheid in 1979 namens die Kerk gekanselleer het. Die direkte aanleiding was nog ’n boek van hom – Unfehlbar? – Eine Anfrage (“Onfeilbaar? ’n Vraag”).

Later het hy dié proses kwessie beskryf as “die vier slegste maande in my lewe, wat ek selfs my mees verbitterde teenstander nie toewens nie”.

Omdat Küng in diens van die Universiteit van Tübingen was, en nie van die Katolieke Kerk nie, kon dit hom nie keer om verder lesings aan te bied nie, maar dan nie met die gesag van die Kerk agter hom nie.

Ná sy aftrede, in 2009, het Küng sy persoonlike geloofsbelydenis in die boek Was ich glaube (“Wat ek glo”) gepubli­seer. Daarin betuig hy respek vir ander gelowe, soos die Boeddhisme, die Islam en Confucianisme, maar hou hy niete­min aan sy geloof in Jesus Christus vas.

Johannes Paulus se opvolger, Benediktus XVI (’n gewese kollega in Tübingen), het Küng weliswaar as een van sy eerste dade in 2005 vir ’n vier uur durende gesprek ontvang, maar die twee kon mekaar nie eintlik vind nie.

’n Ander gewese Tübingense kollega, prof Karl-Josef Kuschel, het Küng se houding as “oer-Christelik” beskryf. In baie gevalle het dit tot rebellie teen die Roomse Kerk gelei.

Betreffende die skandaal oor seksuele misbruik deur priesters, het Kuschel aan die Südwestrundfunk gesê, het Küng met ’n “mengsel van toorn en vertwyfeling” toegesien hoe die Kerk die spoor byster raak. “Pleks van om ’n profetiese stem te wees, die gewete van die nasie, veral in die aangesig van die pandemie, het die Kerk sy geloofwaardigheid verspil” – en dit het Küng baie pyn besorg.

LEES OOK: ‘Wonderwerke soos ons s’n versterk ander se geloof,’ sê ma van ‘tweeling’

Kuschel meen Küng wou die geloofwaardigheid van die Christelike boodskap in die wêreld herstel deur ’n ope dialoog met sekularisme en ander godsdienste aan te gaan.

In verskeie boeke en ander publikasies was sy standpunt dat godsdienste oor die algemeen ’n bydrae tot wêreldvrede kan lewer, maar slegs wanneer hulle daarin slaag om min of meer konsensus oor waardes en norme te bereik. Dit beteken dat hulle noodwendig ’n dialoog, gebaseer op wedersydse respek, moet voer.

Küng kon homself emosioneel nooit heeltemal van die Kerk losmaak nie, al het die kerkowerheid hom ten slotte nie meer as Rooms-Katoliek beskou nie. Tog het talle van Küng se teologiese standpunte taamlik naby aan protestantse en selfs Calvinistiese denkbeelde gekom, al het hy nie die dogmatiese benadering van konserwatiewe gereformeerdes gedeel nie.

Soos selfs die ortodoks-gereformeerde Reformatorisch Dagblad dit stel: “Rome beschouwde Küng als een libe­rale protestant die feitelijk in het kamp van de Reformatie zat. Küng legde een modern-protestants accent op de Jezus van het Nieuwe Testament in plaats van op een christologie ‘van boven’; een tweenaturenleer, zoals verwoord in de oudkerkelijke concilies.”
Hans Küng was ’n vernuwer wat nie in sy eie land geëer is nie.

  • Dr Leopold Scholtz is Kerkbode se medewerker in Europa.
Word 'n vriend van Kerkbode