Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Popia: Inligtingsbeamptes kan ná 1 Julie registreer

Kerke en ander organisasies mag nou inligtingsbeamptes na 1 Julie registreer.

Dié onlangse aankondiging deur die Inligtingsreguleerder volg ná sy registrasiestelsel gevou het onder die toeloop van registrasies in die laaste pylvak voor die nuwe wetgewing op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia-wetgewing) op 1 Julie afdwingbaar word.

Volgens ’n skrywe van die Algemene Sinode van die NG Kerk gons dit die afgelope paar weke oor die implementering van Popia-wetgewing ook in kerkkantore. “Inligtingsbeamptes is aangestel, ’n aanvang is geneem in die saamstel van POPIA-handleidings en almal probeer meer verstaan waaroor Popia gaan,” luidens die verslag.

LEES OOK: Popia: Is jou gemeente op datum?

Alle geaffekteerde partye, wat insluit kerke, skole, nieregeringsorganisasies en eiendomsagentskappe, het ’n jaar gehad om aan die streng vereistes van die wetgewing te voldoen sedert dit op 1 Julie 2020 in werking gestel is.

Die aanwys en registrasie van ’n inligtingsbeampte by die Inligtingsreguleerder is een van die vereistes. Helaas blyk dit te veel partye het nou eers tot aksie oorgegaan. Die toenemende druk het meegebring dat registrasies nie kon plaasvind by die registrasiestelsel nie weens tegniese probleme.

Die Inligtingsreguleerder het dié week bevestig die registrasie van inligtingsbeamptes en adjunk-inligtingsbeamptes het nie meer ’n sperdatum nie. Dit beteken niemand sal verantwoordbaar gehou word as ’n inligtingsbeampte nie teen 1 Julie 2021 aangestel is nie.

Die Inligtingsreguleerder is intussen besig om die registrasiestelsel te opdateer. Die nuwe sperdatums vir registrasie van inligtingsbeamptes sal later bekend gemaak word.

Die Algemene Sinode wys kerkkantore daarop dat omrede die Wet wel op 1 Julie 2021 in werking tree, moet daar so spoedig moontlik aan die agt vereistes wat die wet stel, voldoen word. Kerkkantore moet toesien dat die volgende so spoedig moontlik gedoen word:

  • Die voltooiing van ’n POPIA-handleiding
  • Bewusmaking van POPIA onder personeel en kerkraad (VBO-kursus en Winkerk-kursusse is beskikbaar).
  • Aanpassing van ’n nuwe intrekkervorm.
  • Bevestiging deur bestaande lidmate dat hulle data gebruik mag word.
  • Indien daar ’n webblad is, moet die nodige skakels na die Popia-handleiding en proses om navraag te doen daarop aangebring word.

“Elke gemeente het prosesse in plek om lidmaatinligting op te dateer en te beveilig en lidmate word ook vriendelik versoek om so spoedig moontlik te reageer op versoeke van hulle kerkkantore,” eindig die verslag.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top