Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Ds Donald Gantana van Grabouw en ds Corné Kemp van Hermanus steek ’n kers aan om die hereniging van die Ring van Caledon te vier. Foto verskaf.

NUUS: Overberg vat hande vir eenheid


Die onus rus nou op NG en VG lidmate in die Overberg om verder inisiatief rondom kerkhereniging te neem nadat sowat 24 gemeentes hulleself verbind het tot die vorming van die Herenigde Ring van Caledon.

“Die vereniging van die twee Ringe van Caledon (NGK en VGK) beteken vir ons groter geloofwaardigheid in terme van ons getuienis, ’n wedersydse erkenning van mekaar, ’n bevestiging van ons menswees, ons geloofsuitinge en moontlik ook ons leierskap,” sê die nuwe ring se voorsitter, ds Donald Gantana van Grabouw.

Lees ook: Touwsrivier begin die pad na eenheid stap

’n Spesiale sitting van die Herenigde Ring van Caledon word vir Oktober by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington beplan. “Dit is goed dat die res van die NG Kerk in Suid-Afrika kan sien wat gebeur op grondvlak en op ringsvlak – dat dit hoop gee vir die NG Kerk en die VGK vir die pad vorentoe,” sê ds Corné Kemp van Hermanus.

Die hereniging van die twee ringe in een struktuur beteken beide se personeel en finansies is nou in een struktuur saamgevoeg. Dit het op 28 Mei vanjaar amptelik geword.

Hierdie historiese mylpaal volg na ’n lang pad saam gestap is. “Met die eerste saam vergader (van die twee ringe) by Mizpah naby Greyton in 2005, het ons gesê ons wil nie weer sonder mekaar vergader nie,” vertel Kemp. Hy is die voormalige mede-voorsitter van die ring.

Daar is besef dat ruimte gemaak sal moet word om mekaar te akkommodeer, selfs al beteken dit ’n sinodevergadering of ringsvergadering wat in Engels gehou word as dit nodig is. Die VGK Overberg, met sy twee takke in Zwelihle by Hermanus en Grabouw, is die enigste Xhosasprekende gemeente in die Ring.

Al die gemeentes in die ring is gepols oor hulle gevoel jeens hereniging. Volgens Kemp was die terugvoer oorweldigend positief. Die ring het in ’n brief die uitdaging aan die gemeentes gestel om op eie inisiatief die proses na hereniging in hulle gemeenskap verder te neem.

Ds Donald Gantana. Foto verskaf

Die bedoeling daarmee is dat plaaslike gemeentes, NG Kerk en VGK, in die Overberg-gebied op eie inisiatief die proses verder sal neem deur voorstelle te maak vir kontak en gesprekke. Daar is ook hulpmiddels beskikbaar wat gemeentes hiermee kan help soos die 10 fase-roetekaart (ontwikkel by Touwsrivier), die Tussenorde en die Pastorale orde-gemeente.

Bredasdorp se NG en VG gemeentes het reeds in 2018 herenig, maar nie al die gemeentes is al by daardie punt nie. Daar is egter ’n wedersydse bereidwilligheid waaroor die ring verheug is.

“Die kontinuum van ons interaksies met mekaar is van meer formeel soos in Bredasdorp tot ’n gemoedelike saam praat, saam eet, saam kuier en beplan aan toekomstige blootstelling van die gemeentes asook samewerking wat konsulentswerk betref,” verduidelik Gantana.

Lees ook: Bredasdorp se gemeentes word na 104 jaar een.

Armoede is ’n uitdaging in die VGK-gemeentes. Net drie van die 11 VGK-gemeentes in die Caledonring het tans voltydse predikante wat dus elk buiten hulle eie gemeente ook meer as een gemeente sonder leraar (konsulentsgemeente) moet bedien. Die nuwe reëling maak dit vir NG gemeentes met meer as een leraar makliker om van hierdie herderlose VGK-gemeentes by te staan.

“Ek glo dat eenheid, soos geloof, ’n gawe en ’n opdrag is. Die Ring het in 2014 bevestig dat ons uit ’n diep teologiese oortuiging die eenheidspad met mekaar moet bly stap en dit is tydens die 2020-sitting bekragtig as die volgende logiese stap in die lig van die ruimte wat die Tussenorde aan ons bied. Gemeentes en kerkrade is gepols vir hulle reaksies rakende eenwording en die terugvoer was sonder uitsondering positief,” sê Gantana.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top