Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Een van die mees merkwaardige sendeling-pionierdokters in Malawi, dr Chris Blignaut, het onlangs op byna 90-jarige ouderdom gesterf. Op die foto is dr Blignaut besig om ’n pasiënt tydens een van hulle ooguitreike in Mosambiek te ondersoek. Foto verskaf.

Chris Blignaut – laat sien die lig in baie lewens


Kerkbode bied ’n diens waar lesers doodsberigte of huldeblyke kan aanbied vir publikasie op ons In Memoriam-blad

Lees hier meer.


Op Donderdag 8 Julie is baie van ons hier in Suid-Afrika asook lidmate van ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode, in rou gedompel met die hartseer nuus dat die bekende oogarts van Nkhoma-Hospitaal, dr Chris Blignaut, oorlede is. Dié wonderlike oogdokter het nie net die lig van Christus uitgestraal nie, maar ook danksy sy oogwerk en katarakoperasies honderde mense weer fisies die lig laat sien.

Dr Blignaut is op 7 Desember 1931 as die oudste van drie seuns in die Barkley-Oos-distrik op die plaas Ravensfel gebore waar sy pa, Pieter Blignaut, die skoolhoof van ’n tweemanskooltjie was. Dr Blignaut sou later vanjaar sy 90ste verjaarsdag vier.

Nadat sy pa vir verdere studies na Stellenbosch is, het die gesin in 1939 na Worcester verhuis. Na ’n preek van dr WH Murray, destydse hoof van die NG Sending in Nyassaland (Malawi), voel oom Pieter geroep om sy dienste vir die sending aan te bied en die gesin vertrek vroeg in 1940 Malawi toe.

LEES OOK: Huldeblyk aan Marius Cornelissen

Die jong Chris Blignaut begin standerd 2 (graad 4) in die kosskooltjie vir sendingkinders op Nkhoma-Sendingstasie, terwyl sy ouers 130 km noordoos van Nkhoma op Chinthembwe begin werk. In 1944 gaan hy na Worcester vir sy hoërskoolloopbaan waar die beroemde Bun Booyens sy Geskiedenisonderwyser was. Hier raak Chris onder andere bevriend met Jan en Aalwyn, broers van sy toekomstige vrou, Delene Naude. (Min het hy toe geweet dat hy en Delene veertien jaar later getroud sou wees!) Uit hulle huwelik is vier kinders gebore – Pieter, Maretha, Matilda en Alet. Later kon Pieter vir byna sewe jaar as geneesheer saam met sy pa op Nkhoma werk. Kort voor sy aftrede het dr Blignaut se een skoonseun, dr Johan Eloff, ook by hom aangesluit.

Nkhoma-Sendingstasie is in 1896 gestig en in 1915 is daar met ’n klein hospitaaltjie begin. Dit is algaande uitgebrei met afdelings vir chirurgie, kraam, tering en selfs op ’n stadium ’n afdeling vir melaatses. Verpleegsters- en vroedvrou-opleiding het bygekom en uiteindelik was dit die grootste hospitaal in die sending. Onder andere het dr Renaldo Retief ook ’n oogafdeling daar begin.

Dr Blignaut het in 1956 op Nkhoma begin werk waar hy vir baie jare die superintendent van die hospitaal was. Sy belangstelling in oogwerk lei daartoe dat hy by meer as een geleentheid verdere opleiding ondergaan. In 1964 verwerf hy ’n Diploma in Oftalmologie in Londen en in 1973 kwalifiseer hy as oftalmoloog aan die Universiteit van Kaapstad. Danksy die katarakoperasies wat hy en sy bekwame span uitgevoer het, kon jaarliks meer as 2 500 pasiënte weer sien. Hyself raak ook wyd betrokke by die ontwikkeling van oogwerk elders in Malawi en by die opleiding van Malawiërs daarvoor. Hy was ook voortdurend betrokke om die primêre gesondheidsorg en gesinsbeplanning in die land te bevorder.

Dr Blignaut was ook die medestigter van die PHAM (Private Hospital Association of Malawi) wat in 1965 as organisasie van kerkhospitale van verskeie denominasies gestig is. Die naam is later verander na CHAM (Christian Health Association of Malawi). Dr Blignaut was vir meer as dertig jaar hierby betrokke en het dit as een van die ligpunte in sy loopbaan beskou.

Vandag word dr Blignaut veral onthou vir die feit dat hy hierdie oogafdeling help ontwikkel en uitbou het tot die grootste en bekendste in Sentraal-Afrika. Sy merkwaardige bydrae op hierdie gebied het aan hom in 2001 die Humanitarian Award (’n bronsmedalje) van die Oftalmologiese Vereniging van SA besorg.

LEES OOK: Jan du Rand, skerp teoloog en skrywer, sterf aan Covid-19

Na sy aftrede in 1997 kom woon hy en sy vrou in die Strand, maar hy bly op allerlei maniere betrokke by oogwerk. Onder andere, op versoek van ’n voormalige kollega op Nkhoma, dr Frans Krige (toe streeksdirekteur van die Departement Gesondheid), doen hy vanaf 2002 oogklinieke twee dae per maand in die hele Overbergstreek.

Sedert 2001 het hy ook vir etlike jare jaarliks saam met die bekende ooguitreikspan na Mosambiek gegaan waartydens hulle dan in minder as ’n week gemiddeld tussen 700 en 800 oogpasiënte sou ondersoek. Die meeste van hierdie mense is dan van brille voorsien en 70 stokblindes (as gevolg van katarakte) is geopereer en kon daarna weer sien; iets wat hierdie mense natuurlik nooit kon vergeet nie. (Lees een van die stories hier: bladsy 1 onderaan).

En nou is die stem van hierdie rotsvaste man met die sagte, blou oë stil … En tog ook nie, want danksy sy aangrypende outobiografie, Deur die oog na die hart, wat hy in 2003 die lig laat sien het, hoor ons sy stem nog duidelik.

Sedert verlede week stroom huldeblyke van oraloor in. Een van die vorige moderators van die CCAP Nkhoma Sinode in Malawi, ds Chatha Msangaambe, se boodskap lees: “We have lost a true Malawian; grew up at Nkhoma; got wedded at Nkhoma; retired at Nkhoma. All through the eye of a needle!! Fare thee well, Chris! One of us from the rich soil of Madetsa. The eyes that healed many eyes have closed. The hidden secret of Nkhoma Hospital fame has faded. Welcomed in heaven by many whose deaths he sweetened with words of hope. Maso ndi, maso ndi, Khristu* with the eyes of the Optician. Fare thee well, Chris!!”

* Letterlik “oog tot oog” (aangesig tot aangesig) met Christus – 1 Korintiërs 13:12.

Bronne: Blignaut, CJ. 2003. Deur die oog na die hart; Pauw, CM. 2012. “Dr CJ Blignaut of Malawi – A brief review of his life and work” (Ongepubliseerde artikel).

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top