In 1989 vertel Disney die verhaal van ’n 16-jarige meermin wat op ’n prins verlief raak. In ’n poging om die prins se hart te wen, ruil sy haar stem vir twee bene. Die seeheks swaai haar heupe verleidelik wanneer sy die meermin troos dat haar lyftaal immers al is wat sy nodig het om die prins te kry om haar te soen. Om ’n vrou-mens te wees, het van Ariel in The little mermaid gevra om haar stem prys te gee.
Augustusmaand het aangebreek en daarmee saam, Vrouemaand. Op 9 Augustus 65 jaar gelede het derduisende vroue hulle lyftaal gebruik om kapsie teen die apartheidswette van die tyd te maak. Van oraloor het hulle hulle lyf voor die Uniegebou in Pretoria gaan plaas as ’n teken van protes. Dit was ’n bewys dat nie alle lyf-taal verleidelik hoef te wees nie. Lyf-taal kan transformerend wees. Vir ’n halfuur het die vroue doodstil gebly, hulle stem tydelik prysgegee en daarmee harder gepraat as wat al daardie stemme saam sou kon doen. En toe: “Nkosi Sikelel’ iAfrika.”
Kenners sê dat nie-verbale kommunikasie die oorgrote persentasie van kommunikasie uitmaak. Tog blyk dit of die samelewing blind is vir die lyftaal van vroue. Hoeveel lyke moet gevind word, hoeveel blou kolle verskyn, voordat die gesprekke rondom vrou-wees en vroue se plek in die samelewing ernstig opgeneem word? Hoeveel vroue se liggame moet die speelgrond van emosionele en fisiese geweld word voordat daar nie meer gevra word hoekom Vrouemaand nodig is nie?
LEES OOK: Puik inleiding tot vroueregte
Die Prediker herinner dat daar ’n tyd is om stil te bly en ’n tyd om te praat. Vrouemaand is ’n tyd om te praat. Daar waar lyftaal alleen nie die boodskap oorkry nie, is dit tyd vir woorde. Dit is onder andere wat hierdie kolom wil doen. Vir die volgende vier weke gaan hierdie kolom daarop fokus dat ons praat. Ons gaan luister na die stemme van studente en tieners en ons wil ook gemeentes en ouers help om te dink oor hoe hulle ander kan help praat.
Lyftaal wys nie net wanneer ons praat nie, maar dit help ons ook om te luister. Dit is om jou oor na iemand te draai, jou voete in hulle rigting te laat kyk. Die uitnodiging is aan mans en vroue om die volgende maand in besonder hulle lyf die praatwerk te laat doen soos wat hulle nader skuif om te luister na die stemme van vroue. Dit is tyd om te praat.
- Kerkbode bied hierdie rubriekreeks aan in samewerking met die Sinode van Wes-Kaapland se Gender Taakspan.