Onverskrokke vroue: Uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag deur Bettina Wyngaard
Uitgewer: Lux Verbi, 2021
Bettina Wyngaard het ’n besonder ambisieuse projek aangepak. Met Onverskrokke vroue gee sy ’n voëlvlug oor die stand van vroueregte in Suid-Afrika, telkens met perspektiewe vanuit die reg en die Bybel.
Onder hoofstukke soos die vrou en die kerk, arbeidsmark, veiligheid, familie en die openbare lewe kom ’n magdom sake op die tafel. Wyngaard bied ’n omvattende blik op die landskap en beïndruk met haar keuse van temas. Van mensehandel en sekswerk, tot ukuthwala, hutsmerkaktivisme en selfs “pienk belasting” word bespreek, dikwels met besondere respek vir die mense en kulture wat geraak word.
Treffend haal Wyngaard vir Michael Kaufmann aan: “If it were between countries, we’d call it a war, if it were a disease, we’d call it an epidemic, if it were an oil spill, we’d call it a disaster, but it’s happening to women, and it’s an everyday affair. It is simply domestic violence.”
LEES OOK: Dana Snyman se ontmoeting met Rina Coetzee
Vir iemand wat wil verstaan waaroor dit gaan wanneer daar gepraat word oor vroueregte, is hierdie ’n uitstekende inleidende verwysingsbron. As iemand wat redelik goed onderleg is in hierdie spesifieke veld, het ek self ook baie by Wyngaard geleer. Ek was byvoorbeeld verstom om te lees dat die eerste swart vrou eers in Januarie 2020 suksesvol was met ’n hofbevel om eiendom van haar man te erf – en die uitvalle daar rondom.
As teoloog wou ek graag meer van die Bybelse perspektiewe lees. Wyngaard se krag lê egter by haar kennis en ervaring van die reg. Die lig wat sy werp op wetgewing – ook onlangse wetgewing – is uiters insiggewend.
Hierdie boek behoort lesers te bring tot insig, empatie, dalk selfs skok, woede en aksie. My hoop sal wees dat hierdie werk lesers sal inspireer om oor bepaalde aspekte van die onderwerp verder te lees, dieper ondersoek in te stel en mee te werk tot ’n veiliger wêreld vir almal.
Koop boek hier.
- Ds Rethie van Niekerk is predikant van Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha.