Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

In Philippolis ont moet Dana Snyman vir Rina Coetzee, ’n skilder en grafiese ontwerper, wat al jare op die dorp woon. Sy het die skilderye wat in die huis hang geskilder toe sy ’n klompie jare gelede in die greep van erge depressie was, vertel Rina. In daardie tyd het sy die boek Job in die Bybel gelees. Slegs Job vir omtrent ’n jaar lank. Sy was as ’t ware op haar eie Jobsreis. Foto: Dana Snyman

‘In daardie tyd het sy Job gelees … slegs Job vir omtrent ’n jaar’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

In Philippolis se hoofstraat beduie die bordjie: Jobhuis. Ek draai daar af. Het al van die plek gelees. Dink dis ’n kunsgalery.

In die volgende straatblok, op linkerkant, is die ou Vrystaatse dorpshuis met die spitsdak en die breë voorstoep. Vreemde naam: Die Jobhuis. Ek hou daar stil.

Die voordeur is oop en ’n vrou kom nader. Rina Coetzee, ’n skilder en grafiese ontwerper, wat al jare op die dorp woon. Ons begin gesels en dit voel of dit presies is waar ek nóú moet wees.

Sy het die skilderye wat in die huis hang geskilder toe sy ’n klompie jare gelede in die greep van erge depressie was, vertel Rina. In daardie tyd het sy die boek Job in die Bybel gelees. Slegs Job vir omtrent ’n jaar lank. Sy was as ’t ware op haar eie Jobsreis.

Lees ook: Toe word pastorie ‘Covid-hospitaal’

“Ken jy depressie?” Sy kyk my in die oë.

Ek knik. Ek voel juis weer die donker kom. Covid-19, die land, die alles.

“Ek wou vir maande niks met niemand te doene hê nie.” Rina se stem is sag. “Iemand moes nie eens vir my vra hoe dit gaan nie. Ek kry eintlik skaam, ek was baie ongeskik met mense. Party het vir my gesê: ‘Ruk jou net reg, Rina.’ Dit is mos wat hulle vir jou sê wanneer jy depressief is. Hoe kan jy jouself net regruk? Toe begin ek skilder wat ek voel. Snags. Ek het bedags my grafiese ontwerp-werk gedoen en snags geskilder.”

Sy het 25 skilderye geskilder, elkeen ’n soort weerspieëling van haar Jobsreis. Sy het dit vir lank in ’n kamer in haar huis gehou, totdat ’n vriendin, Retha du Plessis, ook hier van Philippolis, haar oortuig het om die skilderye met almal te deel.

Lees ook: Oop lidmaatskap en oop deure lei 35 jaar later tot oop harte

Sy en Retha het al by meer as een geleentheid op uitnodiging die skilderye in Retha se bakkie gelaai en na gemeentes op ander dorpe gery. Die predikant preek die Sondag dan oor Job en die skilderye word ten toon gestel.

Maar op die oomblik hang die skilderye permanent in hierdie ou huis wat gerestoureer en as ’n galery ingerig is.

“Wil jy daarna kyk?” Rina wys die huis in. Buite in die bome raas voëls.

Ek lees self van tyd tot tyd die boek Job. Job, die ryk man van Us, vroom en godvresend. Maar dan is is daar ’n gesprek tussen God en Satan. Satan daag God uit om Job te beproef, want Satan redeneer Job is vroom en dien God net omdat dit goed met hom gaan.

Dan gee God aan Satan die geleentheid om Job te toets.

Lees ook: Moedelose proponent: ‘Ek het al meer as 60 keer aansoek gedoen’

Ek stap in die gang af. Rina stap nie saam nie. Al 25 skilderye hang in een groot vertrek. Dit is moderne kuns. Abstrak. Ek probeer woorde vind vir wat ek sien. ’n Hek, rotse, klippe, tonnels. Iemand wat vasgevang is. Die onheil tref Job. Hy verloor al sy aardse besittings en sy kinders sterf. Job se swaarpad is ’n alleenpad.

Erge depressie kan ’n alleenpad wees. Rina beeld dit ook so uit. Jy sink in jouself af. Jou donker gevoelens word ’n soort bril waardeur jy na alles kyk. Jy is vermoeid en belas en voel nutteloos. ’n Onsigbare gordyn skuif tussen jou en ander in. Jy raak gou angstig.

“One dreads the loss of all things, all people close and dear. There is an acute fear of abandonment,” onthou ek weer die Amerikaanse skrywer, William Styron, se beskrywing van depressie terwyl ek van skildery na skildery stap.

Is dit nie ook gevoelens wat Job aan die begin van sy beproewing ervaar nie?

Lees ook: Van ’n ‘wit kerk’ na ’n kerk met ’n ‘menslike gelaat’

Job se drie vriende, Elifas, Bildad en Sofar, besoek hom. Eers swyg hulle toe hulle Job se lyding sien, maar toe begin hulle vir hom verklaar waarom alles met hom gebeur. Hulle berispe en veroordeel hom en probeer hom vertel wat om te doen.

’n Mens ken sulke Elifasse, Bildads en Sofars. Dit is hulle wat sê: “Ruk jou net reg!” wanneer jy lamgelê is deur depressie. Dit is hulle wat jou wil laat verstaan jou depressie is God wat jou wil straf vir jou sonde, bekeer jou, of laat dryf daardie demoon uit jou uit of laat jou weer doop, en jy sal verlos daarvan wees. Dis ook hulle wat sê iemand wat sy of haar eie lewe geneem het, gaan hel toe. Asof depressie iets met boosheid te doen het.

Ek gaan sit op een van die stoele in die middel van die vertrek. Elkeen sal iets anders in Rina se skilderye sien, anders aangeraak word. Vir party sal dit glad nie sin maak nie.

Lees ook: KYK: Hoe gemeentes en lidmate KZN en Gauteng weer herbou

Rina het intussen musiek aangesit. Klink na Bach. Dit voel nou meer of jy in ’n kapelletjie as ’n kunsgalery is. Kuns kan ook kerk wees, soos nou, hiér op hierdie dorpie in die Vrystaat.

Later kom staan Rina by my. Sy vertel van ’n vrou van Kleinmond wat al vier keer hier was. ’n Ander vrou het een oggend kwart oor ses hier aangekom en Rina mooi gevra om vir haar oop te sluit. Mense staan hier en huil. “Dankie vir hierdie rigtingwyser op ons weg van seer, vergifnis en heling,” skryf iemand in die besoekersboek.

“’n Mens besef nie hoeveel mense kry emosioneel baie swaar op dié oomblik nie,” sê Rina. “Ek sê iemand wat hier moet kom, sal hier kom.”

Op pad uit val my oog weer op die laaste van Rina se skilderye: drie figure wat uitreik na bo en ’n helder son – ’n soort bevryding. Job wat sê: “Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.”

Haar bevryding van haar diep innerlike donkertes het Rina gekry deur met Job te worstel en hierdie te skilder. Ander mense se Jobsreis is anders. Sy stap saam met my buitetoe. Ek voel ligter, maar ek moet ry. Ek het nog ’n lang pad voor my.

Rina bly voor die huis staan en waai vir my toe ek wegry – ’n dapper vrou in die helder son.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “‘In daardie tyd het sy Job gelees … slegs Job vir omtrent ’n jaar’”

  1. Baie dankie Dana dis groot waarheid. So word jy gestuur om lig te wees vir ander as dit diep donker by
    hulle is.

Comments are closed.

Scroll to Top