Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die Algemene Sinode van die NG Kerk het in 1986 besluite geneem wat vir daardie tyd ingrypend was. Met die aanvaarding van Kerk en samelewing het die kerk die teologiese ondersteuning van apartheid finaal gegroet. Daar was veral drie besluite wat die kerk in beroering gehad het.
Paragraaf 270 het gelui: “Die lidmaatskap van die Ned Geref Kerk is oop,” terwyl paragraaf 273 dit duidelik gestel het dat “eredienste en ander byeenkomste toeganklik is vir alle besoekers wat begeer om in gemeenskap met ander gelowiges na die Woord te luister.”
Lees ook: Raak prakties | Toe word die vakansie in ’n boks gepak
Oop lidmaatskap en oop deure het beteken dat die NG Kerk nie meer ’n kerk eksklusief vir wit Afrikaners was nie. Die sinode het ook in paragraaf 305 verklaar dat ’n beleid wat tot diskriminasie (apartheid) gelei het, in die lig van die Skrif en die Christelike gewete onaanvaarbaar was en as sodanig afgewys moes word. Die kerk het verder bevestig dat hy alle vorme van onderdrukking en diskriminasie veroordeel. Reaksie op hierdie besluite was fel. In Junie 1987 het die NG Kerk in die woorde van prof JA Heyns van die donkerste oomblikke in sy geskiedenis ervaar toe die Afrikaanse Protestantse Kerk gestig is en meer as 120 000 lidmate die NG Kerk verlaat het.
Vyf en dertig jaar later leef ons in ’n tyd waarin die NG Kerk opnuut uit verskeie oorde van rassisme beskuldig word. Miskien is dit nodig dat ons mekaar weer herinner aan die besluite van 1986 en aan die groot prys wat in 1987 betaal is. Boonop is daar talle verhale wat die teendeel bevestig. So ’n verhaal het hom ’n paar weke gelede in die ooste van Pretoria afgespeel toe die die Wapadrandsubstasie wat die hele ooste van Pretoria van krag voorsien, op Saterdag 17 Julie uitgebrand het.
Lees ook: Moedelose proponent: ‘Ek het al meer as 60 keer aansoek gedoen’
Enorme skade het duisende huishoudings in duisternis gedompel. Die krisis is vergroot deur baie mense in die gemeenskap wat weens die Covid-19-pandemie van die huis af werk. Die NG gemeente Tygerpoort, wat ’n groot kragopwekker en veselinternet het, het die Maandag fasiliteite gratis beskikbaar gestel vir enige persoon uit die gemeenskap wat krag en internettoegang nodig gehad het. Gratis pannekoek en koffie is ook bedien. Die gemeente het ook die Sondag- en Maandagaande kos en koffie bedien aan die tegniese spanne wat sedert die Saterdagaand onverpoos gewerk het om die skade te herstel. Die impak wat dit gemaak het, word bevestig deur ’n brief van dank deur die uitvoerende burgermeester van Stad Tshwane waarin hy onder andere skryf: “Ons is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning van die gemeente wat die moraal van die spanne op die grond enorm versterk het.”
Miskien het die besluite van 35 jaar gelede tog gelei tot oop harte en oop hande in 2021.
- Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.