Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Anoniem* skryf:
Die afgelope tien maande doen ek konstant aansoek vir elke moontlike predikantspos wat beskikbaar is. Ek is ’n gelegitimeerde proponent wat my studies met entoesiasme voltooi het en opgewonde was om in die bediening te tree.
My studies is deur die NG Kerk betaal deur die beurs-lening-ooreenkoms van 75% en 25%. Sodra ek in ’n predikantspos is, hoef ek slegs 25% van my studiegelde terug te betaal. Dit is nou as ek ’n pos kry.
LEES OOK: Vakatures: Riglyne vir die opstel van advertensies
Ek het nooit gedink dat ek so sou sukkel om in die bediening te kom nie. Na ses jaar se swot en drie universiteitsgrade is ek steeds werkloos. Tot op hede het ek al by 61 gemeentes aansoek gedoen. Die meeste gemeentes sal na ’n paar maande ’n e-pos stuur wat my inlig dat ek nie die kortlys gemaak het nie. Ander kere sal gemeentes my niks laat weet nie en dan sal ek in Kerkbode se Amptelike Nuus sien dat die gemeente iemand anders aangestel het.
So nou en dan sal ek ’n kortlys haal, maar dan sal gemeentes dikwels begin met die diskriminerende keuringsproses. ’n Hele paar gemeentes het my al gebel en gesê hulle het een vraag om vir my te vra: Is ek getroud? Hulle motivering? Hulle het ’n groot pastorie. Ek kan nie anders as om te dink dat hulle ook ’n dominee se vrou wil aanstel nie.
In my ondervinding vra gemeentes hierdie een vraag vir een van drie redes: Een – hulle is bang ek is gay. Twee – hulle is bang ek gaan met gemeentelede karring, of drie – hulle is bang dat ek met die gemeente se kinders gaan karring. Dit is ongelooflik frustrerend dat die feit dat ek nie getroud is nie een van die grootste struikelblokke is om my roeping uit te leef.
LEES OOK: Vakatures: Nuwe gids vir gelykheid van geleenthede
Ander gemeentes sal tydens ’n onderhoud vir my direk vra of ek ’n gay paartjie in die kerk sal trou. Hulle vra hierdie vraag nadat hulle my vliegkaartjie betaal het, nadat ek by hulle kom preek het, en ook nadat hulle my leer ken het. Weereens is dit ongelooflik frustrerend dat so ’n vraag die enigste bepalende faktor is. Ek sien ook gereeld vakatures in Kerkbode van gemeentes wat “voorkeur gee aan iemand wat getroud is”. Dit maak my moedeloos.
Gemeentes diskrimineer wanneer hulle predikante soek. Gemeentes soek predikante wat getroud is, wat ’n stagnerende teologie preek, en wat sal konformeer tot hulle ideologie. Ek wil bitter graag in die bediening wees. God het my daarvoor geroep. Maar hoe gaan ’n gemeente my ooit aanstel soos wat ek nou is? Oor ’n paar maande sal ek moet begin om my beurs-lening 100% terug te betaal, met rente, net omdat ek nie voldoen aan gemeentes se diskriminasie nie. Dit is hartseer. Ek bid vir ’n kerk waar gemeentes my sal sien vir die teologie wat ek kan lewer en nie oor my huwelikstatus nie.
Die skrywer se identiteit is aan Kerkbode bekend en word op versoek weerhou. – Red.
Sjoe, sterkte Proponent – die ontnugtering en hartseer is erg!
‘n Paar opmerkings van Proponent is waar – een troos is dat dieselfde vrae en voorkeure ook aan dominees gestel word.
Teologie op gemeentevlak is in gevaar, maar dis m.i. tekenend van en weens die gebrek aan teologiese diepte op rings- en sinodale vlak.
Ek reken dat rings- en sinodale strukture baie beter leiding moet gee in die aanstelling van dominees sodat proponent(e) in die bediening kan tuis kom en tuis voel.
(Aanstellings gaan egter waarskynlik al minder word post-covid en weens ekonomiese bedruktheid.)
Jy kan net die AS daarvoor blameer. Hulle het gesê dat elke gemeente self kan besluit omdat hulle hul besluit nie kon afdwing nie.
Ek lees graag die vakatures wat in aanlyn Kerbode verskyn. Predikante moet oor super kwaliteite beskik om aansoek te doen. Gemeentes doleer en kandidate moet doleer. Ander verwag weer kandidate moet met kleuters, die jeug, middeljariges en bejaardes kan werk. Ander verwag van kandidate om die gemeente te kan vermaak met multidissiplinêre aanbiedings.
My innige meegevoel met die ongetroude kandidaat.
Diskriminasie binne die Kerk teenoor
een van ons eie. Onaanvaarbaar.
Moet hy nou ook sy heenkome in die
buiteland gaan soek?
Dit raak al hoe moeiliker om in poste aanvaar te word in die kerk, van hul hou ook net vas aan die tradisie. My hart gaan uit na ons jongmense wat sit met studieskuld en wat nie werk kry nie, daar moet regtig gekyk word na die proponente, want ja daar word definitief gediskrimineer teen die wat nog ongetroud is.
Ek is n ouer van ‘n proponent en weet wat dit is as daai oproep kom en pos is nie gekry nie, daai hartseer verwarring en teleurstelling kan ook net sover gevat word.
Sterkte aan elkeen wat sukkel om in die NG Kerk ‘n pos te kry
Hierdie jaar is dit 10jr vandat ek gelegitimeer is. Ek begin al wonder of ek nog my bevoegdheid wil behou, want die kans dat ‘n gemeente my gaan aanstel raak elke jaar minder. Ek is wel getroud, maar het nie kinders nie en wil ook nie hê nie, so dit tel seker ook teen my.
Gelukkig het ek nie studieskuld nie, daarvoor is ek baie dankbaar.
Sterkte, Anoniem, ek wens mense kan besef dat enkellopendes ook predikante kan wees en dit beteken nie noodwendig daar is iets “fout” met jou nie.
Ek dink in baie (dalk meeste) van die gevalle lê die blaam by die omies op die kerkraad, want dis tog hulle wat die besluit maak.