Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Vakatures: Riglyne vir die opstel van advertensies

Alle advertensies vir vakante poste behoort aan die Wet op Gelyke Indiensneming te voldoen. Adverteerders wat van Kerkbode se gewilde Vakaturesplatform gebruik maak om advertensies te plaas, word aangemoedig om te verseker dat hulle advertensies geen onbillike diskriminasie bevat nie. Ons bied die riglyne as hulpmiddel tot daardie doel.

Die Wet op Gelyke Indiensneming (Wet No 55 van 1998) is van toepassing op alle werkgewers en voornemende werkgewers. Die doel van die wet is om:

  1.  Gelyke geleenthede en billike behandeling by indiensneming te bevorder deur onbillike diskriminasie uit te skakel; en
  2.  Regstellende aksie-reëls te implementeer om die ongelykhede te herstel wat deur aangewese groepe ervaar is en om aangewese groepe se billike verteenwoordiging in alle beroepskategorieë te bevorder.

Die Kerkorde se toewyding tot nakoming van die Wet op Gelyke Indiensneming word bevestig in Die Bestuurshandleiding vir Diensverhoudinge in die NG Kerk.

Die Wet op Gelyke Indiensneming verbied uitdruklik enige vorm van onbillike diskriminasie teen ’n werknemer of aansoeker. Dit beteken dus dat ’n voornemende werkgewer nie onbillik mag diskrimineer in terme van seleksiekriteria vir ’n pos nie.

Diskriminasie vind plaas waar onderskeid tussen een of meer werknemer/aansoeker getref word, wat daartoe lei dat een of meer werknemer/aansoeker bevoordeel word. Die onderskeid is gewoonlik gebaseer op identifiseerbare gronde.

Die verbod in die Wet op Gelyke Indiensneming is slegs van toepassing op onbillike diskriminasie. ’n Onderskeid moet dus getref word tussen billike en onbillike diskriminasie:

Onbillike diskriminasie

Onderskeid word getref tussen een of meer werknemer/aansoeker op een van die volgende gronde:

  1. Geslag
  2. Swangerskap
  3. Huwelikstatus
  4. Gesinsverantwoordelikheid
  5. Etniese of sosiale herkoms
  6. Kleur
  7. Seksuele oriëntering
  8. Ouderdom
  9. MIV/Vigs-status
  10. Gestremdheid
  11. Politieke opinie
  12. Kultuur
  13. Taal
  14. Geboorte
  15. Enige ander arbitrêre gronde

Indien die onderskeid gebaseer is op een van bogenoemde aspekte, sal dit outomaties as onbillik geag word en sal die onus op die voornemende werkgewer rus om te bewys dat dit billik was.

Billike diskriminasie

Diskriminasie is billik wanneer dit gebaseer is op ’n regverdige operasionele vereiste of besigheidsrede. Dit sal dus nie onbillik wees om te differensieer tussen aansoekers/werknemers op die volgende gronde nie:

  1. Kundigheid wat benodig word om die werk te verrig
  2. Senioriteit
  3. Ervaring

Differensiëring wat gebaseer is op een van die aspekte soos onder “onbillike diskriminasie” gelys, sal wel as billike diskriminasie kwalifiseer indien die onderskeid getref is op grond van die inherente vereistes van die pos.

Applikante wat aansoek doen vir beskikbare poste word ook beskerm teen onbillike diskriminasie. Voornemende werkgewers mag dus nie in hulle advertensies vir vakante poste diskrimineer nie. Voorbeelde van sodanige onbillike diskriminasie in ’n advertensie kan onder andere die volgende insluit:

  1. “Die gemeente is op soek na ’n manlike leraar.”
  2. “Die applikant moet verkieslik getroud wees met kinders.”
  3. “Die applikant moet verkieslik tussen die ouderdom van 30 en 40 wees.”
  4. “Die gemeente benodig die dienste van ’n fasiliteitsbestuurder/kassier/tuinier met Christelike gewoontes.” Vir ’n fasiliteitsbestuurder/kassier/tuinier om sy/haar werk te verrig, is Christelike gewoontes nie ’n inherente vereiste nie.

Die voornemende werkgewer sal moet kan bewys dat die diskriminasie in hierdie voorbeelde weens ’n inherente vereiste van die pos is. Dit sal natuurlik moeilik wees om te regverdig waarom ’n leraar ’n man moet wees, waarom ’n werknemer getroud moet wees met kinders en waarom ’n aansoeker ’n spesifieke ouderdom moet wees.

Hieronder is voorbeelde waar differensiëring op een van die gelyste gronde geregverdig sal wees aangesien dit ’n inherente vereiste van die pos is:

  1. “Die gemeente is op soek na ’n Afrikaanssprekende leraar” – Dit sal ’n inherente vereiste van die pos wees indien die lidmate van die gemeente hoofsaaklik Afrikaanssprekend is.
  2. “Die gemeente benodig die dienste van ’n Christelike leraar” – Die NG Kerk is ’n Christelike instansie, dit is dus ’n inherente vereiste van die pos dat die leraar ’n Christen is.

Alle advertensies vir vakante poste behoort aan die Wet op Gelyke Indiensneming te voldoen. Adverteerders wat van Kerkbode se platform gebruik maak om advertensies te plaas, word dus aangemoedig om te verseker dat hulle advertensies geen onbillike diskriminasie bevat nie. Die volgende voorstelle word gemaak:

  1. Indien die advertensie differensieer op een van die gelyste gronde, maak dit duidelik in die advertensie waarom dit ’n inherente vereiste vir die pos is. Byvoorbeeld: “Die leraar moet Afrikaanssprekend wees siende dat die gemeente Afrikaans is.”
  2. Verseker dat geen woorde wat verband hou met die gelyste gronde in die advertensie gebruik word nie.
  3. Verseker dat advertensies so objektief moontlik is en dat daar so min moontlik billike of onbillike diskriminasie voorkom.

Die doel van advertensies vir vakatures is slegs om ’n uitnodiging aan applikante te rig om vir poste aansoek te doen. Die advertensie is nie ’n posbeskrywing nie en hoef dus nie al die detail rakende die inherente vereistes vir die pos te bevat nie. Benewens die inligting wat in die advertensie vervat word, sal ’n keuringspaneel ook die inherente vereistes van die pos in ag neem en op grond daarvan die mees geskikte kandidaat kies.

Die Bestuurshandleiding vir Diensverhoudinge in die NG Kerk stel voor dat die onderstaande inligting in ’n vakature-advertensie ingesluit moet word:

  1. Postitel
  2. Posinhoud – genoeg inligting moet verskaf word vir aansoekers om die omvang van die pos te verstaan. Probeer om die beskrywing van die pos so kort moontlik te hou.
  3. Persoonsvereistes – kernagtige samevatting van vereistes (nie-diskriminerend).
  4. Inligting met betrekking tot die organisasie.
  5. Geografiese ligging van die pos.
  6. Vergoeding – moet nie na die spesifieke bedrag verwys nie, maar verwys na die sekuriteit of unieke voordele.
  7. Kontakpersoon of e-posadres waarheen die aansoeke gestuur kan word.
  8. Sluitingsdatum vir aansoeke.
  9. Maak seker dat die advertensie maklik leesbaar is.

Kerkbode het hierdie dokument deur Joubert & Genote laat ontwikkel – Mei 2021.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.