
Die afgelope naweek was ek en my vrou bevoorreg om die dankfeesbasaar op Loeriesfontein by te woon. Daar is geen manier waarop ek die volle omvang van emosies en belewenisse hier in woorde kan weergee nie.
Na nege jaar se droogte en ’n Covid-gekruisigde basaar laasjaar, het die gemeenskap na ernstige besinning besluit om voort te gaan met die basaar. Uit die Overberg het mense besluit om hande te vat en saam te kom basaar hou.
LEES OOK: Gehoor by die basaar: ‘Ons is in nuwe waters’
En toe breek die groot dag aan. Daar was minder skape om op te veil, maar die opgewondenheid was tasbaar. Selfs die Bokke se nederlaag kon dit nie demp nie. Die totale opbrengs was meer as R800 000.
Sondagoggend begin die verrigtinge vroeg in die kerk met ’n biduur. Die eenvoudige, innige nederige dankseggingsgebede laat my in trane.
Met die nagmaal was dit nie anders nie. Die kinders se bydrae was besonders. 150 (ons mag mos nou 250 wees) mense bymekaar op die diep platteland.
Ek en my vrou ry Sondagoggend met verhoogde cholesterolvlakke en dankbare harte weg op Loeriesfontein. Ek moes kom bedien, maar is geseën.
Maar ons dink ook saam. Wat hou die toekoms in? Maar belangriker nog, wat sou die Here wou hê moet gebeur? As ons in die droogte R800 000 kon insamel is daar seker meer en selfs groter dinge wat gedoen kan word.
Mag Loeriesfontein fyn luister en opnuut diep geseën word.
- Dr Braam Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis in die Wes-Kaapse Sinode.