Gehoor by die basaar: ‘Ons is in nuwe waters’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Met ’n kop vol ou herinneringe ry ek Saterdagoggend Philadelphia toe waar die plaaslike NG gemeente besluit het om tog maar basaar te hou, ondanks die virusbeperkinge en dinge.

Weerskante van die pad is die kano­lalande geel in die blom.

Dit is net meer as ’n halfuur se ry uit die Kaap uit, met die N7 in Malmesbury se koers. Fyn druppeltjies sif op die bakkie se voorruit neer.

Ek het toevallig op Facebook van die basaar gesien: “Philadelphia basaar. Maak gou. Beperkte voorraad.” Met inligting daarby oor ’n app wat jy kan aflaai om vir jou van die beperkte voorraad te bestel. Gebak. Vleis. Kaas.

Om die kerk op Philadelphia te kry, is nie moeilik nie. Die dorpie bestaan nie uit veel meer as die kerk, ’n koöpera­sie, twee restaurante, ’n paar winkeltjies en ’n klompie huise nie. By die saal langs die kerk is motors geparkeer. Ver­al bakkies. Modderbesmeerde bakkies. Dit is plaasmense dié. Ons hou tussen hulle stil. Erna, my vriendin, is by. Sy het die toep op haar foon afgelaai en vir ons ’n melktert, gemmerkoekies en Cheddarkaas bestel.

LEES OOK: ‘Wat jy hier sien, is ’n wonderwerk’

Dit was al klaar vir my vreemd: Kaas op ’n kerkbasaar. Ek kan nie onthou dat jy ooit kaas op die kerkbasaars in my verlede kon koop nie. Konfyt, ja. Maar nie kaas nie.

’n Mens dra te swaar aan die verlede. Met my lyf klim ek uit die bakkie en stap saam met Erna in die rigting van die saal, maar my gedagtes is ver weg.

Die ry by die pannekoektafel is altyd die langste, en daar staan hulle agter die tafel agter hulle primusstofies: tannie Sannie en tannie Berdina, veteraan-pannekoekbakkers, met hulle wit-en-blou ACVV-voorskote aan. In die lug is die reuk van kaneelsuiker en brandspi­ritus, en oor die luidsprekers borrel ’n krakerige weergawe van “Groen Ko­ringlande” gespeel deur John Massey op ’n Lowry-orrel.

’n Goeie pannekoekbakker herken jy aan haar pan – ’n aluminiumpan met ’n dik boom. Die pan is al swart gebrand, en dikwels is die handvatsel met ’n stukkie hout vervang.

Die gaar pannekoeke wag in ’n glasbak, langsaan is ’n deksellose roomysbak vol kaneelsuiker en die velletjies waspapier waarin die gaar pannekoeke toegedraai word.

Maar op Philadelphia kan jy nie vanmôre ’n pannekoek koop nie, en nêrens hoor jy musiek nie. Weens die virusregu­lasies kan dinge nie só gedoen word nie.

Nêrens ’n tafel waar twee vrolike ouderlinge, in kortbroeke met die bypassende bleek bene en leersandale, kaartjies verkoop nie – die kaartjies waar­mee jy kan koop wat jy wil.

Erna het reeds ons melktert, gemmerkoekies en kaas elektronies betaal. Daarna het sy ’n nommer ontvang. Al wat ons nou moet doen is om die nommer vir die vrou by die tafel voor die saal te gee, dan sal hulle ons goed vir ons bring.

Dit is byna soos ’n tombolatafel waar jy presies weet wat jy gaan kry.

Ek gaan loer by die saal in. Die tombolatafel was altyd op die verhoog, met ’n rak agter dit, gepak met tennisballe, waterpistole, fluitjies – alles wat jy kon wen afhangende van die nommer wat jy getrek het uit die kartondoos wat met bruinpapier oorgetrek was.

Die saal se vloer staan vol genommerde kartondose, met elkeen se bestelling in – ook ons melktert, gemmer­koekies en kaas.

Nêrens ’n speelgoedtafel nie. Ek begeer die speelgoedgeweer wat oom Flip Botes uit hout gekerf het. Al die ander seuntjies begeer ook daardie geweer, maar ons kan nog nie koop nie. Pa, die predikant, moet eers die basaar amptelik open.

Ons staan voor die tafel terwyl Pa uit die Bybel lees. Maar dan, terwyl Pa bid, skiet Johnny Virtue langs my se hand uit tot op oom Flip se geweer.

Ons kry die kartondoos met ons goed in. In die oopte voor die saal wag ’n ry motors om hulle goed te kom oplaai. Ons almal is gemasker.

Party gesels met ’n man wat jy vrolik agter sy masker hoor lag. Dit is ds Philip Davids, die plaaslike predikant. Ek stap na hom toe. Ons laat sak die maskers vir ’n rukkie.

“Ons is in nuwe waters,” sê ds Philip, “maar ons het besluit om deur te druk met ons basaar. Dit bring ons weer ’n bie­tjie bymekaar.” Boonop het hulle ’n mooi bedrag ingesamel.

Hy vertel hoe ’n aanpassing dit is om skielik vir ’n kamera te moet preek sodat dit op YouTube uitgesaai kan word. Hoe leeg jy kan begin voel as jy nie gereelde kontak met ander mense het nie. Hoe ’n gemeenskap van heiliges maklik ’n gemeenskap van eensames kan word.

Ons stap terug bakkie toe. Nêrens staan ’n skaap vasgemaak nie – die prys vir die een wat die skyfskiet wen. Nêrens oom Willie van der Ryst se veilingstem nie: “Twintig-het-ek-hier, twintig-het-ek hier …” terwyl hy een van oom Toors se selfgevlegde swepe opveil.

Op pad terug huis toe haal Erna die sakkie met die gemmerkoekies uit die kartondoos. Iets in ’n mens kan nie help om te wonder nie: Gaan dit soos tannie Hester s’n wees?

Ek neem een. Dit voel reg: ’n Gemmerkoekie moet nie te swaar wees nie. Jy moet byna verras wees oor hoe lig die koekie is. Maar byt jy aan hom, moet dit nie maklik gaan nie. ’n Sawwe gemmerkoekie is ’n teleurstelling.

Hierdie een moet ek meer na my wang se kant toe skuif om hom deurgebyt te kry, soos dit hoort. Hy is beslis tannie Hester se standaard. Jy ruik die gemmer, en hoor die koekie kraak, en buite reën dit weer, harder as vroeër. Nuwe waters.

6 thoughts on “Gehoor by die basaar: ‘Ons is in nuwe waters’

  1. john says:

    Skitterend beskryf deur Dana

  2. Edith Muller. says:

    Wat n vlak kerkbasaar. Al die persoonlik is uitgehaal: onpersoonlik. So kartonnerig. Die warmte, al die sonnigheid, weg. Daar is ook nie n pit in die perske nie. Troos. Daar is darem geprobeer! Liefde edith.

  3. Frikkie says:

    Dana, Dankie vir die herinneringe.
    Ons hoop almal dat hierdie stukkie van die ou-normaal, gou sal kan terugkeer. Ons oues van dae mis dit. Ek wil nie eers bespiegel wat die nuwe-normaal aan mense-verhoudings gaan maak nie – veral in die kerk, wat reeds sukkel om “kerk” te wees. Hoe kan die liggaam se ledemate as ligaam funksioneer as ons nie fisies aanmekaar vas is nie. Klink erg – maar dis hoe ek dit ervaar.
    Groete uit Panorama Palms Aftree-Oord

  4. Pierre Pelser says:

    Almal toets nog die nuwe waters. As gevolg hiervan het ons mekaar se ondersteuning nodig. Help waar jy kan. Dit is mos hoekom ons hier is of hoe?

  5. Susara Boshoff says:

    Ek was ook weer terug by ‘n Kerk basaar, dankie Dana. die gewoel, die reuke, die kinders wat rond hardloop en speel want hulle Ma’s is besig en hulle Pa’s staan en gesels. Ek sou so geaag daardie gemmer koekie resep kry, na die afbyt aan die kant van jou mond moet jy die koekie bietjie laat rus om sagter te kan word anders is die kante te skerp, deur jou neus proe jy die gemmer!! Soveel lekker eetgoed word verorber, niemand eet weer tot die volgende dag toe nie. Elkeen gaan huis toe moet ‘n koek vir Sondag middag koffie.

  6. Amelia Lombard says:

    Dankie Dana … met soveel deernis geskryf … mag jou nuwe waters warm en geseend wees!

Comments are closed.