‘Wat jy hier sien, is ’n wonderwerk’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die straatjies is vol gate en slote. Nêrens sien jy ’n grasperk voor ’n huis nie. Oral blink glas­stukke op die sypaadjies.

In ’n oopte staan ’n langwerpige sinkgebou waarop in oneweredige letters geverf is: “Survival Ministries of God.” ’n Kerk van sink en seil en pale. Die voordeur staan oop. Ek hou daar stil.

Oral stap mense sonder maskers rond. Ander sit in groepies in kaal voortuine, met harde musiek wat van iewers af kom. ’n Mens voel baie ver van die virus af hier op Brandvlei in die Boesmanland, noord van Calvinia, oos van Loeriesfontein, wes van nêrens.

Dit is een van die mees afgeleë dorpe in die land, maar wat jy op ander dorpe sien, merk jy ook hier: Daar is ’n hoofdorp en ’n township, en op die rant van die township sien jy die sinkhutte. Die plakkerskamp, soos ’n mens dit alte maklik noem.

Omtrent elke dorp in die land het ’n plakkersbuurt. Ek kan my verkyk aan daardie sinkhuisies, party net een vertrek groot. Jy sien min dat ’n hele huisie van blinknuwe sinkplate gemaak is. Dit is dikwels ’n klomp ou sinkplate, byna nie een lyk soos die ander een nie, wat van iewers af gebring is om ’n woonplek te kom word.

Nes hierdie kerkie waarby ek pas stilgehou en uit die bakkie geklim het. Die sinkplate het duidelik al voorheen iewers anders diens gedoen.

’n Man stap nader en steek ’n hele ent van my af vas, duidelik wantrouig. Ek verduidelik vir hom ek het ’n wettige permit om in hierdie Covid-19-tyd rond te ry en met mense te gesels en foto’s te neem.

Jan is sy naam, sê hy, en ons skud nie blad nie. Jan Swartz. Apostel Jan Swartz.

Eintlik is hy ’n bouer van nering, maar hy is nou al vir ’n paar jaar ook ’n prediker. “Ons is ’n pinksterkerk. My base sit in Kimberley. Ek was eers in die Verenigende Gereformeerde Kerk, maar toe beginne ek aan die grootdoop te glo. Toe sê hulle ek is gebreinspoel.” Hy raak byna verleë wanneer hy sê. “Ek kry mos profesieë en drome en sien gesigte. ’n Profeet van die Kaap het gesê die Here sê ek moet net hier ’n kerk bou.”

Hy stap by die kerkie se voordeur – die enigste deur – in. Dit is skemer hier binne, soos dit in ’n kerk behoort te wees. Nie te veel lig nie, nie te min lig nie, net genoeg lig.

Lees ook: Dana onthou: Ma. Saam met mev Betsie Verwoerd, nogal

Eers het hy dienste gehou in ’n ou tent wat hy by ’n ander kerkgenootskap gekry het.

“Ek hoef niks te gekoop het nie,” vertel apostel Jan. “Als wat jy hier sien, is geskenk.”

Die stoele is nie almal dieselfde nie. Op die grond, daar is nog nie geld vir ’n sementvloer nie, lê ’n verskeidenheid van matte. Teen die mure hang ’n vrolike men­gelmoes van gordyne om meer waar­digheid aan die sink en die seil te gee.

Een na die ander wys apostel Jan die goed uit. “Die sinkplate en die pale het ek by Klaas Louw, ’n boer hier naby die dorp, gekry. Ek het bouwerk vir hom gedoen, toe sê hy: ‘Vat hierdie goed, Jan. Bou vir jou ’n ordintlike kerk.’”

Apostel Jan Swartz en sy vrou Ella voor die “kerkgebou”.

Hy beduie na die matte. “Hierdie een is my huis se eie mat. Daai vaal matjies daar was eers in die Eerste Nasionale Bank hier op die dorp. Ek het die bank help opknap, toe sê hulle vat jy maar die ou matjies. Daai wittetjie het my ousus Miena van die Kaap af vir my gebring …”

Die kruis wat voor by die podium staan, kom ook van die Kaap af: God is liefde.

Intussen het tannie Ella, apostel Jan se vrou, ook by die kerkie ingekom.

“Die meeste stoele het ek by die plaas­like primêre skool gekry,” gaan apostel Jan voort. “Die stoele was stukkend, toe sê hulle as ek dit kan regmaak, kan ek dit hou.” Hy wys na die mure. “Die susters van die gemeente het die gordyne geskenk. Daai mooi bonte kom van suster Millietjie Januarie af. En daai een …” Hy kyk na tannie Ella. “Waar kom daai rooie nou weer vandaan, Ma?”

“Van Dorita de Bruyn af,” help tannie Ella hom.

Lees ook: ‘Ek was g’n geloofsheld, net ’n sterflike mens’

Die orrel, ’n Lowry wat moontlik as huisorrel in die jare sewentig gekoop is, het Klaas Louw ook geskenk.
Op ’n Sondag lê hulle met behulp van drie verlengkoorde elektrisiteit van hul­le huis langsaan aan en dan skuif Hans Fortuin, hulle skoonseun, voor die orrel in en dan, o, dan word daar gesing en die Here geprys.

Naby die orrel staan ’n ou lessenaar – ook ’n geskenk van Klaas Louw – wat dien as nagmaaltafel.
Apostel Jan preek slegs in Afrikaans uit ’n Afrikaanse Bybel. “Die negentien drie-en-dertig-vertaling,” sê hy. “Die regte een.”

Hier pas maklik-maklik vyftig mense op ’n Sondagoggend in die kerk in – al hoeveelheid wat op die oomblik ingevolge die regulasies toegelaat word.

Apostel Jan glimlag. “Ek het al honderd drie en twintig mense hier ingehad toe ons dit nog kon doen.”

Hulle stap saam met my bakkie toe. Ons staan al drie na die kerkie en kyk.

In die verte blink sinkhuisies in die son. ’n Maer hond kom verbygedraf. Voor ’n huis gooi drie seuntjies ’n pap rugbybal vir mekaar. Iewers huil ’n baba.

“Wat jy hier sien, is ’n wonderwerk.” Apostel Jan beduie na die kerkie.

’n Wonderwerk te danke aan hulle wat die sinkplate en die pale en die matte en gordyne en die stoele en ander goed geskenk het.

Word 'n vriend van Kerkbode

12 thoughts on “‘Wat jy hier sien, is ’n wonderwerk’

  1. Stefaan de Jager says:

    Dankie Dana, ja wonderwerke is om die hand van die Here in die alledaagse sien. Jan sien agter die skenkings van pale en sinkplate uit mense se hande die hande van die Here wat dit aan hulle skenk.

  2. Rentia van der Merwe says:

    Dankie Dana. Ek letterlik sien elke keer die land en sy mense deur jou oge. Dis die mooiste mooi. Dankie vir die verskil wat jy maak.

  3. dana snyman says:

    Dankie, Stefaan en Rentia.

  4. Koos Reyneke says:

    Dankie Dana… In die plakkerskamp plankieskamers agter Mondesa, die DRC (Swakopmund), sien ek tans elke dag soortgelyke gelukkige mense met niks…

  5. Barney Badenhorst says:

    Dankie Dana, Ek kan ook van ‘n wonderwerk vertel van Klaas Louw! Hy is ‘n “Engel”van God! Dankie vir jou stories! Ja ek sien ook ons land en sy Mende deur jou oë.

  6. Hendrina Grove says:

    Rou , opregte ,gestroopde aanbidding !
    Dink dit is wat SA nou ‘benodig’!!!

  7. Susan says:

    Ai Dana, jou skryftalent is dun gesaai. Ek weet dit is omdat dit jou diepste gevoelens en opinie weerspieel! Jou empatie met die mens in sy mees opregte self en omstandighede, en jou vermoe om dit oor te dra, roer n mens!
    En miskien versag dit hier en daar n verharde hart!

  8. Trudie Thiart says:

    Dankie Dana Lekker om land te sien deur jou en om goedvoel stories van onse mense te hoor

  9. Glenyce Enslin says:

    Soos altyd, die moeite werd om te lees. Dankie Dana!

  10. Ronél Godfrey says:

    Dis Christen-wees in aksie…dankie Dana…jou skrywes is altyd vir my soos ‘n uitnodiging om net dáár te wil wees…weg van groot geboue en klankstelsels…

  11. Martie says:

    Mag die Here jou seen, pastoor Jan. Ongelooflik mooi… jy dien die Here so eerlik en opreg. Dana, jy het dit so mooi verwoord.

  12. Jan van Leeuwen says:

    So beur die sinkhuis bewoners voort en so beskryf Dana vir ons hierdie stuk realiteit! Wat ‘n skryfstyl!

Comments are closed.