‘Ek was g’n geloofsheld, net ’n sterflike mens’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daar is mense wat baie sieker is as wat ek was. Ek het dit in die hospitaal rondom my gesien en gehoor en ek is baie bewus daarvan wanneer ek al die berigte van mense se siekte en dood op Netwerk 24 en sosiale media lees. Ek was en is gelukkig en ek is baie diep bewus daarvan en dankbaar.

My simptome het met ’n droë hoes begin wat vinnig in ’n seer bors en keel omgesit het. Die eerste keer wat ek dokter toe is, het hy net vir my immuunversterkers, hoesmedisyne en pynpille voorgeskryf. Hy het my nie laat toets vir Covid-19 nie, want volgens hom is die patoloë oorlaai en het ek nie genoeg simptome nie en ook geen onderliggende siektes nie. Ek was dus te gesond om siek te wees. Dieselfde dag het ek besef dat ek geen reuk- of smaaksensasie het nie. Dit was vreemd, veral om geen smaak te hê nie, maar net die tekstuur van kos te ervaar.

Die hoesery het voortgeduur, totdat ek drie dae later bloed begin hoes het. Dit het my groot laat skrik en baie ontstel. Ek was nou al ’n week lank siek. Ek is weer dokter toe. Hy kon eers twee dae later ’n afspraak by die patoloë kry om ’n toets te laat doen. Toe ek twee dae later by die laboratorium kom, het ek steeds bloed gehoes. My asem was baie kort. As ek die bed opmaak, of bloot net stort en aantrek, moes ek eers gaan sit om my asem terug te kry. Toe die patoloog vir my sê dat dit nog drie tot vier dae kan neem voor die uitslag beskikbaar is, het ek ’n kollega gebel wie se man ’n longspesialis is en hy en my huisdokter het na ’n telefoniese konsultasie met ’n internis net daar besluit om my te hospitaliseer. Ek is dus dieselfde oggend van my toets opgeneem. ’n EKG is gedoen en plate van my longe geneem. Na die internis se bestudering van die X-strale, het hy vir my gesê dat hy 99% seker is dat ek die virus onder lede het. Ek het op daardie stadium ook ’n koors begin ontwikkel.

Ek was al 24 uur op ’n drup toe die uitslag van my toets kom. ’n Mens sou dink dat ek teen hierdie tyd gewoond moes wees aan die gedagte, maar die uitslag het my onkant gevang. Elke liewe vrees denkbaar het my beetgepak. Die onvoorspelbaarheid van die virus, die wete dat daar nie ’n teenmiddel is nie, al die berigte wat ’n mens lees van mense se skielike agteruitgang en dood, die vrees dat die bloed in my longe dalk op ’n bloedklont mag dui (want op daardie stadium was ek al op dag 3 van die bloed). Dit is vir my baie moeilik om my geloofservaring te probeer verwoord. Deels omdat ek voel ek myself en baie ander sal teleurstel as ek eerlik is, deels omdat ek soek na woorde en sukkel om dit met enigiets wat ek al beleef het te vergelyk. Ek het letterlik emosie, verstand en die misterie van geloof en vrede in stryd met mekaar in my binneste voel woed. Die ballade van ’n kleingelowige: dit is hoe ek die ervaring van daardie volgende 48 uur of wat kan beskryf. ’n Mens raak intens bewus van die broosheid van jou liggaam, die noodsaak van elkeen van jou organe, van lewensnoodsaaklike asem en ’n onbekende en onsigbare vyand wat dit alles bedreig. Om alles te kroon, is daar ’n rooi plakkaat op jou deur wat ander teen jou waarsku en is jy maar te bewus van die mediese en huishoudelike personeel se moeite met aan- en uittrek, elke keer as hulle die geringste dingetjie in jou kamer kom doen.

Ek is daarvan oortuig dat elke liewe personeellid in daardie hospitaal ’n engel is. Jy moet die gesprekke hoor wat hulle met pasiënte het. Die bemoediging, omgee en liefde is oorweldigend. Daar kom mos geen ander besoekers nie, ook nie pasiënte se dominees nie! Ek kan jou verseker, onder daardie mediese personeel is diep gelowiges met wonderlike gawes van bemoediging. Ek was so aangenaam verras toe ek my fisioterapeut op dag 3 in die hospitaal ontmoet en sy my eien as ‘die dominee was soms by die gemeente preek’. Sy is toe ’n lidmaat van die gemeente waar ek gekoppel is en inderdaad somtyds preek. Dit was ekstra spesiaal om aan die ontvangkant van ’n omgekeerde rol te staan – want gewoonlik is dit ék wat die lidmate in die hospitaal besoek en nie die lidmaat vir wie die dominee in die hospitaal besoek nie.

Ek is na vyf dae ontslaan en is nog vir ’n verdere agt dae in kwarantyn in my huis – afgesonder van die res van my gesin. Ek dink my ballade vertel iets soortgelyks as wat tydens die oorlog teen Amalek met Moses gebeur het: Hy het moeg geraak en Aäron en Hur het ’n klip agter hom ingeskuif, hom daarop laat sit en toe sy arm met ’n kierie van oorwinning in sy hand omhoog gehou (Eksodus 17:12). Al die ondersteuning, boodskappe en oproepe van vriende, familie, kollegas en diegene rondom my in die hospitaal, het die deurslag gegee, nié my eie krag nie! Ek was geen geloofsheld nie, net ’n sterflike mens. Die geloof van ander het my gedra.

Ek is steeds op voorkomende behandeling vir bloedklonte en gaan tuis voort met fisio om my longe weer volsterkte te kry. My reuksintuig is nog nie terug nie en ek kan voel my asem raak soms nog ’n bietjie kort as ek te veel woel. Ek bly ook nog maar eerder weg van berigte oor al die trauma wat ander beleef en bid eerder vir diegene wat ek ken en ook dié wat ek nie ken nie, wat ek van hoor wat positief toets. Dit is nou weer my beurt om hulle arms hoog te hou.

En nee, ek weet nie waar ek dit opgedoen het nie!

  • Ds Nioma Venter is ondervoorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

4 thoughts on “‘Ek was g’n geloofsheld, net ’n sterflike mens’

  1. Marius says:

    Baie sterkte, Nioma. Dink aan jou.

  2. Carel vd Merwe says:

    Sjoe, Nioma!! Eerstens is ons dankbaar dar jou gesondheid verbeter, maar veral vir die getuienis wat daarmee saamgaan. Seenwense en ons bid vir jou. Carel@de Duin, PE

  3. Jo says:

    Liefde! Wasrdeer jou deel!

  4. Karen says:

    Mag jy spoedig volkome herstel om die belangrike rol wat jy in die kerk vervul, te kan voortsit.

Comments are closed.