Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Terug op Vlak 1: Daar word nou 750 in eredienste toegelaat

Suid-Afrika is uit die derde en langste vlaag van Covid-infeksies tot nog toe en daarom het die kabinet aanbeveel die land skuif terug na Vlak 1 van die staat van inperking vanaf middernag op Vrydag 1 Oktober, het president Cyril Ramaphosa die vorige aand in ’n direkte uitsending aangekondig.

Die nuwe Vlak 1-maatreëls, wat reeds in die Staatskoerant gepubliseer is, lê minder beperkings op sosiale byeenkomste as dié wat met die vorige Vlak 1 gegeld het vanaf 1 Maart tot 14 Junie vanjaar. Politieke ontleders se aanname is dit is om voorsiening te maak vir verkiesingsveldtogte in die aanloop tot die plaaslike verkiesings op 1 November.

Wat beteken die nuwe Vlak 1-maatreëls vir kerke?

  • Maksimum 750 mense by eredienste toegelaat

Vanaf 100 in Vlak 2 mag ’n maksimum van 750 mense nou binnenshuise byeenkomste bywoon mits dit nie meer as 50% van die vertrek se kapasiteit oorskry nie. Die maksimum vir buitemuurse byeenkomste is verhoog na 2 000. Die vergunnings is onderhewig aan die nougesette nakom van gesondheidsprotokols en sosiale afstand.

Die sameroeper van die byeenkoms bly aanspreeklik om toe te sien dat die voorgeskrewe Covid-maatreëls nagekom word. Sowel die organiseerder en deelnemers van byeenkomste kan krimineel aangekla word indien daar meer mense is as wat toelaatbaar is in terme van die nuwe Vlak 1-maatreëls.

  • Nagwake bly verbode

Die toelaatbare getal roubeklaers vermeerder vanaf 50 tot 100. Nagwake voor en byeenkomste ná begrafnisse bly steeds verbode.

Inentingsveldtog mik vir 70% teen Desember

Die president het burgers aangemoedig om hulle te laat inent teen Covid-19. Die mikpunt is om 70% van die volwasse bevolking teen Desember ingeënt te hê ten einde die uitbreek van ’n vierde vlaag van infeksies te probeer voorkom.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top