Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Digitaliteit: ’n Geskenk vir die missionale veld

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Anandie Greyling gesels met prof Stephan Joubert oor digitaliteit as ’n missionale bedieningsveld.

Opreg is waarskynlik die woord wat ek sal gebruik om na professor Stephan Joubert te verwys, na ’n on­langse onderhoud met Kerkbode.

Hy vertel hoe digitaliteit in sy eie lewe uitgespeel het, hoe dit op ’n persoonlike vlak hom beïnvloed het en ook later ’n bediening geword het. Joubert is al vir etlike jare besig met geloofsvorming in ’n digitale wêreld, maar sy aanslag in die onderhoud was een van sáám gesels eerder as om net kennis of wysheid vinnig te probeer oordra. Hierdie is iemand wat nie net wil skryf en praat nie, maar ook graag luister. Iemand wat diep omgee oor die kerk en daarom wil hy aanhou skryf, praat en luister.

Joubert deel met ’n egte opgewondenheid dat digitaliteit op ’n besonderse wyse deel is van die missionale veld van God. Hy beskou dit as ’t ware as ’n geskenk vir die kerk – wat mos juis missionaal is. Aangaande die tema van digitaliteit, deel Joubert, dat ons moet onthou dit nie net teoloë is wat daaroor besin of navorsing doen nie. Nee, daar word vanuit filosofiese, sosiologiese, antropologiese en sielkundige per­spektiewe gesoek na ’n “eietydse diskoers”, verduidelik Joubert.

LEES OOK: Anandie Greyling praat oor Bianca van Graan

“Digitaliteit kan liggaamloos voorkom,” vertel Joubert. Tog, as ons die mens holisties beskou, is dit dalk eerder ’n “intrek en deel wees van ’n virtuele wêreld”. Dit is eintlik ’n nuwe liggaamlikheid wat beliggaam word. Joubert verwys byvoorbeeld na digitale oogkontak en dat mense anders aanlyn na mekaar ‘kyk’. Op daardie noot meen hy ook dat dit nie net is om voor ’n skerm te sit en net te kyk nie. Nee, meen Joubert, ons beweeg op ’n ander manier liggaamlik ‘rond’ en word anders ingetrek in die digitale wêreld. Maar ons word liggaamlik betrek!

Prof Stephan Joubert is buitengewone professor: Eietydse Ekklesiologie, Universiteit van die Vrystaat, en stigterleraar van ekerk.

Joubert deel ook dat daar ’n merkwaardige verskil is tussen religie aanlyn teenoor aanlyn religie. Religie aanlyn is byvoorbeeld om ’n aanlyn retreat te hou. Hy deel ook dat hy bewus is van gemeentes wat dit in hierdie grendeltyd gedoen het. Dit is interessant dat hierdie tipe digitale ervarings juis geleentheid geskep het vir mense om in ’n mate meer as vantevore met ’n groep mense te deel. ’n Mens sou kon wonder of mense veiliger voel om in hierdie aanlyn spasies te deel.

Joubert meen dat digitaliteit vir mense dit moontlik maak om hulle pyn op ’n ander wyse te verwoord.

LEES OOK: Marileen Steyn gesels met Charl Stander oor kerklike tug

Aanlyn religie, meen hy, is om byvoorbeeld preke of ander geleenthede ook op die gemeente se webblad of ’n ander tipe sosiale ‘hub’ te laai. Dit is inpersoon geleenthede wat ook digitaal gedeel word. Joubert verduidelik dat daar as ’t ware ’n tipe pendulum is wat na albei kante, religie aanlyn en aanlyn religie, swaai en dat dit ook nodig is om daaroor te besin oor hoe om tussen die twee punte te beweeg.

“Digitaliteit is ’n missionale geskenk,” sê Joubert. ’n Geskenk vir ’n missionale roeping. Voorheen, vertel Joubert, het groot getalle mense bymekaar gekom vir Bybelskole, maar nou kan ons kies om die geskenk van kleiner en meer intieme groepe te ontdek. Waar mense in hulle geloof verdiep en hulle pyn met mekaar deel.

LEES OOK: Marileen Steyn gesels met Pierre Engelbrecht

Joubert deel met my die Griekse woord parousia, wat tradisioneel verwys na die wederkoms, in die oorspronklike Grieks. Maar Joubert meen dit kan ook dui op teenwoordigheid. Hy gebruik die voorbeeld van wanneer iemand ’n brief aan iemand anders skryf en die brief die sender as ’t ware aanwesig stel. Amper soos Paulus se briewe: Wanneer die gemeente dit lees, is dit amper asof Paulus by hulle is. Digitaliteit, verduidelik Joubert, bring ’n nuwe parousia na vore. ’n Nuwe manier van teenwoordigheid uitdruk en beleef.

Joubert is opgewonde oor mense wat kreatief is met die digitale wêreld as sendingveld en wat dit al hoe meer ontdek, metafories inkleur en verf. Mense wat fokus om moontlike gawes vir die kerk eerder as digitale gapings raak te sien, maak hom besonders hoopvol oor hierdie sendingveld.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2021/03/anandie.jpg” caption=”Ds Anandie Greyling is verbonde aan die NG gemeente Pierre van Ryneveld.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Ek vra hom uit oor digitale geloofsvorming wat spesifiek in ander spasies as in die erediens of Bybelstudies plaasvind. Hy noem dat mens in hierdie digitale spasies eg moet wees en tog grense behou. Hy verwys na digitale pastoraat of huis­besoek as ’n moontlikheid, byvoorbeeld met e-posse. Joubert maak ’n interessante opmerking: “Ek hou by die medium wat iemand gekies het om met my te kommunikeer,” soos byvoorbeeld as iemand vir hom ’n e-pos stuur dan bly hy by daardie digitale grens om per e-pos te bly kommunikeer.

Ander moontlikhede en gawes vir geloofsvorming, deel Joubert, kan digitale ondersteuningsgroepe of selfs substansafhanklikheidsgroepe insluit. Kan jy jouself indink hoe iemand nie meer bekommerd hoef te wees oor die stigma om by ’n spesifieke inpersoon ontmoeting op te daag nie? Hy noem ook geslote kletsgroepe waar mense oor bepaalde temas in ’n veilige spasie saam kan gesels en in hulle geloof kan verdiep.

Digitaliteit klink vir my ook meer soos ’n missionale geskenk! Ek hoop om dit saam met ander al hoe meer te kan ontdek en my eie verfkwas op te tel in die digitale wêreld.

  • Prof Stephan Joubert is buitengewone professor: Eietydse Ekklesiologie, Universiteit van die Vrystaat, en stigterleraar van ekerk.

▶ Ds Anandie Greyling is verbonde aan die NG gemeente Pierre van Ryneveld.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top