Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Chris de Vries is dominee by Kopanong, die studentegemeente in Bloemfontein,. Hulle belangrikste weeklikse byeenkoms word genoem Bron, want soos die boer in Australië het hulle ontdek dat die oprig van fonteine ’n beter manier is om kerk te wees in ’n land met soveel diversiteit as die bou en in stand hou van grense.

Chris de Vries se diverse studentegemeente in die Vrystaat

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Chris de Vries se gunstelingverhaal gaan oor ’n boer in een van die mees afgeleë plekke in Australië. Toe iemand hom uitvra oor al die uitdagings van draadheinings, veral die instandhouding daarvan in so ’n enorme groot gebied, antwoord die boer: “Here we do not erect fences, we sink wells.”

Dit is die water wat lewende wesens daar bymekaar bring, nie grense nie.

Chris is dominee by Kopanong, die studentegemeente in Bloemfontein,. Hulle belangrikste weeklikse byeenkoms word genoem Bron, want soos die boer in Australië het hulle ontdek dat die oprig van fonteine ’n beter manier is om kerk te wees in ’n land met soveel diversiteit as die bou en in stand hou van grense.

Hy vertel van ’n erediens wat ’n groot effek gehad het op hoe hulle vandag dink. Die diens was in Afrikaans. Marius, Chris se kollega op daardie stadium, het gepreek. Drie studentemeisies in die voorste ry het na ’n ruk opgestaan en uitgestap. Toe Chris dit sien, hardloop hy agterna. Hy het hulle uiteindelik ingehaal in die portaal en gevra of iets fout is, waarop hulle baie vriendelik verduidelik het dat hulle jammer is, maar hulle verstaan nie die taal nie. Hy het hulle genooi om agter in die kerk te sit, want hy wou hulle nie “op die spot sit nie” en vir Marius gevra om die res van die erediens in Engels te doen sodat almal kon verstaan. Vandag is al hulle dienste in Engels, al is ’n klomp van die studente wat dit bywoon Afrikaans.

“Daar was sekerlik Joodse ooms wat vies was omdat Paulus destyds in Grieks, nogal die taal van die verdrukker, gepreek en geskryf het,” sê Chris, “maar taal is eintlik bloot ’n instrument in diens van die evangelie. Die belangrikste is dat soveel mense moontlik verstaan.”

Die plek waar hulle kerk is, die kampus van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein, is ’n diverse plek met mense van baie kulture, en as ’n mens daar ’n verskil wil maak – en nie net besig wil wees met jou eie groepie nie – moet jy sekere aanpassings maak. Ook as jy studente wil voorberei om hulle getuienis uit te leef in ’n land soos dié.

Sondae se eredienste by Kopanong, net soos hulle weeklikse Bron-byeenkoms, is nogal iets om te beleef. “Die diversiteit is sigbaar en real,” sê iemand.

Vrydae het hulle ’n aksie wat hulle noem, Fun-Friday, waar almal sommer net saam pret het. Behalwe vir die weeklikse aksies en eredienste is die studente ook betrokke by ’n verskeidenheid uitreike in die plaaslike gemeenskap asook op ander plekke in die land waar daar nood is.

Lees ook: Nelis Janse van Rensburg: ’n Nuwe soort politiek

Chris vertel dat hulle al meer as een keer die versoeking moes weerstaan om getalle bo diepte te kies. “Ons kies kleiner en dieper. ’n Liggaam wat vriende en familie is oor verskeie grense heen. Ons lidmate en leierskap kom uit all walks of life, en ons het toestemming van die Vrystaatse Sinode dat ons kerkraad nie belydende lidmate hoef te wees nie. Dit is nogal cool om ’n African Independant Church member op jou kerkraad te hê,” sê hy.

Iets wat hom erg frustreer is wanneer kerkmense nie ernstig is oor die idee dat letterlik elke mens inherent na die beeld van God geskape is nie.

Chris het ’n passie vir die evangelie en ’n passie om mense bymekaar te bring. Sy groot strewe is om ’n vredemaker te wees en saam met ander iets van die oorspronklike idee van “die gemeenskap van gelowiges” in ons tyd te herontdek.

Waar het dit alles vir Hom begin?

Hy vertel dat hulle baie rondgetrek het as kind. In Bloemhof was sy gimnastiekafrigter ’n plaaslike dominee met die naam Sterns. Hulle het dikwels na oefening oor diep dinge gesels. Die gesprekke het ’n groot effek gehad op Chris se idees oor die Here, kerkwees en uiteindelik sy besluit om teologie te studeer. “Vandag is hy steeds ’n mentor en hartsvriend,” sê Chris.

Na die voltooiing van sy studies in Bloemfontein het Chris vir ’n tyd lank konstruksiewerk gedoen, waar sy oë oopgegaan het vir hoe hard ’n klomp mense in Suid-Afrika elke dag werk om vir hulleself en hulle gesinne te kan sorg of bloot net kos op die tafel te sit.

Chris en sy vrou Deo-marie het ’n paar jaar gelede hulle huis as ’n plek van veiligheid geregistreer, maar toe die eerste seuntjie by hulle geplaas word, besluit hulle om hom aan te neem, later die sussie ook. Ek vra hom wat hy anders sou doen as hy weer die kans kon kry om teologie te swot, as hy destyds geweet het wat hy nou weet oor Suid-Afrika en die kerk.

“Ek dink ek sou vroeër ’n meer diverse vriendegroep wou kies, en ook vroeër bereid wou wees om te waag, delf, ontdek in plekke en mense wat anders is as ons blote Afrikaanse boksie,” sê hy.

Waaraan hou hy vas as dit rof gaan?

“Daar is hierdie scene in die movie Prince of Egypt waar God Homself aan Moses wys in die brandende bos. Moses dink mooi verskonings uit, en dan maak God sulke groot statements oor wie Hy is en wat Hy doen. Daarna versag sy stem, en sê Hy: ‘Oh Moses …’ met so ’n amper moedelose, maar tog so ’n deernisvolle stem. Asof God hom in sy verlorenheid verstaan. Ek hou vas daaraan dat God my in my verlorenheid verstaan, en dat God ’n mystery is, dieper as wat ons belydenisse en verbeeldings kan verstaan. Ek hoor Hom sê: ‘Oh Chris …’

Wat is Chris de Vries se grootste motivering?

“Wat my die meeste energize is die wete dat God ons met ons hangups en stukkende menswees vertrou en innooi in die bediening van versoening,” sê hy.

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo-Jeuggemeenskappe.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top