Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die kerk sal moet help teen dié pandemie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Hulle staan op elke straathoek en word daagliks meer. “Net R20 vir vyf penne, meneer,” by die volgende verkeerslig probeer ’n jongman tuisgemaakte ketties verkoop. Skaars ’n kilometer verder staan ’n ma met ’n dogtertjie aan die hand: “Ons is honger, meneer.” ’n Entjie verder eet iemand gulsig aan ’n toebroodjie onder ’n koelteboom … Hulle is sonverbrand en moedeloosheid en hooploosheid is sigbaar in hulle oë. Hulle is die slagoffers van ’n pandemie veel groter as Covid-19. Hulle is die slagoffers van armoede – en daarvoor is daar nie entstof nie. Die kerk, elke NG gemeente sal intensief moet betrokke raak by die lot van hierdie mense.

Die geskiedenis leer dat die kerk reeds in die verlede suksesvol was daarmee. Die NG Kerk het reeds in 1892 sy besorgdheid uitgespreek oor die “zinkend deel” van die Afrikanergemeenskap. Die “verskroeide aarde”-beleid tydens die Anglo-Boereoorlog, die Rebellie van 1914, die Groot Griep van 1918 en die Depressie en droogte van 1933 het bykans ’n derde van die Afrikanergemeenskap in uiterste armoede gedompel. Volgens die bekende Carnegieverslag was daar teen 1930 sowat 300 000 Afrikaners wat as armblankes geklassifiseer is. Die roeping van die NG Kerk in hierdie tyd is raak saamgevat in die woorde: “Die siel van die redding is die redding van die siel.” Hierdie gebeure het gelei tot die eerste Volkskongres wat van 3-5 Oktober 1934 in Kimberley plaasgevind het. Tydens die waterskeidingskongres is onder meer doelbewus gekies om met die staat saam te werk in die stryd teen armoede en om betrokke te raak by die opleiding van maatskaplike werkers. Die Hugenote Kollege op Wellington het hierin ’n pioniersrol gespeel.

Lees ook: Nelis Janse van Rensburg | ’n Nuwe soort politiek

Op gemeentevlak het hulp aan armes sy plek gevind onder leiding van die diakens terwyl die hulpdiens na die breër kerkverband uitgebrei is, waar ringskommissies en sinodale kommissies vir die Diens van Barmhartigheid tot stand gekom het. Hierdie gebeure het die groeiende armoede onder Afrikaners so doeltreffend gestuit dat president Nelson Mandela in sy toespraak voor die Algemene Sinode van 1994 spesifiek daarna verwys het.

In die Suid-Afrika van 2021 is die uitdaging natuurlik nie net tot armblankes beperk nie en daarom soveel groter. Terwyl ’n groot gewag gemaak word van die Covid-19-pandemie en die debat om in te ent of nie, staan ’n man met sy selfgemaakte ketties nog steeds op die straathoek – in die hoop dat ’n barmhartige samaritaan een sal koop.

Die NG Kerk sal soos in die verlede moet help teen hierdie groeiende pandemie.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top