DEEL 4 | ‘CHRISTUS RED MEER AS NET ONS SIEL’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Hierdie is ’n reeks van artikels waar die skrywer poog om die kontoere van die teologiese middelgrond vir die NG Kerk te beskryf. Christo Benadé skryf dat die lyding en sterwe van Jesus aan die kruis “implikasies het vir die hele menslike bestaan en nooit verskraal kan word tot slegs die redding van ons siel nie.”

Die feit dat Jesus gesterf het om ons te red, mag nooit vervaag tot ’n voetnota van ons geloof nie. Die boodskap van redding is sentraal in die Nuwe Testament en ook in die selfverstaan van die vroeë kerk. ’n Groot prys is betaal om ’n nuwe lewe vir ons moontlik te maak. Dit is egter nie die enigste goeie nuus wat die evangelie vir ons het nie. Hierdie redding sluit in dat ons in die hoop leef dat daar vir ons ’n ewigheid wag saam met God as ons sterf … maar ook veel meer as dit. Daar bestaan ’n breë konsensus oor die beginsel dat ons gered is deur Christus. Waaroor daar wel verskille is, is die omvang van hierdie redding. ’n Oortuiging wat lank dominant was, en soms nog gehoor word vanaf kansels en in gesprekke, is dat Christus se sterwe eintlik net ons siel kom red het, dat ons hierdie redding sal beleef as ons sterf. Hoe ons redding verstaan, verklap egter iets van ons Godsbegrip en beïnvloed die missionale aktiwiteite waarop gemeentes sal fokus.

Die Bybel gee nie vir ons ’n mooi verpakte teologie van redding nie maar wel ’n paar duidelike perspektiewe. Redding in die Ou Testament (OT) en Nuwe Testament (NT) word soms teenoor mekaar gestel. Ons kan maklik dink dat God sy volk net red uit eksistensiële uitdagings in die OT, byvoorbeeld droogte, Egipte of die Filistyne. Walter Brueggeman help ons om te verstaan dat die OT nie werk met ’n materiële/geestelike dualisme (teenstelling) nie. Die volk het God gesien as hulle redder in die persoonlike en openbare arenas, in hulle onmiddellike werklikhede en die toekoms. As God sy volk uit Egipte of ballingskap verlos, dan het die verlossing ekonomiese, fisiese, sosiale, kulturele en geestelike implikasies. Hulle kan weer in hulle eie land, as vry mense leef, werk en God in hulle eie tempel aanbid.

In die NT is die geestelike dimensie van redding baie nader aan die oppervlak. Tog sien ons ook die voortsetting van die OT se holistiese perspektief op redding. Jesus se aardse lewe en verkondiging van die evangelie geskied in die konteks van ’n onderdrukkende politieke sisteem wat geen ander gesag as die aardse keiser ken nie. Om Christus as Here te bely is om Caesar as Here te ontken – ’n revolusionêre daad wat jou jou lewe kon kos. Tog bely die gelowiges Jesus as enigste koning wat hulle ook verlos van aardse onderdrukking. In Lukas en Handelinge (Luk 8:48; Hand 4:8-10) kry ons ’n baie nou verband tussen geestelike verlossing en fisiese genesing. As Jesus die melaatse genees (Luk 17:11-19), bring dit vir hom sosiale herstel (hy raak weer deel van die gemeenskap) en ook geestelike herstel (hy kan saam met die ander aanbid).

In die sendinggeskiedenis is daar pragtige voorbeelde van sendingstasies wat na die mediese en opvoedkundige sowel as die geestelike behoeftes van die mense omgesien het. As ’n mens mooi na die teologie daaragter kyk, blyk dit dat die mediese en opvoedkundige aksies in baie gevalle gesien is as wyses om die guns van die mense te wen en die Westerse kultuur te bevorder en nie as deel van ’n omvattende perspektief op redding nie. Die aktiwiteite het ’n missionêre dimensie gehad maar nie ’n missionêre intensie nie.

Augustinus het ’n groot invloed op die Westerse siening van redding gehad. In reaksie op Pelagius se teologie, ontwikkel hy ’n verstaan van redding wat fokus op die ewige (transendente) en persoonlike (individualistiese) aspekte van redding. Die spore van sy siening kan later ook in die teologie van die reformasie gesien word. Hierdie individuele fokus van redding ontwikkel tydens die verligting verder tot ’n klem op die persoonlike ervaring van redding. Soos individualisme gegroei het in ons selfverstaan is redding ontwortel van die kollektiewe en holistiese dimensies van redding. Al wat belangrik was, was “ek en Jesus in my klein hoekie”.

Gelowiges wat onderdrukking ervaar het, is deur die eeue heen gedra deur ’n geloof dat God nie net belangstel in ons siele nie, maar in ons hele menswees (sien Belydenis van Belhar), dat God se redding geestelike vryheid beteken maar ook implikasies het vir al ons lewensdimensies. Dit sluit onder andere in bevryding van verslawing, ekonomiese, politieke en sosiale onderdrukking, fisiese gesondheid, armoede, depressie, toksiese verhoudings, en so kan ons aangaan.

Dit waarmee ons ons besig hou in gemeentes, word beïnvloed deur ons siening van die omvang van dit wat Christus vir ons aan die kruis verdien het. Ons kan die evangelie van verlossing van sondes verkondig, maar ook die bevryding van onderdrukking, die menswaardigheid van almal as beeld van God, die bevryding van verslawing, geregtigheid vir dié wat onderdruk is, genesing van siekte, die marginaliseerde wat deel word van die geloofsgemeenskap en reg en geregtigheid te midde van korrupsie en misdaad. Die lyding en sterwe van Jesus aan die kruis het implikasies vir die hele menslike bestaan en kan nooit verskraal word tot slegs die redding van ons siel nie.

Dr Christo Benadé is predikant van die NG Gemeente Suider-Strand en voorsitter van die Ring van Somerset-Wes.

Word 'n vriend van Kerkbode