President Cyril Ramaphosa het op Sondagaand (28 November) tydens ’n regstreekse uitsending aangekondig dat, ten spyte van die ontdekking van die nuwe variant van die Covid-19-virus, die kabinet besluit het om die land vir eers op Koronavirus-vlak 1 te hou.
Die nuwe variant, genaamd Omicron, is verantwoordelik vir die meeste van die nuwe Covid-infeksies in Gauteng – die provinsie tans met die hoogste infeksiesyfer. Ramaphosa sê die huidige toename in infeksies word fyn dopgehou in afwagting van ’n moontlike vierde vlaag in Desember.
Die regering kyk ook daarna om inenting ’n verpligte voorwaarde te maak vir toegang tot sekere plekke en geleenthede. Entstowwe bly die mees effektiewe wapen teen die verspreiding van die virus, het hy gesê en landsburgers aangemoedig om hulle te laat inent.
Vir kerke beteken dit eredienste en ander kerklike bedrywighede mag voortgaan, onderhewig aan die beperkingsmaatreëls in plek gestel in Oktober. Dit sluit in:
Maksimum 750 mense by binnenshuise eredienste toegelaat – Tot 750 mense mag binnenshuise byeenkomste bywoon mits dit nie meer as 50% van die vertrek se kapasiteit oorskry nie. Die maksimum vir buitemuurse byeenkomste is 2 000. Die vergunnings is onderhewig aan die nougesette nakom van gesondheidsprotokols en sosiale afstand.
Maksimum 100 roubeklaers by ’n begrafnis. Nagwake bly verbode.
Gesigmaskers wat neus en mond bedek bly verpligtend.
Vars lug is belangrik. Hou sover moontlik byeenkomste in die buitelug. Indien in ’n vertrek, hou die vensters oop.
Die land se situasie ten opsigte van infeksievlakke sal oor ’n week hersien word.
