Staatsgedenkdiens vir FW in Groote Kerk gehou

’n Staatsgedenkdiens vir wyle voormalige staatspresident FW de Klerk vind hierdie Sondag 12 Desember vanuit in die Groote Kerk in Kaapstad plaas. Die ekumeniese diens sal gelei word deur die Anglikaanse aartbiskop Thabo Makgoba.

In lyn met Covid-beheermaatreëls sal bywoning beperk word. Die diens Sondag, wat om 10:30 begin, sal regstreeks uitgesaai word via YouTube.

Die kerkraad van Kaapstad- Groote Kerk verwelkom luidens ’n verklaring op hul webblad vir De Klerk se familie en die genooide gaste Sondag in hul gebou. Terselfdertyd het hul ook “diep begrip en sensitiwiteit vir die gesprekke wat rondom wyle voomalige President de Klerk se dood in die land opgevlam het”.

“Die aard van hierdie gesprekke en die emosie daarby betrokke is vir ons, en vir alle Suid Afrikaners, ‘n belangrike aanduiding van die diep gesetelde verwondheid en trauma wat baie in ons land steeds beleef as gevolg van ons geskiedenis van onderdrukking…Die Groote Kerk Kaapstad bly met diep berou bewus van ons eie aandeel in die historiese onreg en ook ons verantwoordelikheid om aktief mee te werk aan die proses van geregtigheid, restitusie, genesing en herstel. Ons is immers ook vas oortuig dat hierdie soeke na geregtigheid vir almal aan die hart van die versoeningsboodskap van Christus staan. Suid Afrika het baie sosiaal-maatskaplike uitdagings en grootskaalse ongelykheid wat oorbrug moet word indien ons waarlik vrede en ‘n hoopvolle toekoms vir alle Suid Afrikaners wil bewerkstellig,” lui die verklaring.

Lees die volle verklaring HIER.

Die 85-jarige FW de Klerk is op 11 November by sy huis in Fresnaye in Kaapstad aan kanker oorlede. ’n Privaat verassing en diens is reeds in November gehou.

Word 'n vriend van Kerkbode