Die relatiwiteit van ‘erg’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ds Rudi Swanepoel en sy huismense is in isolasie. Hulle het die ‘pes’ (Covidvirus). Genadiglik is niemand báie siek nie, maar tyd vir dink en worry is daar baie. Daar is darem nog hoop, skryf hy.

Ek weet wat ek vir Kersfees wil hê: reuk en smaak. 

Dis nou al sewe lang (maar kort) dae gelede sedert die sms’ie aangekom het. Die pes is hier, dis nie net ’n sinus (met ’n loopneus nie), jy gaan binne bly boetie en nou en dan bietjie proes en worry ook. 

Jy is nie alleen nie. Soos ’n wolkbreuk gewoonlik eers net druppels bring, so hoor jy hier en daar van iemand wat in dieselfde bootjie is en dan sommer van baie. Jy troos jou daaraan dat die ding hierdie rondte vreeslik aansteeklik is en dat jy dit enige plek kon gekry het, maar dis ‘n flouerige troos, want wat as jy nou aanneem álmal kry dit lig en jy relax en iemand wat dit nie kan bekostig om dit te kry nie kry dit by jou of iemand wat nie geïmmuniseer is nie kry dit en dan? 

Jy dink te veel. 

Binne ’n paar dae is meeste van jou gesinslede (en hulle is nie min nie) ook siek. Vakansieplanne verander, word gekanselleer. (Terloops: ‘kanselleer’, ‘opgeskort’ en ‘uitgestel’ moet van die ongewildste gewilde woorde van die afgelope 21 maande wees. Ook die hartseerste.) 

Maar siek is relatief, want julle is nie báie siek nie. Genadiglik nie. Jy wonder wat die redes sou wees: bloot die variant, die effek van die inenting, die feit dat julle nie onderliggende dramas (of slegtes) het nie, wat? 

Jy wonder te veel. 

Hoewel jy regtig nie eintlik baie siek is nie, is jy nie vir baie lus nie. Dit voel snaakserig in jou kop: bewolkerig, deinserig, muwwerig. Is dit regtig so of is dit die nadraai van Novemberitis en die teleurstelling van die kanselleerdery en die impak op alles en almal?

Jy probeer te hard verstaan. 

Nog vriende en kennisse van heinde en verre whatsapp en laat weet van positiewe toetse. Jy hoor nie weer nie, hopelik beteken dit dat hulle nie baie siek is nie. Hier en daar laat weet iemand dat hulle gatvol is vir isolasie (of nader aan die randjie van mal as gewoonlik) en derhalwe gaan uitbreek. Jy sien iemand, darem ‘n soort van regte ekspert, tweet dat ’n korter isolasieperiode in hierdie stadium nie ’n totaal kriminele idee is nie en skep moed. 

Jy het darem nog hoop. 

Elke keer as jy iets in ’n bord sit of in ’n glas gooi, toets jy die graad van jou waarneming. Teen dié tyd weet jy dat sommige mense se reuk en smaak na net ‘n paar dae terugkeer, maar ander s’n maande lank talm en ‘n klein groepie kla dat hulle steeds uiters uitheemse klankies in hemelse substanse soos die vrug van die wingerd waarneem. Die gedagte vul jou met vrees, maar rede oortuig jou dat dit nie die ergste sal wees nie. Of sal dit?

Jy onthou dat ‘erg’ érg relatief is. 

As jy soggens opstaan, is deel van jou reboot om te begin onthou watter nagtelike hoofstukke waar is en watter blote drome. Jy besef dat ’n paar klein nuwe nagmerrietjies (is hulle vulletjies?) nou deel is van almal se lewe. 

Jy verbeel jou jy ruik ten minste al jou koffie, of ’n herinnering daaraan.

Dalk is dit al wat jy nou moet doen: onthou.

  • Rudi Swanepoel is ’n leraar by die Andrew Murray Gemeente in Johannesburg. Die skrywe van hom het hy op sy facebookprofiel gedeel en word hier met sy toestemming gepubliseer. Red.
Word 'n vriend van Kerkbode