Daar waar die krip was

Hoe sal dit wees om Kersfees in Jesus se geboortedorp te vier? Om op Kersdag in die geboortekerk te kom? Dalk is dit moeilik om in dié tyd so iets vanuit Suid-Afrika te reël. Maar daar is tog iemand wat vir ’n unieke besoek sorg, skryf Gert Pretorius.

Daar was ’n aanvoelbare opwinding by almal. Al het ons goed geweet Jerusalem is die hoogtepunt van ons toer, het die vooruitsig om twee nagte in Jerigo te slaap die hele groep se afwagting laat styg. 

Behalwe miskien vir die busbestuurder. Vir hom is dit ou nuus. 

Hier agter my het iemand gesê die wêreld se oudste stad gaan almal laat jonk voel, ons weer arendsvlerke laat kry.

Ja, dit was opwindend om in ou-ou spore te loop in die stad waar die kronieke die stories ken. Van vroeëre inwoners se vrees vir die horde woestyntrekkers uit Egipte wat in Jerigovlakte kom kamp opslaan, die stoet manskappe wat al om die vestingstad loop en met ’n geskreeu die mure laat ineenstort.

En van Jesus, eeue later, wat ’n manmoedige blinde man laat sien het. 

Op ons volgende skof klim die opwinding nog hoër: Ons ry suidweswaarts, Betlehem toe. Rigting Jerusalem. 

Maar juis hier ruk ’n groepie Bedoeïene langs die pad my gedagtes genadeloos terug na die regtige lewe. 

Hulle is nie ’n hedendaagse groep herders in Betlehem se oop veld nie; dis ontheemde trekboere wat in ellendige omstandighede aan hul ou leefwyse probeer vasklou. Deesdae bring ’n kleiner grondgebied en die gepaardgaande weidingskaarste broodnood mee, en swak gesondheidsorg, groot gesinne, tienerswangerskappe. 

En die boorgate wat die omgee-organisasies gesink het, is vér …

Betlehem

Anders as die dor woestynrante teen die horison, is daar in die Dawidstad baie groen bome en struike, selfs gras. Die ou geboue is meestal van klip en steen wat dit ’n liggrys, ligbruin kleur gee. Die geheelbeeld is sag, vriendelik.

Ons groep se eerste bestemming is die Geboortekerk, daarna die Herdersvelde buite die stad. Ander toeriste snuffel ook vir aandenkings, of besoek die omstrede skeidsmuur wat deur die stad loop, opgerig as ’n skans teen politieke geweld. 

Hier het dit ook ’n doek vir muurskilders geword. Bekende karakters uit strokiesprente pryk daar en, natuurlik, slagspreuke. Die winkels verkoop selfs patroonplate en spuitverf waarmee jy in ’n kits jou eie boodskap teen die muur kan laat. 

Bethlehem1
Die Geboortekerk op Betlehem is een van die dorp se grootste toeristebestemmings. Dit word gesamentlik bestuur deur die Grieks-Ortodokse, Armeense en Rooms-Katolieke Kerk.

Die Geboortekerk

Die Geboortekerk is die grootste trekpleister. Dis opgerig waar Jesus, volgens die vroeë kerkvaders, gebore is. Reeds 17 eeue lank word die evangelie hier verkondig; dis die oudste Christelike kerkgebou wat steeds in gebruik is. 

Met verloop van jare is dit verander en vergroot, verskeie kere. Vandag bestuur drie geloofsgroepe dit saam – die Grieks-Ortodokse, Armeense en Rooms-Katolieke Kerk. Elkeen is verantwoordelik vir ’n gedeelte daarvan. Baie gepas pryk die bekendste Christelike simbool, ’n kruis, op die koepeltoring. 

Gou-gou word ons deel van die stroom besoekers wat oor die geplaveide plein na die gebou toe stap. Toe kom die nuus soos ’n skoot koue water op ons af: Daar word opknappingswerk in die binneruimte van die statige ou klipgebou gedoen.

Die tou besoekers skuifel dus tussen steiers en stroke swart plastiek deur. Maar steeds oorweldig die hoë marmerpilare en antieke muurversierings jou. Die goue stroke in die spierwit koepelplafon. Die enorme kandelaarligte wat aan hoë dakbalke hang. 

Soos ons almal stilweg verwag het, is die treffendste deel van die gebou die grot waar Jesus volgens oorlewering gebore is – daar waar God deur die grens tussen tyd en ewigheid gebreek het. Waar Hy Homself vermenslik het, ver-vlees het. 

In die klein kripruimte herinner ’n 14-punt ster op die vloerteëls ons aan die 14 geslagte wat in elk van die uitstaande tydperke in die Messias se voorgeskiedenis geleef het. Bokant die ster hang 15 lampe wat deur die drie kerkgroepe gekies is. 

Juis by dié gewyde plek was dit my stille wens dat alles eerder moes gelyk het soos dit oorspronklik was. Sodat marmerteëls en ander versierings my nie laat vergeet dat arm buiteslapers die eerstes was wat van Christus se geboorte gehoor het nie. 

Of dat die Seun van die mens nie eens, soos jakkalse en voëls, ’n eie rusplek gehad het nie. 

’n Selfs groter wens was om alleen, sonder gejaagdheid, daar te kon wees. 

En toe maak die koronavirus dit sowaar moontlik!

Bethlehem2
In die klein kripruimte herinner ’n 14-punt ster op die vloerteëls ons aan die 14 geslagte wat in elk van die uitstaande tydperke in die Messias se voorgeskiedenis geleef het. Bokant die ster hang 15 lampe wat deur die drie kerkgroepe gekies is.

’n Spesiale Kersfees 

Soos oral was die einde van 2020 ook in Israel ’n tyd van inperking. Die aanslag van die pandemie is met alle mag, middele en maatreëls beveg. Die paaie was sonder die gewone busse en fietsryers. 

Vir Stephanie Saldaña, ’n skrywer van Jerusalem, was dit ’n goeie geleentheid om Betlehem toe te gaan. Dalk is die rye mense by die Geboortekerk dan korter. Sy en haar gesin woon in Jerusalem en hulle ken die Dawidstad.  

Stephanie is ’n boorling van Texas, en ’n oudstudent in teologie en godsdiens aan Harvard-universiteit. In Damaskus het sy op grondvlak meer gaan leer. Haar blootstelling aan dié stukkende wêreld met sy mosaïek van tale, mense en kulture het haar verhouding met die Here verdiep. Daaroor skryf sy graag.

Op Kersdag stap sy die sowat nege kilometer van Jerusalem na Betlehem. My soekmasjien se satelliet-oog neem my saam met haar.

Dié tyd van die jaar hang die lemoene oranje aan die groen bome en skyn die son sagter op stappers neer. ’n Hoed en waterbottel is al wat nodig is. Haar lesers wat wil saamstap het net gewone verbeelding nodig. 

Betlehem en Jerusalem lê elk op ’n heuwel, maar dis nie ’n moeilike staproete nie.

Die leë stad lyk amper onbekend. Winkels en hotelle is toe. Kersversierings bestaan omtrent nie. Nêrens is daar enige toeriste nie. Jy is skoon onseker oor waar om af te draai. 

Die groot verrassing is dat die groot ou klipkerk se klein ingangsdeurtjie wel oop is. Al die ander aanbiddingsplekke is steeds toe. 

In die byna leë gebou kom die tyd van Jesus se geboorte helder by jou op: sy herberglose ouers, die jubelende herders, sterrekundiges se aanbidding. Die wrede kindermoord.

Stephanie sê dat sy, as sy by die trappe afgaan na die grot, telkens hoor: “Hy het Homself verneder, leeg gemaak, ’n dienskneg geword.”

Om alleen by die plek van die krip te kniel, bring ’n knop in jou keel. Hier waar die ware lig deur ons donker gebreek het. 

Jou kop buig. Jy kniel. Verwondering wel in jou op. Jou oë is nat. Dis die soort woestynervaring van ’n veewagter by ’n brandende doringbos. Van binne is jy kaalvoet, jy fluister skaars: “Hier is ek …”

Toe ons later uitstap, steek Stephanie ’n kersie by die goue bak aan, met ’n gebed vir almal vir wie sy lief is. 

Ek wil dit ook doen. Vir my mense. Vir die verarmde Bedoeïene. Vir die miljoene haweloses wêreldwyd. Vir die nood van kinders. Ook vir die Here se kerk se groot taak.

Ons draai huis toe. Die besoek is verby. Maar Kersfees gaan nooit verby nie. 

Jesus se geboorteplek: Wat sê die Skrif? 

In die blaadjie van St Nic’s in Nottingham, Engeland, waarsku Ian Paul die gemeente elke jaar dat Kersfeestradisies tot gevolg mag hê dat gelowiges ’n belangrike waarheid miskyk. 

In God se tydrooster het die engel aan Maria verskyn kort voor keiser Augustus ’n sensus aangekondig het. (Waarskynlik om ’n register van Romeinse burgers én ’n belastinghouvas op nie-Romeine te verkry.) 

Josef moes, volgens die Joodse gebruik, in Betlehem aanmeld. Hy en Maria moes daarheen gaan, want sy familie kom daarvandaan. Die Nuwe Testament noem Betlehem “die stad van Dawid”, dit is die plek waar Dawid grootgeword het.

Met ’n hoogswanger vrou kon die reis vier dae lank duur. Sou daar ’n  oorblyhuis in dié dorpie wees, was daar moontlik teen die aand – in sensustyd – nie meer plek nie. 

Die herders kry die Kindjie in ’n krip. Daar was nie plek in die herberg nie. Lukas verwys nie na diere, ’n stal of ’n grot nie. Dié bygedagtes kom uit Middeleeuse kunswerke. Die krip kon selfs êrens buite gewees het.

In Grieks kan die Hebreeuse woord vir “herberg” verskeie betekenisse hê. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, byvoorbeeld, is ’n Griekse woord gekies wat op ’n losieshuis dui. Die woord wat Lukas hier gebruik, beteken eerder gastekamer of bovertrek. Laasgenoemde soos vir die vertrek waar Jesus en sy dissipels die eerste nagmaal gevier het. 

Josef het dalk, danksy Joodse gasvryheid, by familie oorblyplek gekry. Sou daar reeds ander reisigers in die gastekamer of bovertrek wees, het hy en Maria dalk saam met die huismense in hul enigste ander vertrek geslaap. Die voerbak was sommer naby. 

Dus sê die Skrif dat die Seun van die mens Hom by armes skaar: Sy ouers was van ander afhanklik vir slaapplek; skaapwagters was die eerstes wat die nuus van sy geboorte gehoor het; in sy Nasaretpreek het Hy gesê Hy bring die evangelie aan armes. 

  • Die artikel het oorspronklik in die LiG tydskrif van Desember 2021 verskyn. 
Word 'n vriend van Kerkbode