Geloofsleiers ook bekommerd oor Shell se Ooskus-planne … én oor Koeberg

SAFCEI, die multi-geloofsomgewingsaktivismegroep waarvan die NG Kerk ’n lid is, het sterk standpunt ingeneem teen die planne wat die fossielenergiereus Shell het om met seismiese opnames na gas- en oliereserwes te soek aan die ongerepte Wildekus.

Die Southern African Faith Communities Environment Institute het op 10 Desember in ’n ‘ope brief’ die regering ingelig oor die redes vir hulle teenkanting teen die omstrede planne wat Shell al in die Hooggeregshof laat draai het.

“COP26 has just finished and here South Africa – the 12th biggest emitter of carbon, globally – allows Shell to conduct potentially harmful seismic testing, in search of more GHG-emitting oil and gas. How can this be when the company was just recently ordered to ‘slash its greenhouse gas emissions by 45% by 2030 compared with 2019 levels’? As a global force, Shell already has a disturbing track record of environmental and societal damage, and we refuse to allow the company to repeat its numerous atrocities here,” sê Cele Esau, ’n Christen-geloofsleier van die Cape Town Unitarian gemeenskap in die brief.

Marienewetenskaplikes en omgewingsgroepe, plaaslik sowel as internasionaal, waarsku al geruime tyd dat Shell se beplande seismiese toetse ’n verwoestende effek op die marienelewe binne die beoogde eksplorasiegebied aan die Oos-Kaapse kus sal hê.

Lees meer: Mantashe and Shell blasted in court: ‘Consultations were a complete sham’

Safcei se teenkanting teen Shell se planne geniet ook steun van binne die NG Kerk, sê dr Braam Hanekom, sedert November vanjaar die voorsitter van die SAFCEI-raad. Hy is tans op verlof, maar het onlangs meer hieroor te sê gehad in die laaste uitgawe van VrydagNuus, die Wes-Kaapse sinodale nuusbrief. Sy volledige kommentaar verskyn onderaan die berig.

Dit is nie net Shell se beplande doenighede wat Safcei bekommer nie. Ook die energieverskaffer Eskom se planne om hulle 40 jaar oue kernkragstasie Koeberg se leeftyd met 20 jaar te verleng wek kommer. Verlede week het Safcei gelowiges van alle gelowe opgeroep om op Versoeningsdag 16 Desember saam met ander groepe soos die Koeberg Alert Alliance aan ’n protesoptrede op Bloubergstrand deel te neem.


VrydagNuus, 10 Desember 2021

SAFCEI neem sterk standpunt in teen Shell se eksplorasie

Dr Braam Hanekom laat weet dat SAFCEI sterk standpunt ingeneem het teen Shell se voorgenome eksplorasie vir gas aan die Wildekus. Vir diegene wat meen dat Shell se pogings dalk ’n vinnige oplossing vir Suid-Afrika se ekonomiese probleme is, kan die volgende perspektiewe dalk help. Ons praat tans van gas en nie olie nie. Selfs al kry ons olie moet ons onthou wat met Angola en Nigerië gebeur het wat baie olie gekry het. Ons standpunt is duidelik dat ons tyd en geld nou spandeer moet word om volhoubare groen energie te vind. Daarby moet druk op die regering geplaas word om die talle groen projekte wat wag om “afgeteken te word” so spoedig moontlik af te teken. Die vertraging hiervan laat talle wenkbroue lig.

Voeg hierby die oorvloedige wetenskaplike verslae wat wys op die skade wat aan die omgewing gedoen word deur die voorgenome eksplorasie en ’n mens verstaan waarom aktiviste so ontsteld is. SAFCEI voeg graag hulle stem by die groep. Lees hulle volledige verklaring hier.

Word 'n vriend van Kerkbode