Agt jaar van droogte het sy merk gelaat op die verarmde gemeenskappe in die Karoo. Om plaaslike gemeentes met herstelprojekte te help, vat die Ring van Beaufort-Wes hande met Diaconia, die barmhartigheidsdiensgroep van die NG Kerk en VGK, om met ’n ses-dag staptog bewusmaking te bevorder en fondse in te samel vir die Diaconia Rampfonds.
Die mikpunt is om R600 000 in te samel wat dan in oorleg met plaaslike VGK-gemeentes in die betrokke gemeenskappe verdeel sal word. Dit sluit die gemeenskappe van Beaufort-Wes, Fraserburg, Leeu-Gamka, Merweville, Prins Albert, Victoria-Wes en Richmond in.
Individue, besighede en gemeentes is die week in VrydagNuus, die weeklikse aanlynnuusbrief van die Wes-Kaapse Sinode, uitgedaag om die projek finansieel te ondersteun. Buitelug-entoesiaste en ywerige sterrekykers word genooi om vanaf 1 Februarie in te skryf vir die Stargazing Camino, ’n 108 km stap vanaf Sutherland na Merweville. Dit word beplan vir 5-13 Maart.
In ’n mediaverklaring vertel ds Nioma Venter van Diaconia die projek is veeldoelig. “Groot dele van die streek is lamgelê deur ’n droogte wat reeds meer as agt jaar duur. Dit het ’n verreikende impak gehad op nie net die landbousektor nie, maar het ook afgewentel na die breër gemeenskap toe. Alhoewel daar goeie reëns aan die einde van verlede jaar geval het, herstel gemeenskappe nie oornag van so ’n natuurramp nie. Hierdie staptog dien as bewusmaking van die uitdagings wat hierdie streek ondervind en om aktiewe ondersteuning van plaaslike gemeenskappe te bewerkstellig. Terselfdertyd skep dit ook ’n geleentheid vir danksegging en getuienis.”
Hoe werk die stap?
In die verklaring word soos volg uiteengesit wat stappers kan verwag:
Twee ondersteuningsvoertuie sal die stappers vergesel en alle bagasie vervoer, sodat stappers slegs hulle daaglikse watervoorraad en versnaperinge hoef te dra. Voornemende stappers moet hulle eie tente saambring, maar daar is ablusiegeriewe by elke oornagpunt. Die gemiddelde stapspoed is ongeveer 3 km/uur en die langste skof is 23 km. Aandete en drie koffiebreuke (met beskuit soggens) word daagliks verskaf.
Tydens spesiale aandprogramme word die omgewing se unieke landskap en hemelruim verken onder leiding van gesoute kenners. Sutherland is as gevolg van die ligging bekend as een van die mees ideale plekke vir sterrekyk ter wêreld en is ook die tuiste van die grootste optiese teleskoop in die suidelike halfrond.
Die koste van die staptog beloop R5 900 per stapper. ’n Onderneming of gemeente kan ook ’n stapper afvaardig om hulle op die staptog te verteenwoordig.
Vir besprekings of verdere navrae, stuur ’n e-pos aan diaconia@kaapkerk.co.za. Besprekings sluit op Maandag 25 Februarie. Slegs twintig stappers kan geakkommodeer word, so skryf nou in om teleurstelling te voorkom.
Die bankbesonderhede vir finansiële bydraes tot die rampfonds is die volgende:
Bankbesonderhede:
Rekeningnaam: Diaconia
Bank: Nedbank
Rekeningnommer: 1135900337
Takkode: 198765
Verwysing: Naam van individu/gemeente + STARGAZING
