Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Oor die vier tipes spiritualiteite (teologiese, charismatiese, mistieke en kruisvaarder)

Hierdie skrywe is deel van Kerkbode se nuwe gespreksforum vir teologiese studente. Hierdie afdeling is in ’n toetsfase. Bydraes word nie voor publikasie deur Kerkbode se proefleser versorg nie.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

JG van NG gemeente Durbanville skryf:

Ek het die naweek van 4-6 Maart die ongelooflike voorreg gehad om vir drie dae tyd by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit te spandeer. Hier was ek ook nie alleen nie. So tussen die stilte en drumpel het ek die geselskap van my vriende en medeteoloë gehad. Hier het ons roerende gespreke gevoer oor God, onsself en die wêreld.

Hierdie hawe van stilte en spiritualiteit was ook, aan die ander kant, nie vir my ’n maklike plek om te wees nie. Die stilte dwing ’n mens om tyd met jouself te spandeer, ook die gedeeltes van jouself waarmee jy nie altyd so gemaklik is nie. Hier moes ek regtig my geestelike tekortkominge in die oë staar. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek het myself nog altyd gesien as ’n spirituele mens, maar nie op die manier wat ’n mens gewoonlik sal verwag as ’n mens aan “spiritualiteit” dink nie.

In een van my praktiese teologie-klasse het my professor, Cas Wepener, verduidelik dat daar vier tipes spiritualiteite is: teologiese, charismatiese, mistieke en kruisvaarder (crusader). Die eerste tipe verwys na mense wat rasioneel in hulle spiritualiteit is. Dié wat God beleef deur te dink, te reflekteer, na preke te luister of te lees. Die tweede tipe verwys na mense wat meer emosioneel in hulle spiritualiteit is. Dié wat God beleef deur te voel of te luister na musiek, gewoonlik die tipe mense wat hou van hulle “praise and worship”-sessies. Die derde tipe is dié wat God in die stilte beleef. Dié wat geen probleem daarmee het om alleen op ’n berg te gaan sit en vir God deur die natuur te ervaar nie. Die vierde tipe is dié wat God beleef deur die praktyk. Dié wat vir God beleef deur hulle tyd te gee vir sopkombuise, uitreike, ouetehuis-uitstappies ens. Hierdie tipe spiritualiteit beleef gewoonlik vir God deur ander mense.

Ek het myself nog altyd onder die vierde tipe gesien, daarom was dié naweek by die Andrew Murray Sentrum vir my so ’n uitdaging. Alhoewel, ek het geleer dat daar nie net spasie in my spirituele lewe vir een van die vier tipes moet wees nie. Die doel is om balans te vind tussen die vier. Ek moet vir God soek in die rasionele en die emosionele. Ek moet vir God soek in die natuur en in die mense om my (ek dink Jesus het die balans nogals goed onder die knie gekry).

Ek het die Saterdagoggend om 06:00 wakker geword om vir my ’n koppie koffie te maak. Daar was een van twee opsies: ’n koppie kitskoffie wat my twee minute sou neem om te maak of ek brou vir myself ’n lekker koppie koffie wat my 20 minute sou neem. Ek besef toe ek het die tyd en ek gaan met opsie twee. Nadat ek vir my ’n heerlike kwaliteit koppie klaar gemaak het, het ek besef dat my spiritualiteit soos koffie maak is. Ek is altyd op soek na die vinniger opsie, ek wil net geroer word (“dis al waarvoor ek tyd het”). Ja, ek kan my koffie so maak, maar die koffie wat ek gaan kry sou nie dieselfde wees nie. Partykeer moet ek soos die koffie in die pot net sit en brou – reflekteer en voel. Dan, nes die gebroude koffie, sal ek meer waarde vind in my spiritualiteit.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top