Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die NG Kerk in KwaZulu-Natal wil weer deur hulle sinodale rekening noodfondse in om gemeenskappe wat swaarkry weens vloedskade te help. Foto: Twitter

#KZN-vloede: NG Kerk reik hande uit om te help

Die NG Kerk in KwaZulu-Natal kry reeds fondse in om gemeentes te help wat swaarkry na vloede honderde mense dood en duisende haweloos in die provinsie gelaat het.

 

Die Wes-Kaapse streeksinode het reeds R35 000 vir die doel inbetaal, verneem Kerkbode.

 

Op plaaslike vlak hoor hy van gemeentes wat waterpunte by hulle kerkgeboue het dat mense drinkwater kan kry, vertel ds Petrus Botha van die NG gemeente Pongola, maar sulke pogings is egter ’n “druppel in die emmer” gegewe die omvang van die verwoesting en skade die afgelope week.

 

Tonele van mense kniediep in bruin modderwater in hulle huise, hele geboue verswelg onder modder en verspoelde paaie oorheers die afgelope week se nuusberigte. Woensdagaand is bereken dat meer as 300 mense al gesterf het. ‘n Onbekende getal mense word nog vermis.

 

Die vloede is veroorsaak deur swaar reën en het ’n geraamde 2 000 huise en 4 000 informele wonings in puin gelaat met duisende mense haweloos.

 

’n Provinsiale ramptoestand is Woensdagaand afgekondig na president Cyril Ramaphosa geaffekteerde gemeenskappe in die eThekwini-gebied besoek het. Een van die gebiede was Clermont waar ’n kerkgebou ’n huis platgeval het waarin vier kinders was. Al vier is dood. Ramaphosa het die vloedskade as ’n “katastrofe” bestempel.

 

 

In die Durban-omgewing is daar woonbuurte wat sonder krag of water is na kragsubstasies verspoel en waterpype gebars het. “Dinge is glad nie goed nie. In die townships is daar baie skade, party shacks het inmekaargestort en ander het weggespoel … ons is besig om te bepaal wat die skade is,” vertel ds Eric Ngema van VGK Hammarsdale naby Durban.

 

“Natuurlik is dit nou swaar. Gemeentes en lidmate en selfs dominees is erg hierdeur geraak,” beaam Botha. Daarom dat, soos met die plundertogte verlede winter, die NG Kerk in KwaZulu-Natal weer deur hulle sinodale rekening noodfondse wil “hardloop”, soos Botha dit stel.

 

Verlede jaar met die winteronluste is meer as ’n miljoen rand deur gemeentes en lidmate regoor die land in die sinodale rekening van die NG Kerk KwaZulu-Natal inbetaal om met noodleniging te help. Fondse bedoel vir hulpverlening kan nou weer in die sinodale rekening inbetaal word by: NG Kerk van Natal, ABSA, 1140000082. Verwysing: KZN vloede.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top