Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kan die Bybel gelowiges help met besluite in die alledaagse lewe? Dr Doret Niemandt vind meer hieroor uit by dr Wynand Fourie na aanleiding van sy proefskrif getiteld “Paul’s spirituality in Philippians 3:1-11: The role of the Bible in Christian spirituality”. Foto: Verskaf

Kan die Bybel jou help met jou begroting, huwelik of daardie groot besluite?

Die Bybel is die belangrikste hulpbron vir ons as gelowiges – nie net wanneer ons worstel met daardie eksistensiële vrae nie, maar ook vir ons daaglikse lewe. In sy proefskrif getiteld “Paul’s spirituality in Philippians 3:1-11: The role of the Bible in Christian spirituality” skryf dr Wynand Fourie hieroor. Doret Niemandt vind meer uit.

 

Hoe help die Bybel jou met daardie alledaagse dinge?

Moet jy ’n sekere hoeveelheid ure Bybel lees voor jy jou begroting opstel?

Kan die Bybel jou raad gee oor hoe om minder met jou man of vrou vas te sit?

Is daar Bybelversies wat matrikulante kan help besluit wat om na skool te gaan swot?

 

Wel, ja en nee, antwoord Fourie. Die Bybel help ons om met integriteit en fokus te lewe. Ons word uitgedaag om nie net ingestel te wees op dit wat ons wil hê nie, maar dit wat God vir ons lewe wil hê. Die Bybel is die beginpunt en die riglyn vir ’n gelowige se lewe en help ons om sin te maak uit die lewe.

 

Ons leer dit by Paulus. Paulus het ’n belewenis van God en dan is die eerste ding wat hy doen om na sy Bybel te gryp (wat op daardie stadium nog net die Ou-Testamentiese geskrifte was). Hierdie geskrifte vertel oor sy voorvaders se verhouding met God. En dit help hom om sy verhouding met God beter te verstaan én sy verhouding met die mense om hom. Hierdie geskrifte help hom om sin te maak uit dit wat aan die gang is in sy lewe.

 

Lees ook: Dissipelskap – 5 dinge wat jy moet ophou doen

 

Ons leer by Paulus ’n manier om die Bybel te lees en te gebruik en Fourie maak twee voorstelle hieroor. In die eerste plek help die Bybel ons om nie te vou onder die ernome druk wat ’n komplekse wêreld aan ons stel nie.

 

Die Bybel kan ons juis help om sin te maak uit al hierdie kompleksiteit. En tweedens help die Bybel ons om kreatief gevorm te word sodat ons kan deelneem aan dit wat in die wêreld om ons aan die gang is. Met ander woorde, die Bybel stel ons in staat om aan die wêreld deel te neem en dit meer in lyn te bring met God se droom. Fourie noem dit ’n Bybelse gewetevorming.

 

Dit bring ons terug by die ‘ja en nee’. ’n Bybelse gewete kan ons help met al daardie alledaagse dinge, maar dit word gevorm oor tyd. Om te hoop en dink dat ’n enkel versie daardie groot probleem gaan oplos, is om nie erns te maak met die hart van die boodskap in die teks nie. Die Bybel is nie ’n ‘vending machine’ nie, sê Fourie.

 

’n Lewe saam met God werk definitief anders.’n Lewe saam met God gaan oor groei, oor onderskeiding en oor transformasie. Oor tyd word jy gevorm en gegrond in God se Woord. En dan, sê Fourie, kan ons met ’n wysheid begin optree wat ons self sal verbaas.

 

Dit is dan hoe jy jou Bybel moet lees as jy hulp nodig het met jou begroting, jou huwelik of enige groot besluite:

 

  1. Lees jou Bybel elke dag – lees jou Bybel as ’n gesonde dissipline soos wat jy elke dag tande borsel, daardie agt glase water drink en 30 minute se oefening inkry.
  2. Lees jou Bybel saam met ander mense – dit help om die fokus te skuif van wat jy wil hê en dat jy nie iets inlees in die teks wat nie daar staan nie.
  3. Lees jou Bybel biddend – bid voor jy jou Bybel lees en laat toe dat God se Gees jou lei. Gebruik die tyd om rustig te word, jouself te oriënteer en bewus te word van God se teenwoordigheid.
  4. Gebruik handleidings – die Bybel is ’n moeilike boeke wat 2 000 jaar terug geskryf is in antieke tale, kry hulp om die gapings te oorbrug. Daar is baie gratis hulpbronne beskikbaar wat die Bybel vir jou kan oopsluit.
  5. Lees jou Bybel met die regte gesindheid – Paulus smeek vir die regte gesindheid. My vriendin het ’n ‘sticky note’ geplak voor op haar Bybel met die woorde: “Before I open this book … am I sharing in the divine gaze of love? This is a dangerous book in the wrong hands.” Dit is die eerste ding wat sy sien as sy haar Bybel optel om te lees. Dit daag elke dag haar gesindheid uit. Met wat kom jy vandag na die Bybel toe? Wat gaan in jou hart aan? Waarna is jy op soek?

 

Doen dit op hierdie manier en kyk wat gebeur. Dít is hoe jy ’n Bybelse gewete vorm.

 

  • Dr Doret Niemandt is ’n leraar by Valleisig-gemeente in Pretoria.
    • Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
  • Dr Wynand Fourie is leraar by NG Kerk Windhoek-Wes en in Namibiese Sinodale diens. Hy het sy PhD aan Universiteit Stellenbosch voltooi.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top