Dissipelskap – 5 dinge wat jy moet ophou doen

Fontainebleau Gemeenskapskerk is besig om dissipelskapgewoontes aan te leer. Doret Niemandt gesels met Rozzetta, Julani en Johan.

*Rozzetta, 80, pensionaris met hondjie, Bella.

*Julani, 27, data-analis in Johannesburg.

*Johan, 25, betrokke by Biko-huis.

Is jy ’n dissipel?

Selfs as ’n predikant, met teologiese grade en baie preke agter my, wil ek nie daardie titel vir myself toe-eien nie. Ek weet nog nie genoeg nie, ek het nog nie genoeg gedoen nie. Daar is altyd nog iets wat kort. Ek voel nie soos ’n dissipel nie.

Het jy ook al so gevoel? Met ’n klomp 40-dae-reekse agter jou, as ’n getroue kerkraadslid, iemand wat nie een aand van pinkster mis nie? En steeds voel jy nie goed genoeg nie …

Dalk het Fontainebleau Gemeenskapskerk die antwoord.

Daar gaan dissipelskap minder oor wat jy nog moet weet of doen en meer oor dit wat jy moet ophou doen. Dié gemeente het op hulle eerste 10-week-reis gegaan om Gewoontes vir die goeie lewe te ontdek en in te oefen. Dit is die lewe van ’n dissipel.

Hier is vyf dinge wat jy moet ophou doen as jy ook wil kies vir die Goeie Lewe.

  1. Hou op om ‘besig’ te wees

Hoe gaan dit met jou?

Hoe baie het jy al hierdie vraag beantwoord met: “Goed dankie, net besig”?

Om besig te wees is nie sleg nie, maar met ons besigwees het ons verleer om teenwoordig te wees in die oomblik en bewus te wees van God. Die #6 hulpbron-gewoonte skyn ’n lig hierop en die #2 kragprop-gewoonte daag jou uit om tyd saam met God te skeduleer in jou kalender – soos wat jy enige ander afspraak sal skeduleer. Want soos Julani sê, soms gebeur die lewe net. Jy moet iewers ingeprop wees by ’n kragbron as jy wil kies vir die Goeie Lewe. Hierdie gewoontes help jou dan om met meer bewustheid te lewe, vertel Johan.

Hou op om te besig te wees. “Ja, maar …”

Geen verskonings nie, maak jou kalender oop.

  1. Hou op om dit alleen te doen

Die afgelope twee jaar het ons mekaar gemis. Daar was geen drukkies of bladskud nie. Geen groot feesvieringe of samekomste vir ouma se 90ste verjaarsdag nie. Maar dalk het dit ons juis herinner, ons kan dit nie alleen doen nie.

Rozzetta vertel hoe die #3 brood-gewoonte haar uitgedaag het om na die alleenheid tydens Covid-inperkings weer uit haar gemaksone te kom en tussen ander mense te wees. Julani vertel ook hoe maklik dit is om soms net op jouself staat te maak: “Dis ’n spanpoging, saam met Jesus”. Die Goeie Lewe is ’n reis saam met ander en saam met Jesus.

Die inperkings is gelig.

Gaan breek brood saam met ander mense.

  1. Hou op om te dink jy is nie goed genoeg nie

Facebook verbind ons met langverlore vriende, maar nooi ons ook elke dag uit om onsself met al ons vriende te vergelyk. Jy word heeltyd herinner hoe jy nié lyk nie, wat jy nié is nie, en wat jy nié het nie. So gou dink jy, jy is nie goed genoeg nie.

Op Rozzetta se yskas is daar onder andere ’n legkaartstukkie-magneet wat haar herinner dat sy iewers inpas en die #4 legkaart-gewoonte het haar help ontdek waar sy inpas. Elke persoon het ’n unieke bydrae om te maak op hierdie reis van die Goeie Lewe.

Hou op fokus op dit wat jy nie is nie, wie ís jy?

Hoe lyk jou legkaartstukkie?

  1. Hou op om versigtig te wees

Ek wil my 4-jarige dogtertjie teen alles beskerm wat haar moontlik kan seermaak. Op dieselfde tyd besef ek dat sy gaan uitmis op die lewe as ek haar te styf vashou.

Van kleins af word ons geleer om versigtig te wees en lewe ons dan as volwassenes met allerhande polisse, versekering en agter slot en grendel. Rozzetta noem dat dit ’n uitdaging is om uit jou kokon te klim en te waag – om ’n brug oor te steek en om sosiaal te verkeer met ‘ander’ mense. Die #5 boom-gewoonte nooi jou om uit te gaan en’n seëning in jou gemeenskap te wees en die #7 inklusiewe-gewoonte nooi jou uit om mense in te sluit wat uitgesluit word. Johan vertel dat hierdie konkrete uitnodigings is om iets te gaan doen – skuif jou aandag en skuif jou lyf! Want as jy te versigtig is, gaan jy uitmis op die Goeie Lewe.

Partykeer gaan speeltyd op die klimraam jou ’n stukkende knie kos.

Hou op om versigtig te wees, die swaai is oop.

  1. Hou op om skuldig te voel

As jy vir jouself as ’n Christen ’n punt uit 10 moet gee, wat sal dit wees? Hoekom?

Ons het soms ’n ongesonde prentjie van ’n Christen. Iemand wat nooit twyfel nie, wat altyd naby aan Jesus voel, en wat sterk staan, maak nie saak hoe wild die storms van die lewe woed nie. Die #1 Godsbeeld-gewoonte daag hierdie prentjie uit en die #8 heelheid-gewoonte nooi jou uit om te erken wie jy is. Julani noem dat sy soms naby aan die Here voel, soms ver, maar op hierdie reis leer sy hoe om met meer lig te lewe. Dit is ’n reis wat haar vrymaak soos wat sy sekere goed afleer en agterlos.

Hou op om skuldig te voel.

Dit is jy wat die punt vir jouself gegee het.

Ja, jy is ’n dissipel.

En God nooi jou uit om jou titel te omhels.

Ontdek en oefen Gewoontes vir die goeie lewe.

Besoek https://www.fgk.co.za/ vir meer oor hierdie gemeente.

  • Dr Doret Niemandt is ’n leraar by Valleisig-gemeente in Pretoria.
  • Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
Word 'n vriend van Kerkbode