Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Baie mense het die laaste tyd vir die sendelingegpaar Anna-Marie en André Thiart gevra of dit nie maar tyd is om terug te kom en iets anders te doen nie. Hulle huis is immers onlangs afgebrand, maar, vertel hulle vir Jaco Strydom met hul onlangse besoek in Suid-Afrika, hulle het voor hulle huis afgebrand is vir ’n ruk lank stilgeraak, die Here se wil gevra en gevoel die Here het steeds ’n plan met hulle en die Makwe-mense. Foto’s: Verskaf

Oorlog in Moz, maar André en Anna-Marie is steeds daar

Hulle huis in die noorde van Mosambiek is laasjaar afgebrand, maar hulle is steeds daar.

Vir nou woon hulle in ’n konstruksiekamp van TOTAL, net buite Palma, veertig kilometer van die Tanzanië-grens af. Soldate uit Rwanda beskerm die kamp.

“Dit gaan ’n bietjie beter,” sê André, “maar steeds rof.” Hulle het gister gehoor van ’n dorpie daar naby wat geplunder is en ’n weermagkamp ’n ent verder is onlangs aangeval.

André en Anna-Marie Thiart woon al een en twintig jaar in Mosambiek, waarvan die laaste vyftien jaar in Quionga in die noorde, teen die grens. Vroeër was hulle vir ses jaar betrokke by projekte meer suid, onder andere ’n projek van die Algemene Jeugkommissie. Maar op ’n dag besoek hulle die noord-oostelike punt van Mosambiek, ’n besoek wat hulle lewe in ’n nuwe rigting sou stuur.

“Ons het in 2004 gaan kyk hoe dit daar in Quionga lyk en het regtig geglo dinge lyk so sleg dat dit sekerlik nie nog slegter kon gaan nie. Ons was baie verkeerd om so te dink. In 2006 is ons permanent Quionga toe,” sê André.

André en Anna-Marie Thiart woon al een en twintig jaar in Mosambiek, waarvan die laaste vyftien jaar in Quionga in die noorde, teen die grens.

 

 

Quionga is ’n wilde plek, was dit selfs voor die oorlog.

“In 2008 was daar ’n leeu wat twaalf mense in ses maande doodgemaak het,” vertel Anna-Marie.

Na die leeu op ’n dag ’n vrou van die dorpie gevang het, kom ’n man na André toe en vra om hom met sy bakkie Pemba toe te vat. Hy wou ’n geweer by die polisie leen om die leeu te skiet.

“Op die einde van die dag, het die polisie vir hom ’n geweer gegee,” sê André, “maar toe ek die ding sien, grinnik ek ’n bietjie. Toe vra die polisieman my, wat lag jy? Het jy al ’n leeu geskiet? Toe sê ek nee, maar ás ek een skiet wil ek hom nie met daai ding skiet nie! Hulle het toe nooit die leeu gekry nie. Die mense het wel later ’n jong leeuwyfie geskiet.”

Hulle vertel nog verhale van wilde diere, veral olifante wat die plaaslike mense se tuine en landerye verniel.

Maar daar is vandag groter moeilikheid om oor bekommerd te wees. Aanvalle deur die rebellemag, plaaslik bekend as die Al-Shababs of Al-Sunna wa Jama’a (ASWJ) is die laaste paar jaar wêreldwyd in die nuus. Ek vra hulle uit hieroor. Hoe werk so ’n aanval?

“Hulle kom in met groot geraas,” sê André. “Die oomblik wat die plaaslike gemeenskap dit hoor, hardloop hulle. Want as daar een ding is wat hulle reggekry het is dit om vrees in te boesem. Mense hardloop in alle rigtings. ’n Ma een kant toe, ’n ouma ander kant toe, kinders in ’n ander rigting … dit vat baie keer dae voor hulle weer bymekaar uitkom. Dan begin hulle afbrand, huise, regeringsgeboue … In Quionga het hulle met die eerste aanval net drie mense doodgemaak, mense wat nie kon wegkom nie, een ’n verstandelik gestremde ou, ’n ander man wat fisies gestremd is en ’n vrou wat siek in die bed was. In die tweede aanval het hulle ’n paar ouens onthoof. Dit doen hulle nogal. Wanneer hulle ’n dorp aanval sal hulle mense onthoof. Ek dink dit is maar om vrees in te boesem.”

Hulle ontvoer ook toenemend mense, veral jongmense.

Baie mense is ontwortel, almal is onseker en bang.

“Ons was nou die dag in ’n dorpie, waar daar huise was, is daar nou net plat aarde. Die mense woon nou in die veld in grasskerms. Dit het baie van hulle ’n lewe lank gevat om ’n huis te kry, nou het hulle alle moed verloor,” sê André.

Baie mense het die laaste tyd vir Anna-Marie en André gevra of dit nie maar tyd is om terug te kom en iets anders te doen nie. Hulle het self al gewonder. Maar in die tyd voor hulle huis afgebrand is, het hulle vir ’n ruk lank stilgeraak, die Here se wil gevra en gevoel hulle tyd daar is nog nie verby nie, die Here het op ’n manier steeds ’n plan met hulle en die Makwe-mense. So, nou bly hulle maar.

Ek het vir André en Anna-Marie vroeër die jaar by Helderberg Gemeente in die Kaap ontmoet, een van die gemeentes wat hulle ondersteun.

Hulle vertel van die lang pad terug Noord-Mosambiek toe. “Dis vier en ’n half dae se ry van Maputo af tot in Pemba,” sê Andre en vertel dat die paaie in die noorde nou eers sleg is.

Van Pemba af tot in Palma het hulle gevlieg met ’n vliegtuig wat die mense van TOTAL gereël het. TOTAL gee hulle ook ’n voertuig, blyplek en selfs kos, vertel André. Een van die vreemde deure wat die laaste tyd oopgemaak het.

“Waar het jy nou gesien twee sendelinkies soos ons wat nou hier op die TOTAL site rondloop, so asof ons die plek besit. Maar dis net die Here se genade,” sê hy. “TOTAL het ons laas jaar gekontak en dit uiteindelik vir ons moontlik gemaak om terug te gaan Quionga toe. Hulle het spesifiek gevra: Gaan kyk hoe lyk dit nou daar en sê vir ons hoe ons julle mense kan help. Een van die dinge wat ons gesê het is: Jissie ouens, die mense is honger!”

Baie dorpies is totaal geïsoleer deur die oorlog, ’n klomp mense kan nie boer, hulle tuine of landerye in stand hou om kos te plant nie. Anna-Marie vertel van ’n hele landbougebied waar niemand tans wil bly nie.

Vandag koördineer hulle ’n voedingskema namens TOTAL in die dorpies waar daar die grootste nood is. Onder beskerming van Rwanda weermaglede, gee hulle 38 kg kospakke aan gesinne in nood. Op hierdie stadium het hulle twee 4×4 trokke wat tot twaalf ton kos op ’n slag kan vervoer.

“Die maatskappy besef hulle moet iemand gebruik wat reeds in die gemeenskap is en bekend is aan die plaaslike mense, want hulle gaan nie iemand wat nou vreemd inkom sommer net aanvaar nie,” sê Anna-Marie.

Maar op ’n dieper vlak, sien hulle die Here se hand hierin. “Dit is soveel anders as om tussen die mense te woon, nou dat ons kos uitdeel, maar dis goed om steeds kontak te hê,” sê sy.

Die twee is sewe en dertig jaar getroud die jaar. Hoe lyk hulle toekomsplanne?

Hulle sal graag weer die huis herbou in Quionga, sê André. Hulle vat juis môre ’n klomp sinkplate soontoe, hulle sou weer skape en bokke wou aanhou, weer die kleuterskool aan die gang kry, betrokke wees by die gemeenskap vir wie hulle liefgeraak het. “En ons glo dis maar die Here wat die deure oopmaak,” sê hy.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top