Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

“Die dilemma vir die kerk is wanneer lidmate lewensvoos voel, gemeentes so lyk: sonder energie en sonder vreugde terwyl die kerk geroep is om juis in tye soos hierdie bakens van hoop te wees. Daarom is die vraag: Waarheen nou? Die antwoord uit die geskiedenis van die NG Kerk is duidelik: Pinkster!,” skryf prof. Johan van der Merwe. Foto: Argief

Medisyne vir die kerk na Covid-19: Pinkster!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Dit wil lyk asof die ergste van die Covid-19-pandemie agter die rug is. Die gevolge daarvan gaan egter nog lank bly spook – ook in die kerk.

Die bekende joernalis Jana Marx skryf onlangs dat baie mense – ook lidmate – ’n jaar gelede kwarantynvoos was maar nou lewensvoos is. Dit is nie depressie nie: net ’n af-gevoel, ’n lus-vir-niks-gevoel. Daar is min energie en min vreugde.

Die dilemma vir die kerk is natuurlik dat wanneer lidmate so voel, gemeentes so lyk: sonder energie en sonder vreugde terwyl die kerk geroep is om juis in tye soos hierdie bakens van hoop te wees. Daarom is die vraag: Waarheen nou? Die antwoord uit die geskiedenis van die NG Kerk is duidelik: Pinkster!

Geborg

Die wyse waarop Pinkster in die NG Kerk gevier word, dateer terug na 1861 toe die gemeente in die Paarl ’n geestelike moegheid ervaar het. Onder leiding van ds GWA van der Lingen het lidmate gedurende die tien dae van Hemelvaart tot Pinkstersondag in Mei 1861 in gebedsgroepe byeengekom om te bid vir herlewing. Ds Van der Lingen self het op 19 Mei 1861 op Pinkstersondag tydens die middagbyeenkoms, ’n visioen van Christus gesien wat hy as ’n openbaring van God beleef het. Dit het tot grootskaalse herlewing in die gemeente gelei wat in die jare daarna na ander gemeentes van die NG Kerk oorgespoel het.

In 1862 het die Kaapse sinode geoordeel dat die herlewings “een heerlijkt werk des Heiligen Geestes, tot redding van Zielen, en tot verheerlijking des Hereen Jezus was.” Die geskiedenis van die NG Kerk vertel hoe Pinkster oor die jare tot nuwe lewe vir duisende lidmate gelei het en hoe dit nuwe energie en fokus in gemeentes en in die kerk gebring het.

Miskien is dit die medisyne wat die NG Kerk na Covid-19 nodig het. Pinksterbidure en Pinksterdienste waar lidmate in gemeentes om nuwe lewe bid en op die Heilige Gees daarvoor vertrou. So kan daar nuwe lewe, energie en bedieningsvreugde kom en so kan die kerk ’n verskil maak in ’n wêreld vol lewensvoos mense. Gebeur dit, is die tyd na Covid-19 ’n geleentheid vir elke gemeente van die NG Kerk om ’n baken van hoop in die samelewing te wees. Miskien sal Pinkster 2022 dan in die geskiedenis bekend word as die jaar waarin herlewing, soos in 1861, die kerk verander het.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.


Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand