“Ons bly in ’n baie mooi land en die diversiteit maak dit nóg mooier!” sê Sandile Mnisi wat onlangs gelegitimeer is. Hy het teologie studeer by Tuks en preek die afgelope paar jaar amper elke Sondagaand by Melville Kruisgemeente, ’n NG kerk in Johannesburg. Sondagoggende is hy by VGK-gemeentes in Soshanguve en op ander plekke.
“Daar is ’n groot tekort aan dominees in die VGK,” sê hy en vertel van ’n sinodale gebied waar daar tans meer as 50 gemeentes is sonder ’n predikant.
Sandile se moedertaal is Ndebele, maar hy kan vier ander tale vlot praat. Ons gesels in Afrikaans. Ek vra hom uit oor sy grootwordjare.
LUISTER die podsending by die skakel hieronder
“Ek is deur my ouma en oupa grootgemaak, my pa en ma was baie jonk toe hulle my gehad het en was meestal afwesig in my lewe. Ek was die oudste kind van twee, ongelukkig is my jongste boetie oorlede.” sê Sandile. Later is ook sy oupa oorlede, en onlangs sy ouma.
Tans pendel hy tussen twee huise, sy ouma-hulle se huis in Soshanguve en die huis langs Melville Kruisgemeente in Johannesburg.
Sandile ken van “met twee voete in verskillende wêrelde staan”.
Hy vertel van sy kinderjare in Walmer waar hulle op daardie stadium die enigste familie van ’n ander kleur in die woonbuurt was. “Dit was ’n bietjie rof in terme van rassisme,” sê hy, “maar ek het goeie vriende gehad met wie ek kon speel en kuier. Die Blignaut-familie wat twee huise van ons af gewoon het, het my met oop hande verwelkom. Ek was baie keer plaas toe saam met hulle. Hulle is die rede waarom ek vandag verslaaf is aan biltong!”
RESENSIE: Wyse raad om boelies se tande stomp te maak
Dit was by ’n jeugweek van Hoërskool Pretoria-Noord waar hy die eerste keer gevoel het dat die Here hom roep. “Dit het rof gegaan by die huis,” sê hy, “en die worship daai week het my diep geraak. Die ou wat in die aande gepreek het, het oor en oor gesê, ‘die Here is lief vir jou, die Here is lief vir jou, die Here is lief vir jou …’ Op ’n manier het daai woorde gestuck en het ek deep down besef die Here is lief vir my! Dit het my hele lewe verander. Ek het besluit ek wil ook soos daai ou wees, ek wil ook eendag iemand wees wat rondgaan en vir mense daarvan vertel.”
Dit was moeilike jare. Hy onthou hoe ’n “groot oom” op ’n dag saam met die polisie hulle voordeur oopgeskop het. Vir ’n tyd lank moes hy by ’n vriend gaan woon. “Die vriend van my se ma was ’n ware prayer warrior,” sê hy. “Sy het altyd gesê, Sandile, kom hier dat ek vir jou bid! Die tannie was een van die mense wat ’n groot invloed op my geestelike lewe gehad het.”
LEES OOK: Moenie net kampe maak vir ‘reg’ en ‘verkeerd’
Na skool wou hy aanvanklik ’n sjef word, maar dinge het nie uitgewerk nie. Hy vertel van ’n dominee wat ’n belangrike rol in sy lewe gespeel het: “Ds Norman Motloutsi was die dominee in Soshanguve, hy het my storie geken en geweet van my eintlike droom om vir die Here te werk, hy het my gelei om teologie te swot en my baie gehelp met ’n klomp van my geloofsvrae.”
“’n Baie slegte ding het gebeur tydens my eerste jare op fakulteit en ek was erg depressief,” sê Sandile. Hy het in hierdie tyd ernstig begin wonder oor die pad wat hy besig was om te stap. Maar toe kom die volgende draaipunt in sy lewe. ’n Vriendin wat saam met hom studeer, het hom saamgenooi op ’n vakansie-uitreik van MES in Hillbrow.
Sandile vertel hoe die kinders van Hillbrow hom gered het. Hulle het hom weer laat besef dat die Here hom liefhet en dat daar ’n roeping op sy lewe is.
Nog iemand wat ’n groot invloed op Sandile se lewe gehad het was Ben Klut, die dominee by Melville Kruisgemeente. Sandile het saam met Ben se dogter, Jana, teologie studeer. Op ’n dag nooi Ben hom vir ete en bied hom ’n pos by die gemeente aan. “Ds Ben Klut het ’n groot invloed gehad op my lewe, hy het vir my baie geleer, onder andere dat kerkwees oor meer gaan as oor dit wat in kerkgeboue gebeur,” sê hy.
Hy vertel ’n klomp verhale van lesse wat hy geleer het in die intensionele-gemeenskap in die huis langs Melville Kruisgemeente – waar hy vandag steeds betrokke is as leier. Van sy grootste lewenslesse het hy by die diverse mense wat daar saam woon geleer. “Dis maar partykeer moeilik, maar daar is ook baie om te leer. Erick du Toit, ’n dominee wat destyds daar saam met ons gewoon het, het my soveel oor community geleer,” sê Sandile en vertel van sy grootste droom om eendag soortgelyke huise in Soshanguve te begin.
Sandile se passie is aansteeklik. Wanneer hy praat oor die Here, die potensiaal van die kerk en sy liefde vir die mense van ons land, blink sy oë. Al die ongeregtigheid, wreedheid en armoede ontstel hom, maar juis dít maak dat hy hier wil wees. Dit is vir hom belangrik dat die kerk ’n plek van hoop is, ’n gasvrye plek wat uiteenlopende mense laat tuisvoel.
Waaraan hou jy vas as dit rof gaan? vra ek.
“Woorde wat my ouma vir my gesê het voor haar dood: ‘You are a destiny child, you are my answered prayers, never forget that.’”
- Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.
