Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Stella O’Malley se boek Bully-proof help die ouer wie se kind ’n boelie is en die ouer wie se kind geboelie word; dit help skole en ander instansies om hulle kultuur te verander, om sodoende boelies se tande stomp te maak,’ skryf Ghisnene Müller.

Wyse raad om boelies se tande stomp te maak

Bully-proof kids deur Stella O’Malley

Uitgewer: Swift Press, 2022

Resensent: Ghisnene Müller

 

“Elke dag is daar kinders wat pouses in die toilet deurbring; ander spandeer die hele dag in die klas en wonder wie saam met hulle sal uithang gedurende pouse; miljoene ander begin onmiddellik paniekerig word as hulle die bekende ‘ping’-geluid van hulle foon hoor en hulle besef nog ’n sogenaamde vriend het iets giftig en vernederend oor hulle op sosiale media geplaas.”

 

Dit is hoe Stella O’Malley haar boek Bully-proof kids begin. Dit laat my hart ineenkrimp. Sy gaan verder deur te sê dat ongeveer 10-15% van ’n spesifieke groep kinders deurlopend ander kinders boelie en dat 10-15% van kinders die teiken van boelies is. As predikant, wat al heelwat soortgelyke stories moes aanhoor, verbaas hierdie statistiek my glad nie.

 

O’Malley is ’n psigoterapeut wat baie jare se ervaring met die berading van die slagoffers van boelies het. Die boek bied uitstekende raad, nie net vir ouers van boelies of vir ouers wie se kind geboelie word nie, maar ook vir onbetrokke toeskouers – hetsy kinders, ouers, onderwysers of ander volwassenes.

 

Sy gee raad oor hoe om boeliegedrag uit te wys en gee spesifieke merkers om dit te identifiseer. Boeliegedrag word geïdentifiseer wanneer iemand met meer mag as ’n ander, die persoon herhalend afknou en seermaak. Hierdie afknouery kan verbaal, emosioneel en fisiek wees.

 

Die raad is duidelik en prakties. O’Malley illustreer haar kennis met werklike verhale wat die leser intrek.

 

Bully-proof help die ouer wie se kind ’n boelie is en die ouer wie se kind geboelie word; dit help skole en ander instansies om hulle kultuur te verander, om sodoende boelies se tande stomp te maak. Dit kan ook kerke help om meer gefokus met die probleem te werk. Miskien kan kerke juis ouers help om minder te fokus net op hulle eie kinders se geluk en prestasies en meer daarop te fokus om kinders groot te maak vir wie die gesondheid van die samelewing belangrik is.

 

Beskikbaar by Graffiti boeke.

 

Ds Ghisnene Müller is ’n predikant by NG Gemeente Verwoerdpark.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top