Hulle noem hom Os. Die tiener wat as baba op ’n ashoop opgetel is en nou floreer in een van ENGO se 33 kinder- en jeugsorgsentrums wat oor die Vrystaat versprei is.
Dit is verhale soos “Os” s’n wat aan hulle werk betekenis gee, vertel De Wet Claassens, die uitvoerende hoof van ENGO, die tweede grootste kerklike maatskaplike organisasie van die NG Kerk.
Alda Fourie, ENGO se bemarkingskonsultant sluit by ons aan tydens Kerkbode se onlangse besoek by ENGO se provinsiale hoofkantoor, ’n netjiese dubbelverdiepinggebou geleë in die middel van hulle grootste aftreeoord in die hartjie van Bloemfontein.

Die rede vir die besoek: ENGO is vanjaar 120 jaar oud. Oor ’n stomende koppie koffie word gehoor in hierdie organisasie staan die kweek van ’n kultuur van dankbaarheid sentraal tot die viering van hierdie spesiale mylpaal. “Wat ons hierdie jaar vier, is 120 jaar van dankbaarheid,” sê Claassens sonder huiwering. “Absolute dankbaarheid vir die Here se genade. Dat ons hier is en instrumente in sy hande kan wees om werk te doen wat ewigheidswaarde het.”
Wat die NG Kerk in die Vrystaat in 1902, kort na die Anglo-Boere-oorlog, as twee weeshuise vir oorlogswesies begin het, is vandag ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag wat jaarliks op verskillende maniere in meer as 200 000 mense se lewe ’n verskil maak.
Dit is die grootste maatskaplike organisasie van sy soort in die Vrystaat. Die syfers in hulle jongste jaarboek spreek vanself. Verlede jaar was 852 kinders in hulle kinder- en jeugsorgsentrums, is kos en klere voorsien aan meer as 7 000 behoeftige kinders en is byna 70 000 mense met maatskaplike dienste bygestaan by familiesentrums. Daar is 92 945 maaltye aan bejaardes bedien. Dit is net ’n paar uitskieters uit drie van die sewe subprogramme wat as afsonderlike besigheidsentiteite bedryf word.
By ENGO word enigeen wat nood het gehelp, ongeag ras, ouderdom of kerkverband. Soos Claassens dit stel: “Die naam ENGO* (lees meer oor die naam in Wat beteken ENGO? onder) is ons missie en missionaliteit. Ons gaan na almal toe. Ons onderskei nie.”
Ses jaar terug het die donkerkop sakeman met die opwipkuif ’n florerende rekenkundige loopbaan vaarwel toegeroep om op 32 die jongste uitvoerende hoof te word wat die organisasie nog gehad het. Uitklim wil hy nog glad nie. Vir hom is sy werk sy roeping.
Hy vertel hulle kry soms die kritiek dat ENGO te groot raak, maar hy dink nie so nie: “Hoe groter ENGO is en kan raak, hoe beter diens kan ons lewer en hoe meer mense kan ons bereik.”

‘Mercedes’ vir jou kerk se barmhartigheidswerk
In die laaste tyd word al meer in kerklike kringe gehoor dat gemeentes nouer met hulle plaaslike kerklike maatskaplike organisasie moet saamwerk. ’n Sentiment waarmee Claassens volmondig saamstem. Op hierdie terrein meen hy doen ENGO en die plaaslike NG Kerk “baanbrekerswerk” in die Vrystaat. Hulle is besig om ’n samewerkingsooreenkoms te finaliseer … “sodat daar geen misverstande is nie, sodat ons nouer kan saamwerk in die toekoms.”
Wat dit in praktiese taal beteken is ENGO wil graag hulle kundigheid met gemeentes deel wat behoeftes in hulle gemeenskap wil aanspreek. “As jy al klaar ’n Mercedes het van welsyn om missionale werk te doen (soos) sopkombuise (en om) uit te reik vir enige welsynsuitdagings wat daar kan wees, laat ENGO jou help,” nooi Claassens gemeentes uit om met hulle eie ‘one-stop charity’ kontak te maak.

Die boodskap wat gemeentes ook moet hoor is dat ENGO hulle hulp nodig het, voeg Fourie by. Sy sê dit is veral so op die platteland waar die kerk dikwels nog dié bymekaarkomplek van die gemeenskap is: “Al is ons ’n provinsiale organisasie, op die einde gaan dit met ’n liefdadigheid op ’n dorp so goed soos wat die gemeenskap dit ondersteun”.
Die sleutelwoord is ‘wees betrokke’. Of dit nou is om boerewors te braai of pannekoek te bak op ’n Saterdagoggend, en of dit is deur jou kundigheid op bestuursvlak te deel, dit maak nie saak nie. “Ons het jou hulp nodig,” benadruk Fourie.
Haar paadjie met ENGO kom al 15 jaar aan, maar sy is van verlede jaar meer voltyds ingetrek om die organisasie te help nuut dink, veral hoe hulle meer sigbaar kan word. “Jy kan nie mense gaan vra vir borgskappe en dan het hulle nog nooit van jou gehoor nie,” sê sy. Dit verstom haar dat daar steeds mense in die Vrystaat is wat nie van ENGO weet nie. “My mikpunt is as mense liefdadigheid dink, moet hulle ENGO dink,” sê Fourie wat met 25 jaar bemarkingservaring agter die blad ’n stewige pakkie vaardigheid na ENGO bring.
Nog ’n manier waarop gemeentes ook kan help, is deur ENGO ’n stalletjie te gee by hulle basaar. Hier kan byvoorbeeld kaartjies verkoop word vir die gelukstrekking later vanjaar waarin ’n splinternuwe Suzuki S-Presso GL Plus gewen kan word.
In pas met hulle 120ste bestaansjaarviering vanjaar is ’n aanlyn-veldtog geloods wat mense aanmoedig om ’n donasie van R120 te maak vir 12 maande deur ’n debietorder te teken, of ’n eenmalige donasie te maak van R1 440.
’n Nuwe reeks bemarkingsprodukte is ook tydens die Covidpandemie ontwikkel. Fourie wys trots die dagboeke versier deur die kunstenaar Olivia, kleurvolle buffs, spesiaal vermengde filterkoffiepakkies en blou stapsokkies wat maar ’n paar van die produkte is wat by hulle takke te koop is.
“Covid het ons eintlik laat besef ons moet ’n bietjie anders begin dink om ons kapasiteit in terme van geld en mense beter te benut,” sê sy.
Alles gaan daaroor om dienste te kan bly lewer. Hoewel ENGO vanaf die staat ’n jaarlikse subsidie ontvang, het lewenskoste die afgelope jare soveel gestyg dat nuwe planne bedink moes word om volhoubare fondse te in sodat hulle programme kan oorleef. Soos Fourie dit stel: “Ons het nie die luukse om ’n kinderhuis te sluit nie, dit is lewens wat geraak word”.

‘Raving fans’ regoor die Vrystaat
‘Charity begins at home,’ lui die spreekwoord. Claassens vertel vir hulle by ENGO begin die uitleef van dankbaarheid by hulle eie mense. “Ons het ’n sêding … ons wil raving fans maak van ENGO regoor die Vrystaat en om ’n raving fan te maak moet jy in die produk en die diens glo. Jy moet dit uitstraal.”
Daarom vat hulle senior bestuurspan sedert laasjaar jaarliks die pad op ’n interne roadshow regoor die Vrystaat “om die harte van ons personeel te hoor, van ons vrywilligers te hoor en te sien hoe ons saam strategies vorentoe kan beplan,” verduidelik hy.
Kerkbode se besoek op ’n sonnige Vrydagoggend is juis na ’n week van takbesoeke. Hierdie nouer direkte kontak met hulle eie mense is ’n moet, want sê Claassens: “Jy kan nie ’n boodskap na buite toe vat as jou energie en jou menswees dit nie wys nie. Jou dankbaarheid dit nie wys nie.
“So ons is in die proses om raving fans van ons eie mense eers te maak … sodat ons kan help om hierdie boodskap van dankbaarheid en van ENGO na buite uit te straal en dan hierdie boodskap soos ’n veldbrand regoor die Vrystaat te vat.”
Vir meer inligting oor ENGO en verdere planne om 120 bestaansjare te vier, besoek gerus hulle webblad by https://engo.co.za/.
Waarvoor staan ENGO?
Die naam ENGO het ’n spesiale betekenis.
E staan vir ewige hoop.
NG verwys na hulle bande met die NG Kerk.
NGO staan vir nie-regeringsorganisasie.
GO kom uit die organisasie se teksvers, Matteus 18:19-20: ‘Therefore go!’
