Jacob Burger Greeff is op 4 Mei 1931 gebore op die plaas Hazenjacht in die distrik Oudtshoorn in die Klein-Karoo. Sy vader is Abraham Petrus Greeff en sy moeder Maria Johanna Schoeman, wat die worstelstryd van die boerderybedryf met die val van die volstruismark beleef in die Depressietyd. Japie begin sy skoolopleiding in 1937 aan die laerskool op Hazenjacht waar hy leer lees en skryf en die eerste grondslag vir sy akademiese vorming gelê word. Japie word in 1945 leerling aan die Hoërskool Outeniqua op George, waar hy presteer in tennis en rugby en ook as redenaar uitblink. In dié tyd is hy ’n aktiewe lid van die CSV en gee leiding op geestelike gebied.
Japie voel geroepe om predikant te word en na sy matrikulasie in 1948 op George, studeer hy sedert 1948 aan die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA-graad verwerf en primarius is van die privaatkoshuis Bergville. Hy kry in 1952 toegang tot die Teologiese Seminarium in die Eikestad waar hy die BD-graad verwerf. Intussen verwerf hy in 1955 die MA-graad. Hy is besonder skrander en verwerf al sy grade cum laude en word aan die einde van 1955 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer.
Prop JB Greeff is nog ongetroud en word op 22 April 1956 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Sondagsrivier in Kirkwood waar hy sy bediening in die Oos-Kaapse platteland begin en die groot boeregemeenskap geniet. Hy trou op 12 Januarie 1957 met Helena Charlotte Olivier en uit die huwelik is drie kinders gebore: Marieta, Abrie en Jaco.
Sy seun Abrie onthou ’n komiese insident op Kirkwood in sy pa Japie se lewe toe ’n tannie uit die gemeente hom berispe het omdat hy ’n strawwe roker is, waarna die jong dominee dadelik ophou en hy het nooit weer gerook nie.
Ds Japie Greeff verlaat na vier jaar die gemeente en aanvaar ’n beroep na die NG Gemeente Uitenhage-De Mist, waar hy op 6 Februarie 1960 ontvang en bevestig word. Hier help hy met die bou van ’n nuwe kerkgebou. Gedurende die geseënde Pinkstertyd van 1963 kom ongeveer 100 persone tot bekering en die weeklikse biduurgroep was gewoonlik tussen 80 en honderd mense. Na sestien geseënde jare in die gemeentebediening in Uitenhage, neem hy ’n beroep aan na die NG Gemeente Port Elizabeth-Lorraine waar hy op 16 Oktober 1976 ontvang en bevestig word.
Intussen studeer hy ook verder en hy behaal in 1980 die DLitt-graad wat handel oor die Bybelboek Job en die Semantiek, met verwysing na die Ugaritiese, Aramese en Arabiese tekste. Hy het ’n tyd lank gehelp met klasgee in Semantiek aan die Universiteit van Port Elizabeth en toe hulle hom ’n permanente lektorspos aanbied, het hy dit summier van die hand gewys omdat hy die gemeentebediening geniet en ’n geroepe bedienaar is van die Here se Woord.
In die NG Gemeente Port Elizabeth Lorraine is dr Japie Greeff baie gelukkig en hy speel ook ’n groot rol in die breë kerklike gemeenskap van die vriendelike stad Port Elizabeth. Hy beywer hom sterk vir die afstigting en die tot standkoming van die Sinode van Oos Kaapland en speel ’n rigtinggewende rol as eerste skriba en is later ook assessor en waarnemende moderator. Onder sy leiding is ’n sinodale gebou opgerig en hy het ’n groot aandeel gehad in die opstel van die kerkorde van die Sinode van Oos-Kaapland. Sy aandeel in, en pleidooie vir die herstrukturering van die predikantepensioenfonds in die vroeë 1970’s, het daartoe gelei dat predikante wat afgetree is gemakliker
finansieel kon leef na aftrede. Dr Japie en Lotta Greeff was meelewend in die sinodale leierskap en betrokke by die sending- en vrouebediening. Hy word veral onthou vir die aanbieding van die Passiespel, waar hulle met ’n boot op die strand van Algoabaai aan wal stap en die opvoering op ’n gesogte terrein voortgesit word.
Hier in die hart van Port Elizabeth is hulle orals betrokke en is ook instrumenteel met die bou van ’n nuwe kerkgebou en hulle liefde vir gemeentewerk is aansteeklik, tot hy op 1 November 1994 sy emeritaat aanvaar weens swak gesondheid.
’n Groot hartseer tref die gesin toe hulle seun Jaco, wat slegs 28 jaar oud was, skielik op 14 Augustus 1993 sterf voor sy bevestiging in die Wonderpark gemeente. Die egpaar het nooit emosioneel herstel na Jaco se dood nie en bly na hulle aftrede in die hawestad Port Elizabeth woon.
In 1998 het albei se gesondheid so verswak dat hulle by hulle seun Abrie op ’n kleinhoewe naby Pretoria gaan woon. Hier beleef hulle die nabyheid van hulle dogter Marieta en hulle seun Abrie en geniet hulle kleinkinders en is tot groot seën vir elkeen wat hulle lewenspad kruis. Hier sterf Lotta Greeff op 5 April 2010 aan leukemie en dr Japie woon die laaste twee jaar van sy lewe in ’n versorgingsoord. Hy oorleef sy vrou elf jaar lank en sterf op 5 Julie 2021 aan Covid-19 in Pretoria. Sy seun Abrie skryf: “Hy het die laaste tyd baie gesê hy sien so uit om God te ontmoet. As jy kan sê jou pa het jou na die Here Jesus gelei is dit ’n wonderlike voorreg wat min kinders beleef. Hy het ook baie ander en baie van my vriende na God gelei. Dit bly ’n lieflike gedagte dat hy by God is en vir ons wag – dit is ’n ongelooflike wedersiens.”
Dr Anton Oliphant skryf in ’n huldeblyk: “Ek was bevoorreg om agt jaar lank van 1986 tot 1994, saam met oom Japie Greeff te kon werk. As onervare proponent uit die kweekskool, het hy my nooit soos een laat voel nie. Die rede hiervoor was geleë in sy sagmoedige en nederige geaardheid. Almal in die gemeente, maar ook in die breër kerkverband, het hierdie eienskap/karaktertrek van hom ervaar en waardeer. Ek het dikwels by myself gedink: “Dit is hoe ’n dissipel van die Here Jesus lyk! Uit sy eie gebede kon ’n mens so duidelik waarneem dat hy in ’n diepe verhouding met God geleef het. Dr Japie was lief vir die gemeente en vir die kerk. Hy was lief vir sy gesin. Maar bo alles was hy lief vir die Here.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
