Jacobus Pieter Marais Stapelberg is op 11 September 1931 gebore op Despatch, ’n nywerheidsdorp naby Port Elizabeth. Sy vader is Frans Johannes Jacobus Stapelberg, ’n werker by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens. Sy moeder is Wilhelmina Christina Elizabeth van der Walt. In 1961 word die egpaar koshuisouers aan die Hoërskool Trompsburg, waar hulle met liefde uitreik na boere se kinders wat in die week in die koshuis is en net naweke huis toe gaan. Gerdrie was toe ’n plaasseun in Sub A, wat die eerste keer uit die huis gegaan het en die opregte omgee van die twee dierbare koshuisouers beleef het.
Kobus begin sy skoolopleiding in 1941 en weens sy vader se werk, is hy leerling aan die Laerskole Despatch, Cradock en Port Elizabeth. Hy is later leerling aan die Hoërskool Brandwag op Uitenhage, waar hy in 1948 matrikuleer. Kobus is in sy skooljare hoofspanleier van die Voortrekkers op Despatch en verwerf ook erekleure in rugby. Hy voel geroepe om vir die Here te werk, maar werk na matriek ’n jaar lank by ’n motorfabriek in Port Elizabeth.
Hy vertrek in 1950 na Stellenbosch waar hy die BA-graad in 1952 verwerf en na die sendingveld in Masjonaland vertrek waar hy vyf jaar lank as sendingonderwyser die Here dien. Op Stellenbosch speel hy ’n rol in die Voortrekkers se staatmakergroep as offisier en is deel van die Studentevrywilligerbeweging.
Kobus voel geroepe om predikant te word en sy pad loop terug na Stellenbosch waar hy na die aflegging van die admissie-eksamen in 1958 die bekende marmertrappies van die Kweekskool klim en hy word aan die einde van 1962 as proponent gelegitimeer. Hy tree op 4 Januarie 1958 in die huwelik met Martha Magdalena Kellerman en uit die huwelik is vier kinders gebore, waarvan een jonk sterf. Later gee hulle op 13 November 2007 nog ’n seun ds Frans Stapelberg (46) weens ’n longkwaal aan die dood af.
Op 9 Maart 1963 word prop JPM Stapelberg met handoplegging in die NG Gemeente Grootrivier op die walle van die Oranjerivier ontvang en bevestig. Hier beleef hulle ’n ware leerskool van die lewe met interessante karakters wat hulle lewe help vorm. In sy hart bly ds Kobus ’n sendeling, daarom loop sy pad in 1967 na die NGKA te Potgietersrus Oos. Hier is hy sendeling by die NG Kerk se Groothoek-sendingstasie in die mooi omgewing van Pietpotgietersrus, waar hy voorsitter is van die NGKA se Ring van Burgersfort. Hulle kinders gaan in Zebediela skool tot ds Kobus Stapelberg in 1974 ’n beroep aanvaar as sendeling in die NGKA te Irene in Pretoria. Hier beleef hy vele uitdagings in die swart stedelike gebied en soek biddend antwoorde vir die krisisse wat hy daagliks moet hanteer. Die feit dat hy kort tevore ’n MA-graad in Volkekunde behaal het, gee hom die broodnodige kennis om met die nodige begrip situasies te hanteer. Die tema van sy tesis is: “Farm labour on the Zebediela Estates”.
’n Skerp draai kom op ds Kobus Stapelberg se pad, toe hy ’n beroep ontvang na die NG Gemeente Molteno, ’n dorp geleë in die Stormberge in Oos-Kaapland. Hier word hy op 16 Julie 1977 ontvang en bevestig in die pragtige rooibaksteen-kerkgebou in die hart van die dorp van drome, soos die kunstenaar en skrywer Johannes Meintjies, sy grootworddorp beskryf. Hier beleef die leraarspaar wonderlike tye saam met die lieflike boeregemeenskap, waar hy en sy vrou saam met die gemeenskap leef. Een van die hoogtepunte is die herlewing wat in 1986 tydens Pinkstertyd uitbreek onder hoërskoolleerlinge in Molteno. ’n Hoogtepunt is ook die oprigting van ’n woonstelkompleks vir bejaardes op die dorp, ’n projek waarin die NG Kerk op Molteno ’n groot rol speel.
Na ’n lang dienstydperk as leraar op Molteno, aanvaar ds JPM Stapelberg sy emeritaat op 25 Augustus 1991 weens verswakte gesondheid. Die egpaar bly in Molteno woon, maar verhuis in 1993 na Kaap St Francis aan die prentjiemooi kuslyn. Intussen hou ds Kobus hom besig met dinge waarvan hy hou, soos ’n byeboerdery en familienavorsing oor die Stapelbergs. Hierdie getroue dienskneg van die Here sterf op 21 Oktober 2020 en sy naby familie en vriende neem tydens ’n intieme diens van hom afskeid. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM.
