Nico Mostert Kritzinger is op 18 Julie 1957 gebore in die ou sendingpastorie te Ventersdorp. Sy ouers is dr Johan Daniel Wilhelm Kritzinger, wat doktoreer in die Ou Testament aan die Vrije Universiteit te Amsterdam in Nederland. Sy moeder is Trudie Kritzinger, ’n gekwalifiseerde verpleegkundige en ’n kragbron wat haar gesin met liefde en wysheid hanteer. Na dr Danie se terugkeer uit Nederland word hy gelegitimeer en aanvaar ’n beroep as leraar na die NG Kerk in Afrika te Ventersdorp. Na drie jaar word hy in 1960 leraar van die NG Gemeente Ventersdorp, waar hy en sy vrou Trudie met oorgawe werk en mense hulle toewyding en arbeid waardeer in koninkryksdiens.
In 1963 aanvaar dr Danie Kritzinger ’n beroep na die NG Moedergemeente Germiston, waar hierdie Godsman diep spore trap as ’n geliefde pastor en getroue voorbidder vir gemeentelede en almal wat sy pad kruis. Dit was sy lewenspassie om Jesus Christus as ’n lewende werklikheid onder alle omstandighede, in alle lewenseisoene uit te leef en voor te hou. Hy het ’n sendinghart en speel ’n onberekenbare rol in die sendingkommissie van Suid-Transvaal. Sy geestelike inpak op Germiston is massief en sy skielike dood aan ’n hartaanval op 31 Januarie 1972, ’n paar weke voor sy 42ste verjaarsdag, kom as ’n skok vir almal in Germiston en die breë NG Kerk. Maar die inpak van hierdie Godsman op sy nageslag is groot, want na sy dood sit elkeen dekades lank die geestelike werk wat hy begin het voort.
Nico Kritzinger begin sy skoolopleiding op Germiston en na sy vader se dood verhuis die gesin na Potchefstroom waar Nico in 1974 aan die Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom matrikuleer. Hy voel geroepe om predikant te word en studeer aan die PU vir CHO waar hy die BA (Admissie) verwerf. Hy kry in 1978 toegang tot die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria, waar hy sy studie in 1981 voltooi. Hy studeer in 1982 en 1983 oorsee in Basel, Switserland, waar hy by die bekende prof Oscar Cullman aan huis woon en besondere tye beleef. Nico volg die lesings van professore Bo Reicke, Jan Lochmann, Ernst Jenni en Markus Barth en smee in dié tyd hegte vriendskappe met internasionale studente aan die Universiteit van Basel.
Hy keer terug na Suid-Afrika en is in 1984-1985 ’n dienspligkapelaan in die SA Weermag. Terwyl hy beroepafwagtend was, preek hy in 1986-1987 oral in gemeentes, maar word nie beroep nie. Hy is ook tydelike lektor in Nuwe Testament by Unisa. Hy trou op 28 Maart 1987 met mej Nadene Kock van Hartebeesfontein. Uit die huwelik is drie kinders gebore: Danie, Rinaldo en Ilona.
Sy broer dr Andries Kritzinger skryf: “Sy besluit om terug te gaan universiteit toe, verras almal, veral sy besluit om medies te studeer. Na sewe jaar plus se teologiese studie, meld hy toe aan vir ’n verdere sewe jaar om aan die einde die graad MBChB van die UOVS in Bloemfontein te ontvang.” Hy is van 1994 tot 1996 mediese dokter in Potchefstroom en Vanderbijlpark en verhuis in 1998 na Klerksdorp, waar twee van sy broers reeds as algemene praktisyns gewerk het.
In dié tyd is dr Nico Kritzinger ’n meelewende lidmaat van die NG Gemeente Klerksdorp-Oos, wat hom aanmoedig en “oorhaal” om in 2007 aan te meld vir colloquim doctum om weer beroepbaar te wees in die NG Kerk. In 2008 word dr Nico Mostert Kritzinger bevestig as tentmakerleraar van die NG Gemeente Klerksdorp-Oos, waar sy oudste broer dr Andries Kritzinger, voorheen leraar van Orkney, bevoorreg is om sy ordening en bevestiging in die NG Kerk waar te neem. Die kring wat in 1975 op Potchefstroom begin is, word in 2008 voltooi op Klerksdorp, wat bevestig dat die Here God ’n waarmaker is van sy beloftes.
Dr Andries Kritzinger skryf oor sy jonger broer: “Die geliefde dokter, sou spoedig ook ’n geliefde dominee wees! Hy kon kliniese sorg en pastorale bewoënheid soomloos by mekaar laat aansluit, omdat hy terdeë bewus is van die eenheid van die menslike persoon as ’n psigofisiese wese, wat geskape is om in verhoudings te lewe. Nico was ’n heel mens, ’n Renaissancemens, ook in die letterlike sin van die woord. Met verbluffende briljantheid, maar ook tegelyk met die grootste deemoed en deernis, kon hy met buitengewone wakkerheid en verwondering inkyk in die werklikheid. ’n Luisteraar soos min, met fyn waarnemingsvermoë; hierdie begaafdheid sou deel van sy mondering wees in die omgang met mense as pastor en as geneesheer.
“Hy was ’n begenadigde, ’n geliefde broer wat vir jou deur die vuur sou stap, ’n lojale vriend, ’n pa wat baie beter verstaan het as wat jy dink, en ’n eggenoot wat die weelde van ’n deurleefde verhouding met dankbaarheid kon waardeer. Nico was ’n man met ’n reuse pastorale hart met deernis vir alle mense. Dit was ook die drif in sy buitengewoon wye belangstelling wat hy graag gedeel het as jy wou luister. Naas die dissiplines waarin hy opgelei is, was hy geesdriftig oor geologie, argeologie, sterrekunde en geskiedenis … en oor sy honde! Hy was van kleins af ’n ‘ongeneeslike hondeliefhebber’ en sy honde het dit geweet! Nico was een van die eerste mediese dokters wat as gevolg van die Covid-19-virus oorlede is, voordat daar nog entstof beskikbaar was.”
Dr Nico Kritzinger laat twee predikantbroers agter, dr Andries Kritzinger, dekades lank predikant op Orkney en prof Koos Kritzinger, dosent in Latyn aan die Universiteit van Pretoria. Dr Nico het die twee beroepsgroepe in die gesin bymekaar gehou, want daar is ook drie broers in die mediese wêreld, dr Daan, dr Deodat en dr Sarel, asook ’n suster Marlian.
Dr Nico Kritzinger toets op 22 Julie 2020 positief vir Covid-19 en word op 26 Julie 2020 in die Wilmedpark-hospitaal op Klerksdorp opgeneem. Agt weke later sterf hy op 26 September 2020, in die dorp waar hy duisende mense liggaamlik en geestelik bygestaan het. ’n Roudiens word op 2 Oktober 2020 in die NG Kerk Klerksdorp-Oos gehou, met ds Alewyn Burger as prediker en dit word landswyd op die elektroniese media gevolg.
So groet die NG Kerk en gemeenskap van Klerksdorp, ’n dominee wat ’n dokter geword het. Hy sou met oorgawe as geroepe dienskneg van die Here, sy roeping in albei beroepe vreesloos uitleef. Sy mediese studie was bloot ’n verlenging van sy pastorale ingesteldheid, om volledig die hande en voete van die Meester te wees op voetsoolvlak. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
