Pieter Wouter de Wet is op 7 Junie 1931 op Wolmaransstad gebore. Sy vader is Hendrik Francois de Wet, wat geboer het op die plaas Doornfontein in die distrik Ottosdal. Sy moeder is Leonora Augusta Roos, musiekonderwyseres en orrelis van die NG Gemeente Makwassie. Pieter is die oudste van drie kinders en word tydens huisbesoek in die plaas huis gedoop deur ds SF Weich, want die seuntjie was sieklik en almal was bang die seuntjie gaan ongedoop sterf. Die jong Pieter bly leef en word groot op Makwassie, waar hy in 1939 begin met sy skoolopleiding aan die Laerskool Makwassie. Hy word in 1945 leerling aan die Hoërskool Wolmaransstad waar hy aan die einde van 1948 matrikuleer met ’n onderskeiding in Afrikaans en Duits. Pieter is dux-leerling van die skool, stel belang in seëls en is tot sy oudag toe ’n kranige seëlversamelaar.
Pieter voel geroepe om predikant te word en begin in 1949 met sy studie aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1952 die BA-graad verwerf en aan die Fakulteit Teologie (Afd B) studeer en einde 1955 as proponent gelegitimeer word. As student aan Tukkies neem hy leiding op sendinggebied en is deel van die CSV, Teaterkring en volkspelegroep. Hy word beroep as sendeling en uitgestuur deur die NG Kerk na Noord-Nigerië, waarna hy op 21 Januarie 1956 in die NG Kerk Makwassie georden word, met opdrag Soedansending. In sy dienstyd word die TIV-kerk gestig en trap hy diep spore. Op 30 Mei 1959 word hy bevestig as sendeling op Barberton en op 28 Januarie 1961 word hy die NG leraar in die gemeente Bremersdorp in Swaziland.
Ds Pieter de Wet word op 4 Desember 1965 leraar van die NG Gemeente Lusaka in Zambië, waar hy in ’n krisistyd diep spore trap as herder en leraar. Hy is die hartaar van die Sinode van Midde-Afrika waar hy in 1969 ’n gedenkboek skryf met Lusaka se halfeeufeesviering. In Malawi stig hy in 1968 ’n wykskerk en is ook konsulent in Kenia waar hy in 1976 die laaste Afrikaanse erediens in die Loubser-kerkgebou lewer.
Op 12 Julie 1971 word hy leraar van die NG Gemeente Delportshoop, waar hy die delwers- en boeregemeenskap met oorgawe dien. Hy keer terug na Midde-Afrika, toe hy op 12 Maart 1973 algemene sekretaris van die Sinode van Midde-Afrika word. Met sy ywerige sendinghart, beklee hy sedert 3 Februarie 1975 die Algemene Sinode se pos vir Sending onder Kommuniste, met standplaas Pretoria. Hy staan landswyd bekend as “Piet Kommunis”, ’n eretitel in die NG Kerk. Hy het dit nie net doodgeleef nie, maar ook oorleef. Hier werk ds Pieter met oorgawe en passie tot hy op 4 Augustus 1996 sy emeritaat aanvaar en hy terugkeer na die omgewing van Makwassie, sy grootwordwêreld en hartland.
Ds Clem Marais van Windhoek skryf: “Soms het ek hom ook Petja genoem, dit is die Russiese weergawe vir ‘klein Pieter’. Hy het ’n sterk persoonlikheid gehad, wat soms gegrens het aan die eksentrieke. Wie hom nie geken het nie, is armer. Ek dink nie ek ken iemand wie se algemene kennis beter is as Pietertjie s’n nie. Wanneer hy op ’n plek gekom het, het hy alle beskikbare koerante gekoop en behoorlik gelees. Hoe kon Pietertjie nie ’n stuitigheid geniet nie! Dan het hy sy hande met genoegdoening teen mekaar gevryf en uit sy maag gelag.”
Met sy klasmaats het hy ook kontak gehou. Hy en prof Johan Heyns was op ’n keer saam by ’n troue. Daar was net druiwesap op die tafel en Johan was gefassineer deur die bottels. Nadat almal al gaan sit het, het hy nog gestaan, besig om so ’n bottel te bestudeer. Dis toe dat Pietertjie afhaak: ‘Sit Johan, jy sal dit nie in wyn verander kry nie’. Gevolg deur hande te vryf en te giggel. ’n Ander klasmaat is prof Murray Janson.
Pieter de Wet het gelewe. Voluit geleef. Met sy dood op 89 jarige leeftyd op 18 Januarie 2021, word ’n eiesoortige hoofstuk afgesluit in die NG Kerk.
Hy het diep spore getrap in die hart en lewe van leraars en kerkmense, ’n oujongkêrel wat altyd ’n welkome gas was in meer as een pastorie oor die hele Suid-Afrika. Ds Pieter was ’n belese heer met ’n skerp intellek en geheue, iemand wat in opregtheid geleef het en wie se menslikheid en droë humorsin groot vreugde en warmte gebring het in die soms starre en vervelige kerklike milieu. Hierdie kaalkopdominee, met sy soms verleë skalkse glimlag, het ’n dinamiese menslike vonk gebring in meer as een konsistorie, kerklike vergadering en ook vir die kerkvolk.
Ds Pieter de Wet het altyd met die tong in die kies gepraat van rysmiere wat hom pla, want hy was ’n wêreldreisiger wat verslaaf was aan reise buite die landsgrense. Hy het in sy leeftyd meer as 50 lande besoek, ’n pelgrim en kerklike pleitbesorger vir die evangelie van Jesus Christus oor die wêreld heen. Sy taalaanleg het deure oopgemaak vir die Blye Evangelie, hy was baie tale magtig en kon Russies lees en skryf. Hy was nooit getroud nie en het altyd gesê watter vrou sal by so ’n uithuisige man kan uithou?
Met sy afsterwe is hy ’n inwoner van die ouetehuis op Wolmaransstad. Ons wat Pieter de Wet goed geken het, onthou sy gewoonte om na ’n klein hoesie altyd te sê: “Dit sal nie meer lank wees nie.” En tog was dit lank genoeg, want hy leef byna nege dekades lank, maar uiteindelik het sy lank kort geword toe hy op Maandagmiddag 18 Januarie 2021 sterf op Wolmaransstad. Dit is sy geboorte- en sterfplek, waar die sirkel vir hom voltooi is hemelwaarts. Sy vriend prof Fanie Snyman, hou op 22 Januarie 2021 ’n herinneringsdiens in die NG Kerk Makwassie, die gemeente waar Pieter belydenis van geloof afgelê het, waar Pieter georden is as bedienaar en waar sy moeder 35 jaar lank die Here gedien het as orrelis. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
