Die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) is bedoel vir teoloë, teologiese studente, meelewende Christene én nie-Christene, San en Jan Allemens, wat in Afrikaans betroubare elektroniese inligting oor talle mense en sake soek, skryf Frits Gaum.
Wat is ’n “aktuarius”? Wat is die “uitverkiesing”? Wat beteken “doleer”? Wat is Jacob Zuma se godsdiensoortuigings? Wie was Donatus (311-355)?
Die eCKE beantwoord hierdie en nog ’n paar duisend sulke vrae met lemmas (kort artikels) by www.ecke.co.za.
Dit gee betroubare inligting oor die Bybel, Bybelse woorde en begrippe, die Christelike geloof van aanvang tot hede, ander gelowe, die kerk, die impak van mense en gebeure op die Christendom – van die Kruistogte tot Nazïsme tot Kommunisme tot apartheid. Dit vertel die verhaal van die Christelike geloof in Afrika en die res van die wêreld. Maar die klem bly op Suid-Afrika, die mense van Suid-Afrika, die wel en wee van Suid-Afrika uit Christelike hoek.
Waar kom die bron vandaan?
Die eCKE is die elektroniese uitbouing van die Christelike Kernensiklopedie (CKE) wat in 2008 in papierformaat (1 212 kleurbladsye) by Lux Verbi.BM en Bybelkor verskyn het en in 2009 die ontvanger was van die Pieter van Drimmelen-medalje van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die eCKE is die afgelope tien jaar met die CKE as basis ontwikkel tot die enigste elektroniese ensiklopedie van dié aard in Afrikaans wat gratis beskikbaar is (dit is te kry by www.ecke.co.za).
Die eCKE wil ’n lewende, betroubare ensiklopedie wees en nooi gesprek uit oor onderwerpe in verband met die Christelike geloof. Die eCKE het meer as 170 medewerkers – onder wie binnelandse en buitelandse teoloë asook filosowe, sielkundiges, letterkundiges en historici – en bevat meer as 3 000 lemmas en honderde foto’s.
Hoewel die medewerkers aan die eCKE uit ’n tiental wydverskillende kerke kom – van Katoliek tot Protestants, van Anglikaans tot Gereformeerd tot Pinkster – is die perspektief van die ensiklopedie hoofsaaklik Protestants-gereformeerd. Waar ’n saak of ’n persoon ter sprake kom, is daarna gestrewe om feitelik korrek te wees en die evaluering is so gebalanseerd moontlik. Die verskillende medewerkers het die vryheid om hulle eie gemotiveerde mening oor ’n saak te gee waar hulle dit nodig vind (daarom verskyn al die lemmas onder die medewerkers se name), wat meebring dat daar verskillende beklemtonings en hier en daar dalk selfs “teenstrydighede” voorkom. Dit is egter onvermydelik: Ons leef nie in ’n tyd van finale en vasgelegde sienings oor alles en nog wat nie. Die redaksie (bestaande uit lidmate van verskillende kerke) is egter oortuig van die kundige, verantwoordelike en verantwoordbare inhoud van hierdie ensiklopedie.
Die eCKE se naam is nie om dowe neute elektroniese Christelike KERNensiklopedie nie. Dit is omvattend, maar nie volledig nie. Aanvullings, regstellings, alternatiewe sienings en opdatering is ’n voortgaande taak. As gevra word watter persone en sake in ’n kernensiklopedie opgeneem en watter uitgelaat moet word, is die strewe om so objektief moontlik te oordeel, maar daar sal uiteraard verskil van mening wees. In ’n elektroniese publikasie is deurlopende redaksionele betrokkenheid egter moontlik en kan gedurig aanvullings (of skrappings) gemaak word … wat nie met ’n papier-publikasie op dieselfde manier moontlik is nie.
Die eCKE is bedoel vir teoloë, teologiese studente, meelewende Christene én nie-Christene, San en Jan Allemens, wat in Afrikaans betroubare elektroniese inligting oor talle mense en sake soek.
Die redaksie, hoof- en ander medewerkers is almal kenners op hulle vakgebied en die meeste van hulle het ’n lys eie vak- en populêre publikasies. Daar word gedurig nuwe en jonger persone genader om bydraes te lewer sodat die eCKE nie vasval in ’n bepaalde tydsgewrig nie maar werklik aktueel en eietyds – en steeds betroubaar! – bly. (Sien “Medewerkers”).
Die eCKE word gefinansier deur borge en donateurs en is daarom gratis. Deur die jare het verskeie instansies en persone òf eenmalig òf op gereelde grondslag fondse vir die projek beskikbaar gestel – hulle name word, indien hulle daartoe inwillig, prominent op die tuisblad van die eCKE vermeld. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Dagbreek- en Hiemstra-trusts, die vier teologiese fakulteite aan Suid-Afrikaanse universiteite, die FAK, ATKV en die PUK-Kanselierstrust werk almal saam in die projek. Jaarliks word aan die donateurs/borge verslag gedoen oor wat in die betrokke jaar gebeur het en watter vordering gemaak is.
Lees in die eCKE meer oor Drusilla, Tonitope Joshua, die Rebellie van 1914, die Rehoboth-basters en die Christelike geloof, teopneustie, transsubstansie, die Afrikaner-Broederbond. Daar is ook waardevolle vraag-en-antwoord-gesprekke oor hulle geloof met wyle PW Botha, Nelson Mandela, Desmond Tutu, Willie Jonker, Wentzel van Huyssteen, FW de Klerk en Cecile Cilliers.
- Dr Frits Gaum is die hoofredakteur van die eCKE. Bybel-Media is die uitgewer daarvan.
