Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit kos baie geld om selfs net ’n gedeelte van die Bybel vir ’n taalgroep te vertaal, sê Emesé Ferreira, ’n ervare Bybelvertaler wat hier saam met die vertalingspan werk van die Toka-Leya, een van 558 taalgroepe in Afrika wat nog nie die Bybel in hul eie taal het nie. Foto’s: Verskaf

16 miljoen in Afrika sonder Bybel in eie taal

In Afrika alleen is daar 558 taalgroepe wat 16 miljoen mense verteenwoordig wat nie ’n volledige Bybel in hulle eie taal het nie, volgens die nuutste statistieke tot beskikking van Wycliffe Global Alliance, ’n internasionale “gemeenskap van meer as 100 diverse organisasies en netwerke wat saamwerk in Bybelvertalingprojekte wêreldwyd” volgens hulle webblad.

Een van hierdie taalgroepe is die Toka-Leya wat aan die Zambiese kant langs die Victoria-waterval woon.

Dit kos baie geld om selfs net ’n gedeelte van die Bybel vir ’n taalgroep te vertaal, sê Emesé Ferreira, ’n ervare Bybelvertaler verbonde aan een van Wycliffe se vennootorganisasies. Heléne Meissenheimer het haar onlangs vir koffie ontmoet om te hoor hoe werk só ’n vertalingsprojek.

Gelukkig is daar internasionale organisasies wat taalgroepe soos die Toka-Leya kan help, verduidelik sy, soos in hierdie geval, The Seed Company, ’n Amerikaanse weldaadsorganisasie wat Bybelvertalingsprojekte ondersteun.

Emesé het tydens die Covid-pandemie begin om met die Toka-Leya se ‘vertalingspan’, wat uit teoloë sowel as taalkundiges bestaan, saam te werk. Weens die reisbeperkings wat gegeld het, kon sy net aanlyn via Zoom met die Toka-Leyaspan gesels. Sedert dit gelig het, voel beide sy en haar man Riaan dit maak sin om vir die volgende paar jaar in Livingstone tussen die Toka-Leya te gaan woon om ’n nouer verbintenis op te bou.

Die bou van verhoudings is baie belangrik tydens so ’n projek, sê Emesé. “Ek dink alles vloei daaruit … daar moet altyd ’n gesprek wees. Dit is belangrik dat hulle (die vertalingspan) voel dat hulle insette belangrik is en dat hulle nie voel dat ons net vir hulle sê wat om te doen nie … (net soos voorsê) nie is wat God met ons doen nie.”

Bybelvertaling is ’n tydsame proses wat jare kan neem. Die vertalingspan gebruik bestaande Bybelvertalings in Engels en tale na aan hulle eie om hulle te help. ’n Opgeleide Bybelvertalingskonsultant soos Emesé staan hulle met hierdie proses by. Die oogmerk is om ’n vertaling daar te stel wat duidelik en natuurlik sowel as akkuraat is, verduidelik sy.

“Hulle voel regtig asof God direk met hulle praat (om die Bybel in hulle eie taal te lees),” sê dié Hongaar van oorsprong en dit geld oral in Afrika waar sy al betrokke was in Bybelvertalingsprojekte. Om so nou met mense van ’n ander kultuur as jou eie saam te leef in lande waar WiFi-ontvangs, betroubare elektrisiteitsvloei en begaanbare paaie ’n rariteit mag wees, kan wel sy uitdagings stel. Sy en haar Afrikaanse man, Riaan, het juis ontmoet terwyl sy in Nigerië werksaam was, maar het die laaste paar jaar in Suid-Afrika gebly. Altwee voel egter dit sal goed wees om nou hierdie skuif te maak, vertel Emesé.

Riaan en Emesé Ferreira in Julie by die Victoria-waterval.

Hulle kon in Julie vanjaar vir die eerste keer in persoon saam met die Toka-Leya-span in Livingstone werk en ook die situasie ondersoek vir verblyf. Hulle beoog om teen einde September daar te vestig vir die volgende 3-5 jaar.

Tydens hierdie besoek het George, een van die vertalers, vertel van ’n gesprek wat hy met ’n ouerige Toka-Leyavrou gehad het. Sy was verstom toe hy haar vertel hulle gaan dele van die Bybel in haar taal vertaal. “Ek hoop julle vind my lewend om die Bybel in Toka-Leya te sien,” het sy hom geantwoord.

Dr David Livingstone was ook hier

Die Toka-Leya is eintlik twee groepe mense, die Toka en die Leya, wat beide al eeue lank langs die noordelike walle van die Zambesirivier woon, lees ’n mens op die webblad tothevictoriafalls.com. Meer as 160 jaar gelede het Dr David Livingstone, die bekende Skotse ontdekkingsreisiger en sendeling, ook oor die Toka-Leya geskryf toe hy in die middel 1800’s deur die gebied gereis het op soek na die oorsprong van die Nyl. Hy is ook die een wat op 16 November 1855 die waterval, waarna plaaslike inwoners verwys as Mosi oa Tunya (beteken ‘rook wat donder’), herdoop het na die Victoria-waterval ter ere van sy monarg, koningin Victoria.

  • As jy meer wil weet of die projek wil ondersteun, e-pos Riaan by riaan_ferreira@wycliffe.hu om meer uit te vind of in te teken op die Ferreira’s se nuusbrief.
  • Berig is aangepas na plasing. Red.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top