Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hy het nog nooit die Bybel ervaar as ’n boek wat sê jy moet ophou dink nie sê dr Andries Cilliers wat hoop sy nuwe boek 'Onder die blaredak: Verwonderd oor die gawe om te kan glo' sal mense uitnooi om in gesprek te bly oor geloof. Foto's: Heléne Meissenheimer

Nuwe boek: ‘God se genade is groter as my gemors’

Hy ken ook vrae oor geloof in God en die Bybel, sê dr Andries Cilliers onlangs by die bekendstelling van sy boek Onder die blaredak: Verwonderd oor die gawe om te kan glo. Maar hy kry dit nie reg om op te hou glo nie.

In die boek bekyk Cilliers, as gewilde skrywer en leraar met sowat 35 jaar in die bediening, onder meer na “geloofsvrae wat deur die hart gaan”.

Die leraar van Drieankerbaai-gemeente in Kaapstad hoop die boek sal mense in gesprek rondom geloof hou, “want ek glo dit is (vir) ons menswees belangrik,” skryf Cilliers in die inleidende hoofstuk getiteld “Waarom glo ek?”.

Die boek is op Dinsdag 23 Augustus bekendgestel tydens ’n byeenkoms van afgevaardigdes van die NG Kerk in Wes-Kaapland by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington.

Die boek, wat ook kom te midde van ’n “post-teïstiese” gesprek in breër media, is geskryf in samewerking met die NG Kerk se Taakspan van Leer en Aktuele Sake (ATLAS).

Daar is reeds begin om dit te verwerk as ’n sewe-weke program wat in gemeentes gebruik kan word. ’n Gesprekreeks geskik vir tieners word ook beplan.

Cilliers het benadruk: Hy staan nie voor die gehoor as ’n tipe “ekspert” in geloof nie. “Dit is vir my meer deel van ’n gesprek wat deur my hart gaan. ’n Mens ken die vrae. Jy ken die onsekerhede. Jy ken die tye wanneer jy minder glo … soos wanneer jy langs ’n oop graf staan,” het Cilliers gesê ter inleiding van ’n kleingroepbespreking wat daarna onder die 85 afgevaardigdes gevolg het oor die vraag: Waarom glo jy?

Wanneer Cilliers uit sy nuwe boek voorlees, blyk dit hierdie dominee skryf openhartig oor geloofsvrae met ruim gebruik van insette deur ’n verskeidenheid skrywers (nie almal gelowig nie) oor wat hom persoonlik in sy geloof sterk. Hy nooi in die inleiding enigeen in om aan hierdie gesprek te kom deelneem.

KOOP NOU: Bestel Onder die blaredak via hierdie skakel

Soos die titel aandui, gebruik hy die beeld van ’n boom vir geloof. Cilliers vertel een van die diepste wortels van sy geloof lê in sy verwondering “dat daar iets is soos ’n son, maan, aarde onder my voete en nie niks nie”. Dit is dan ook die eerste van ses temas aan die hand waarvan hy kort dagstukke aanbied. “Aan die einde van elke tema is ook ’n iets van ’n teologiese besinning vir mense wat verder wil nadink,” sê hy.

“Jy ken die tye wanneer jy minder glo … soos wanneer jy langs ’n oop graf staan,” het Cilliers gesê ter inleiding van ’n kleingroepbespreking wat daarna onder die 85 afgevaardigdes gevolg het oor die vraag: Waarom glo jy?

Hy daag in die boek ook die kerk uit tot selfondersoek. Hy is self al diep ontnugter deur die kerk, erken Cilliers. Maar ook in homself, voeg hy by. Dit bring hom by wat vir hom die belangrikste hoofstuk in die boek is, die een oor genade. “Genade sê vir my God se genade is groter as my gemors,” sê Cilliers en vir hom is hierdie genade geanker in Jesus se fisiese opstanding uit die dood. Dit kan nie net ’n metafoor wees nie.

“Ek weet nie wat dit alles beteken nie, maar as dit nie waar sou wees nie, dan is ek bereid om daai pragtige kerk in Drieankerbaai se deure te sluit … Ons hoop lê nie in godsdiens nie, dit lê in die Here van die kerk en die genade vir ons almal.”

Wat hom in die boek dan bring by die vraag: Hoe geloofwaardig is die Bybel? Hieroor sê Cilliers hy het nog nooit die Bybel ervaar as ’n boek wat sê jy moet ophou dink nie. “Dit kan ek nou sê in 35 jaar in die bediening het die Bybel my al gefrustreer, kwaad gemaak, bedruk gemaak, bly gemaak en getroos maar nog nooit verveel nie … ek het dit nog altyd ervaar as ’n boek wat sê gaan dink hieroor, praat hieroor.”

Die boek kom stellig op ’n belangrike tydstip. “(Dit is) ’n belangrike boek vir gemeentes om nuut te dink oor geloof … ons is immers ’n denkende tradisie,” sê ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Wes-Kaapse streeksinode, by die geleentheid aan Kerkbode. Sien verdere kommentaar deur Van Rensburg hieronder, in die video wat deur die sinode se kommunikasiespan vervaardig is.


Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top