Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die WRK se stem was duidelik in SA toe dit nodig was

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die 11de vergadering van die Wêreldraad van Kerke (WRK) het van 31 Augustus tot 8 September in Karlsruhe in Duitsland plaasgevind.

Hierdie liggaam wat uit 352 lidkerke uit 120 lande bestaan en wat ongeveer 580 miljoen Christene wêreldwyd verteenwoordig, het ’n belangrike rol in die geskiedenis van die NG Kerk gespeel.

Hoewel die NG Kerk in 1961 uit die WRK getree het en eers weer 55 jaar later in 2016 by die vergadering in Trondheim as lid toegelaat is, was die WRK se stem in Suid-Afrika helder en duidelik toe dit nodig was.

Lees ook: WRK: Oor ekologie, ekumene en besoek aan Oekraïne

Dit was die tragiese gebeure op 21 Maart 1960 te Sharpeville waar 69 betogers doodgeskiet en 180 gewond is, wat die WRK se rol in die geskiedenis van die NG Kerk as ’n oomblik van waarheid laat uitstaan. Na die Sharpeville-gebeure het ’n brief van aartsbiskop Joost de Blank van die Anglikaanse kerk aan die WRK gelei tot die feitesending van RS Bilheimer. Die gevolg van hierdie besoek was die Cottesloeberaad wat onder leiding van die WRK van 7-10 Desember 1960 in Johannesburg plaasgevind het.

Tydens die beraad het die verskillende kerke in Suid-Afrika geleentheid gekry om die situasie in Suid-Afrika te bespreek. Na afloop van die beraad is ’n belangrike verklaring uitgereik wat onder meer onbillike diskriminasie, die ontwrigtende gevolge van trekarbeid, die reg om grond te besit en die geskeidenheid van kerke op grond van ras en kleur veroordeel het.

Die verklaring en die gevolge daarvan was ’n waterskeidingsoomblik in die geskiedenis van die NG Kerk. Alhoewel sinodes van die kerk die verklaring in 1961 verwerp het en dit die NG Kerk amptelik as apartheidsvennoot van die regering gebrandmerk het, het die beraad daarin geslaag om die gesprek oor die kerk en rasseverhoudinge op agendas van sinodes te plaas.

Lees ook: Bly hier op hoogte van gebeure by die WRK-saamtrek

Volgens AJ van der Merwe het die debat wat met Cottesloe aan die orde gestel is, onherroeplik verskuif van die “siel van die volk” na die “hart van die kerk.” Hierdie verskuiwing het tot twee belangrike beleidsdokumente gelei. Die eerste was Ras, volk en nasie (1974) waarin die NG Kerk die Bybelse fundering van apartheid verdedig het en Kerk en samelewing (1986) waarin die NG Kerk weggedraai het van die teologiese ondersteuning van apartheid. Die NG Kerk se verwerping van die regering se apartheidsbeleid het een van die belangrike boublokke geword van ’n nuwe demokratiese Suid-Afrika.

Die WRK se leiding was in 1960 onmisbaar toe dit nodig was. Miskien is so ’n helder stem weer noodsaaklik in 2022.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top