Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sondag 11 September se ramp het Jagersfontein onherroeplik verander, maar hy wil graag glo dat die Suid-Vrystaatse myndorpie en haar mense nie net sal kan opstaan uit hierdie ramp nie, maar selfs nog sterker en hegter aan mekaar verbind sal wees, skryf De la Harpe Le Roux. Foto’s: Sinode Vrystaat

Jagersfonteinramp: NGK Vrystaat vind hoop in woesteny

Die ramp met die mynslikdam het die Vrystaatse dorp Jagersfontein onherroeplik verander, maar te midde van die chaos vind ’n span van die Vrystaatse sinode hoop met hulle onlangse besoek, skryf De la Harpe le Roux.

’n Byna dooie maanagtige landskap begroet jou reeds die laaste paar kilometer op die pad van Bloemfontein af voor die Vrystaatse myndorp Jagersfontein.

 

’n Dik laag kleiagtige stof lê oor alles. Motorwrakke, wat ’n week terug nog hulle eienaars se trots was, lê soos verwronge geraamtes. Modderbevlekte huisies, ineengestorte mure en verwoeste kamers is die stille getuienis van die verskrikking wat hier gebeur het op Sondagoggend 11 September. Vir die inwoners van die township Itumeleng en die ou mynkamp Charlesville was verlede Sondag niks minder as traumaties nie.

Dit is veral in Charlesville waar die verwoesting die ergste is; ’n strook huise het eenvoudig verdwyn. Dit is net die uiterste genade dat daar nie groter lewensverlies was nie. Die ramp het Jagersfontein onherroeplik verander. Die diamantmyn, wat volgens baie die lewensaar van die dorp is, het in ’n oggend se tyd dié dorp gebring tot op die rand van vernietiging.

Maar, die mens se rampe, chaos en verleentheid, is genadiglik altyd God se geleentheid!

De la Harpe le Roux, Oupa Kalé (gemeenskapsleier) en James Ross (leierouderling van NG gemeente Jagersfontein).
Die kos en ander noodvoorrade wat van oral instroom word in die NG gemeente se kerksaal geberg en vandaar af in samewerking met gemeenskapsleiers uitgedeel aan mense wat skade gely het.

En wat ’n seën is die lidmate en leiers van die plaaslike NG gemeente nie. Sonder ’n voltydse leraar, maar met ’n liefde vir en toewyding aan die mense van die dorp, word daar leiding geneem om hulle wat skade gely het te ondersteun, by te staan en te vertroos.

Dit word natuurlik nie in isolasie van die ander gemeenskappe van die dorp gedoen nie en die geleentheid is daar om nouer saam te werk met ander godsdiensleiers. In samewerking met Oupa Kalé, ’n gemeenskapsleier met wie James Ross, die leierouderling al sedert 1994 ’n pad loop, word daar vanuit Jagersfontein se NG kerksaal op ’n gekontroleerde wyse kospakkies en ander hulp uitgedeel aan hulle wat só baie in die ramp verloor het.

Ja, daar is en was al voor die slikdamramp groot nood en armoede op die dorp, maar hier gaan dit nou in die eerste plek om hulle wat direk deur die moddermassa gestroop is van die bietjie of meer wat hulle gehad het.

Onderwyl kos en ander noodvoorrade van oral oor instroom, het ons van die NG Vrystaat Sinodale kantoor ’n baie positiewe en praktiese gesprek met die leierskap van die gemeente gehad. Die doel, nie om vir hulle “te sê” wat hulle moet doen nie, maar om langs hulle te kom staan, saam te luister en saam te besin oor die pad vorentoe in hiérdie krisis, deur raak te sien wat dit is wat die Here wil hê moet gebeur. Dit sluit nie net in die kort- en mediumtermyn hulpverlening wat betref kos, komberse, ensovoorts nie, maar ook die aanspreek van die behoefte aan pastorale berading en versorging van diegene wat dit nodig sou hê, die hervestiging van mense wat nou sonder heenkome is, en die krisis in die boerderygemeenskap van weiveld wat tot niet is en die besoedeling van waterbronne.

Ofskoon Eskom die elektriese substasie, wat deur die modderslyk oorweldig is, herstel het en die waterpompe op die dorp weer werk, is daar steeds ’n groot behoefte aan drinkwater omdat daar onsekerheid is of die dorp se water veilig is. Bloemwater het die afgelope week nog getrou skoon water aangery na die dorp. Maar mense weet nie hoe lank daarmee nog volgehou sal kan word nie.

Só kan jy help: Terwyl alle ondersteuning van watter aard ookal opreg waardeer word, kan die volgende oorweeg word om aan te stuur: tandeborsels, skeermesse, waslappe, handdoeke, onderklere, toiletpapier, lyfroom, babadoeke, en roll-on’s. Daar is ook nood aan 1 200 losstaande ligte (werk met batterye) vir die inwoners van Charlesville – die hele kragnetwerk in dié buurt is vernietig deur die vloed.

Ek wil graag glo dat Jagersfontein en haar mense nie net sal kan opstaan uit hierdie ramp nie, maar selfs nog sterker en hegter aan mekaar verbind sal wees, om dit te wees wat die Here se wil is vir hierdie unieke kosbare Suid-Vrystaatse plattelandse dorp. Soli Deo Gloria!

Ds De la Harpe le Roux is die koördineer van die NG Kerk Vrystaat Sinode se nuwe rampbediening Hoopfonds.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top