Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit was toe hy besef dat swart evangeliste se stem te dikwels grootliks afwesig is in die vele boeke oor die geskiedenis van die NG Kerk se groei in Suider-Afrika, dat die idee geplant is vir die navorsing wat tot sy nuwe boek gelei het, sê die afgetrede antropoloog en skrywer, prof Piet Jonas. Foto: Heléne Meissenheimer

Boek wil stem gee aan rol van swart evangeliste

Vir iemand wat ver reis om die evangelie te deel, is die moeilikste deel nie die afstand tot daar nie, maar om die mense te leer ken, lief te kry en te verstaan. As jy dit nie kan regkry nie, kan jy net sowel by die huis bly.

Só sê die afgetrede antropoloog en skrywer, prof Piet Jonas, wat hierdie naderby leer ken as ’n deurlopende tema hanteer in sy nuwe 500-bladsye boek The evangelists: Black evangelists in the mission work of the Dutch Reformed Church in the Cape Province during the 20th century.

In sy boek noem hy dit die oorsteek van die “laaste twee meter”.

“Ek dink dit is die regte invalshoek (vir my boek), want die swart evangeliste het die sendelinge gehelp om hierdie laaste twee meter te oorbrug,” vertel dié oud-professor in antropologie van Unisa tydens ’n onlangse intieme bekendstelling van sy boek gehou by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington.

Vir dié 90-jarige oud-sendeling lê die herinnering nog helder hoeveel hy op sy swart evangeliste gesteun het terwyl hy destyds vir 20 jaar in die Oos-Kaap as sendeling vir die ou Sendingkerk (vandag deel van die VGKSA) onder Xhosasprekendes gewerk het.

“Hulle (sy evangeliste) het die mense geken. Hulle verstaan. Ek het die vrugte gepluk van hulle werk en ek is nie al een nie …”

Hy verduidelik in sy boek hoe moeilik dit in die 19de eeu vir sendelinge uit ’n Westerse agtergrond was om hierdie laaste twee meter oor te steek tussen mense met ’n ander taal, lewensuitkyk en kultuur. Byvoorbeeld om ’n boodskap van vrede te verkondig tydens die tyd van die grensoorloë. Dit was ’n uitdaging vir beide die sendelinge sowel as hulle “bekeerlinge” wat later as evangeliste saam met hulle die Woord versprei het.

Om iets te begryp van die belang om hierdie “twee meter” oor te steek meen hy is absoluut van betekenis vandag in Suid-Afrika, ook vir die NG Kerk, al merk hy die laaste tyd ’n “kentering maar teen watter prys van verlies van vertroue”.

Tydens sy navorsing by die NG Kerkargief op Stellenbosch vir sy boek het hy ontdek daar was duisende evangeliste. Te veel vir een boek, daarom dat hy sy navorsing afgebaken het net tot die meer as 500 evangeliste wat vir die NG Kerk in die Kaapprovinsie gewerk het van die 1890’s tot 1994.

Dit was sy besef dat hulle stem te dikwels grootliks afwesig is in die vele boeke oor die geskiedenis van die kerk se groei in Suider-Afrika, wat die idee vir hierdie navorsing by hom geplant het.

“… a wealth of information was vanishing as most of the evangelists had already retired or died,” soos hy dit in sy boek stel.

Die boek kos R250 en word uitgegee deur Clairvaux Writer’s House op Wellington. Bestellings kan per e-pos by NG Kerk Argief gemaak word: Argief@kaapkerk.co.za. Koste: R250 plus posgeld(afhangend van adres).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top