Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Na al die berigte en uitsendings wat gevolg het op die dood van koningin Elizabeth II is die meeste van ons nou móég begrafnis gekyk. Maar miskien is dit tog goed dat ons nog ’n bietjie praat oor wat haar geloof vir ons beteken.
Amptelik is die Britse monarg die hoof van die Anglikaanse kerk en Defender of the Faith. Dit beteken egter nie dat sy of hy noodwendig ook ’n toegewyde Christen sal wees nie. Die Britse koningshuis se geskiedenis is een van ’n komplekse verhouding met die kerk en geloof. Van Elizabeth II was dit egter waar dat haar geloof eerstens persoonlik en daarna amptelik was.
Dié van ons wat die Netflix-reeks The Crown gevolg het, onthou hoe sy met haar kroning daarop aangedring het dat die ritueel waar sy as koningin gesalf word, nie op TV uitgesaai mag word nie. Vir haar was dit ’n heilige oomblik tussen haarself en God, nie iets vir openbare vertoon nie.
In die afgelope dae is daar dikwels oor haar geloof gepraat. Vir my is die belangrikste en deurlopende lyn dat sy haar werk as koningin eerstens gesien het as diens: diens aan die Britse volk en die Gemenebes van Nasies, diens aan die kroon, diens aan God. Met haar 90ste verjaarsdag in 2016 het ’n boekie hieroor verskyn: The servant Queen and the King she serves. Dit bestaan uit aanhalings uit haar eie toesprake en sy het die ongehoorde gedoen om self die voorwoord daarvoor te skryf.
Dat ’n monarg sy/haar werk eerstens as diens verstaan, is nie vanselfsprekend nie. Die prentjie wat ons uit die geskiedenis van koningshuise kry, is meestal een van entitlement: om die posisie met al sy voorregte as jou reg te sien. Mense wat oor die Queen skryf, vertel egter dat sy eerder vanuit ’n diep besef van plig gefunksioneer het, dat haar lewensmotto was om die plig wat met die posisie saamgaan, na te kom en diens te lewer. En om dit te doen met menslikheid en nederigheid.
Die hele ding van ’n koning(in) en die eerbetoon wat aan ’n persoon gegee word, sal altyd vir my vreemd bly. Dat iemand so ’n posisie van bevoorregting, eerbetoon en rykdom kan erf sonder enige prestasie, spreek van ’n era wat verby is.
Maar, ek dink ons kan tog van haar leer. Diens en plig is nou nie juis idees wat in ons tyd hoog op die agenda van die meeste mense is nie. Ons leef in ’n tyd waarin dinge soos persoonlike geluk, selfverwesenliking en vryheid eerder mense se hoogste waardes is. Die Bybel leer ons egter dat ons lewensroeping in die eerste plek nie oor onsself en ons eie geluk gaan nie, maar oor diens aan God en medemens. En sal dit nie wonderlik wees as mense op jou 90ste verjaarsdag ook praat van jou diensbaarheid en van die Koning wat jy jou lewe lank gedien het nie?
Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.
