Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Tydens ’n mannekamp tussen die sandduine van die Suid-Arabiese Rub al Khali-woestyn het “honderde pennies oor gebed ge‘drop’,” skryf Laurie Naudé, na aanleiding van ’n opmerking van dr Deon Bester, van die Dubai Afrikaanse Gemeente.
Volgens Bester sal die jaar 2022 in die ‘Sandland’ onthou word as “’n tyd wat daar iets baie besonders in die Midde-Ooste gebeur het”. Die Dubai Afrikaanse Gemeente (wat bestaan uit Dubai en Abu Dhabi) het ’n mannekamp aangebied waar hulle wou fokus op gebed, maar op ’n heel “ander” manier.
Dr Deon Bester (leraar van die Dubai Afrikaanse Gemeente) was bewus dat ek all vir bykans 25 jaar besig is met studie en navorsing oor die Ou-Testamentiese feeste en veral dan ook die geskiedenis van die tabernakel – en spesifiek hoe die elemente van die tabernakel gebruik kan word vir gebedsriglyne – met die vervulling in Christus.
Hy het kontak gemaak en wou weet of die gemeentes daar in die Sandland hierin begelei kon word.
Vanuit Eksodus 25 tot 40 en Hebreërs 9 tot 11, is die manne van die Sandland per e-pos en telefonies leiding gegee rondom die bou van hulle eie tabernakel. Bester en sy span (met regterhand, JJ Trigaardt), het gesamentlik bykans vyf ton voorraad na die woestyn vervoer om daar ’n replika van die tabernakel op te rig.
Hierna het ek uit Suid-Afrika by hulle aangesluit. Nadat die laaste afrondings van die tabernakel klaar was, is die manne op die Gebedsmannekamp deur die verskilende elemente van die tabernakel begelei.
Ek het al talle kere die voorreg gehad om die tabernakel-gebedsmodel aangebied, hetsy met gebedseminare, Pinksterreekse, Week van Gebed-geleenthede of daggeleenthede. Tydens hierdie geleenthede is mense aangemoedig om hulle te verplaas in ’n “ander dimensie van denke” asof hulle in die woestyn oor ’n duin aangestap kom en ewe skielik hierdie grootse struktuur van die tabernakel voor hulle sien, met die menigte tente van die Israeliete daar rondom (wat dan die teenwoordigheid van God uitbeeld – volgens Eksodus 25:8 “… dat Ek tussen hulle kan woon”).
Hier in die Rub al Khali woestyn (wat ‘leë kwartier’ in Afrikaans beteken) met die replika van die tabernakel, was dit skielik nie meer nodig, om jou in “’n ander dimensie van denke” te verplaas nie, want daar in die woestyn, kon jy dit sien en ervaar.
Bester het agterna gesê: “Honderde pennies van gebed, het daar in Rub al Khali woestyn tydens die tabernakel-kamp, vir die manne gedrop”.
Ek en my vrou Elmaré het, nadat ek ook eredienste in Dubai en Abu Dhabi gelei het, verryk van hierdie geleentheid uit die Sandland teruggekom.
Ten slotte, het Bester se terugvoer ook ’n versoek ingesluit dat ons vir hulle aanhou bid in daardie Moslemwêreld. Dit bly ’n avontuur met baie uitdagings.
Ds Laurie Naudé is leraar van die NG gemeente Meyerhof op Bothaville. Kontak hom by 082 378 2322 of e-pos laurienaude@gmail.com.
