Die Christelike Maatskaplike Raad in die noordelike provinsies het hulle kinderbeskermingstatus terug ná uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria.
Dr Ronel Aylward, die hoofbestuurder van CMR-Noord, het aan Kerkbode verduidelik dat die uitspraak beteken dat CMR-Noord se maatskaplike werkers weer statutêre werk mag doen, wat hoofsaaklik te doen het met optrede in gevalle van kinderverwaarlosing en kinderbeskerming.
CMR-Noord het die tyding op die laaste dag van Noordelike Sinode se 22ste streeksvergadering ontvang en met afgevaardigdes gedeel.
Ds Danie Janse van Rensburg, die voorsitter van die organisasie se beheerraad, was emosioneel. “Ons is verheug! Dit is reg en geregtigheid vir families,” sê hy.
Janse van Rensburg het vandeesweek by die streeksinodesitting aan die vergadering terugvoer gegee oor die stormagtige jaar waardeur die organisasie is. Die departement van maatskaplike dienste het tevore CMR-Noord se registrasie as ’n kinderbeskermingsorganisasie opgeskort te midde van bewerings van ernstige wangedrag.
Regter Anthony Millar het die opskorting Donderdag (20 Oktober) in die hooggeregshof in Pretoria tersyde gestel, het Netwerk24 berig, en gelas dat die departement ook CMR-Noord se hofkoste moet betaal.
