Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Met net ’n kaart, GPS en ’n kompas (en ’n kopliggie vir die nag) moet elke deelnemer aan die K-Way SkyRun, wat einde November plaasgevind het, vir 100 km sy eie pad vind oor die bergspitse op die grens van Lesotho en die Oos-Kaap. Foto: Pure Adventures, fotograaf Craig Kolesky

SkyRun met ’n doel: Lidmaat van Pretoria hol 100 km om geld vir gemeente in te samel

’n Fikse lidmaat van die Familiekerk NG Kameeldrif in die noordooste van Pretoria het ’n uitmergelende veldwedloop in die Witteberge in die Oos-Kaap ten bate van ’n spesiale gemeentefonds voltooi.

Om so naby aan die skepping te beweeg, was deel van Francois Liebenberg (45) se motivering vir die buitengewone fondsinsamelingprojek, verduidelik hy ná vanjaar se K-Way SkyRun, wat einde November plaasgevind het.

Francois het vir die gemeente se bedieningsfonds gehardloop, volgens dr Roelf Opperman, die gemeenteleraar. “Ons steek ons hande uit na die gemeenskap om ons,” verduidelik hy.

’n Liefde vir die buitelewe is in die DNS van al die Liebenbergs. Hy, sy vrou Maxie, en hulle twee tieners, Gustav en Latika, stap, kamp en roei gereeld. September het Maxie saam met hom ’n 50 km-wedloop in die Drakensberge gedoen.

Ondanks Francois Liebenberg se aktiewe lewe, verg die SkyRun toewyding, dissipline en opoffering. “Sonder ’n mens se familie se ondersteuning en ook opoffering is dit nie moontlik nie,” sê Francois. Foto: Verskaf

Dit is nie die eerste keer wat Francois sy kuite inspan om geld in te samel nie. Hy het ook so twee jaar terug op hierdie manier vir ’n skool fondse ingesamel.

Terwyl baie SkyRun-deelnemers nie die eindstreep haal nie, het Francois 40ste klaargemaak uit die 102 wat hierdie een (19-20 November) kon deursien.

Daar word net 200 deelnemers toegelaat.

Die gehardloop het vir hom ’n geestelike komponent: “Ek glo God het die tyd vir ons op aarde gegee om absoluut die meeste daaruit te kry, die meeste ondervindinge te kan beleef, jouself te ‘push’ tot daar waar jy nie meer kan nie. As jy verveeld raak is daar fout, daar is net te veel voorregte en geleenthede, moenie jouself parkeer in die garage want dit is veilig en maklik nie, gaan uit vir die ‘joyride’ en gebruik jou tyd ten volle,” vertel Francois.

Op elke hardloper se rug is ’n rugsakkie met net genoeg kos om die volgende 30 uur, meer as ’n volle dag en nag, te oorleef. Snags kan die temperature tot onder vriespunt daal. Foto: Pure Adventures, fotograaf Craig Kolesky.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top