#Tydvirtafels is ’n inisiatief wat alle lidmate en gemeentes uitnooi om op of naby 16 Desember met ’n boerierol of ’n bord pap, wors en sheba (tamatiesmoor) gestalte te gee aan versoening tussen mense.
“’n Mens hoef nie weg te stap as beste vriende nie, maar op hierdie manier is Versoeningsdag ’n geleentheid vir mense om nader aan mekaar te beweeg.”
Só sê ds Rudi Swanepoel, verbonde aan die NG Kerk se Taakspan Anti-Rassisme, Geregtigheid en Versoening (Voorheen Taakspan Identiteit en Versoening), oor hierdie inisiatief wat volgens hom sy oorsprong het in die jarelange vriendskap tussen hom en ds Ivor Swartz, jeugleraar van die NG gemeente Oosterlig in Pretoria.
“Die tafel is daai simbool wat beteken dat ek en jy op gelyke vlak is, dat ons een is,” vertel Swartz vir joernalis Lizelle de Bruin tydens ’n radio-opname vir haar Christelike joernaalprogram op RSG.
Swanepoel verduidelik die idee is om dinge eenvoudig te hou. “Jy’t geen fieterjasies nodig nie … hou ’n eenvoudige ete by jou huis of in jou buurt of by jou kerk waarheen jy ’n verskeidenheid van mense nooi … dit sal amazing wees as dit oor ’n grens kan plaasvind,” vertel hy by navraag vir Kerkbode.
Dit hoef ook nie baie mense te wees nie. “Daar kan tien wees, selfs net sewe of agt … ek weet van ’n gemeente wat reeds bevestig het dat hulle 20 mense bymekaar kry in daardie week.
Dit hoef ook nie op 16 Desember Versoeningsdag te gebeur nie. “Ons besef dat dit vir mense moeilik kan wees om dit op die 16de Desember dit te doen omdat dit vakansietyd is … daarom het ons gesê dit kan ook wees in die week voor dit.
“Die belangrike ding is dat mense die hutsmerk #tydvirtafels of #timefortables moet gebruik. Ons voorsien ook dat dit ’n langer projek gaan word. Die hutsmerk kan op enige tyd gebruik word wanneer daar ’n verskeidenheid van mense bymekaar is,” brei hy uit.
Laastens: hou dinge eenvoudig, want dit is belangriker om IETS te doen.
#versoeningsmaand
#tydvirtafels
- Ds Rudi Swanepoel is leraar van die multikulturele Andrew Murray-gemeente in Johannesburg.
