As deel van die #TydVirTafels-inisiatief om rondom ’n etenstafel gestalte te gee aan Versoeningsdag, het ’n paar NG gemeentes en ander kerke in Gqeberha (Port Elizabeth) besluit om ’n ektra-lang tafel te dek in ’n besige inkopiesentrum. Willem Wiid vertel meer.
16 Desember is nie net Versoeningsdag nie, dit is ook deel van die #TydVirTafels-inisiatief in ons verdeelde land. ’n Paar kollegas hier in Gqeberha (Port Elizabeth) het besluit om hierdie kans aan te gryp en iets spesiaals vir ons stad te reël.
Lees ook: #TydVirTafels: Iets vir jou gemeente? Versoen om ‘n etenstafel
’n Tafel skep ’n wonderlike ruimte vir saam-wees, stories vertel en ’n gedeelde lewe. Hierdie tafel wou ons egter nie in ’n privaat saal wegsteek nie – dit moes in ’n openbare ruimte wees sodat ander hierdie unieke lang tafel kon sien waar mense van verskillende kulture saamkuier.
Op Versoeningsdag het 22 van ons in die publieke eetruimte van Baywest Mall tafels teen mekaar geskuif om een ekstra-lang tafel te vorm tussen die baie ander wat ook daar gesit en iets gehap het terwyl die malende massas inkopies gedoen het. Die tafel was gedek met ’n kleurvolle bont tafeldoek met Afrika-patrone, en gelaai met focaccias en pizzas en koeldranke.

Hier was genoeg ruimte vir almal van ons uit verskillende kulture – swart, wit en bruin – om ons stories met mekaar te deel. Dit was ’n feestelike viering van ons diverse ervarings en bydraes van ons gedeelde lewe.
Een van ons tafelgenote deel sy ervaring van die geleentheid wat dit vir baie van ons opsom: “Ek moet erken, vir my was dit ietwat buite my gemaksone maar met verloop van tyd en die interaksie met my medemens (ander kulturele agtergronde) het ek bewus geword van ander se probleme, tekortkominge, verwagtinge en drome. Alhoewel ons kultureel, in voorkoms en in velkleur verskil, is ons tog maar net mens, mense met verskillende behoeftes en verwagtinge. Ek kan nog baie sê, maar ons almal het God nodig. Baie dankie vir so ’n God-gegewe geleentheid. Ek het nou stof tot nadenke.”
Op Versoeningsdag was hierdie lang tafel ’n geleentheid om ons eenheid te konsolideer, nuwe verhoudings te koester en ’n pragtige toekoms vir een gedeelde nasie saam te skep – ’n gepaste dag vir ’n lang tafel. Mag tafels op hierdie manier vermenigvuldig in ons land. Dit is inderdaad #TydVirTafels.
- Dr Willem Wiid is ’n emeritusleraar in Gqeberha.
- Stuur gerus ’n kort beskrywing en foto’s van wat jou gemeente vir #TydVirTafels gedoen het na kerkbode@tydskrifte.co.za
